Luister weer na prettige radioverwerking van gewilde verhoogstuk, Laerskool Noord


Die eerste radioteaterseisoen van 2023 word op 29 Junie afgesluit met die radioverwerking van Ilne Fourie se Laerskool Noord.

Die storie
Drie onderwyseresse beplan ‘n verrassingsafskeidspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede. Met die netbaljuffrou, Zelda de Wet, se vreesaanjaende fluitjie, Bets du Preez se chaotiese administrasie en die vredemaker Marietjie(tjie)  wat as die taalsuiweraar optree, is die kantoor ‘n tikkende tydbom.

Die drie juffrouens van Laerskool Noord hoop al drie op die hoofskap en kruip so bietjie daarvoor. En hulle wag vir Mnr van der Watt om aan te kondig wie hom dan nou gaan opvolg.

Die akteurs
Die bekroonde skrywer van Laerskool Noord, Ilne Fourie,  het nie net ‘n uitmuntende aanvoeling vir skryf nie, maar speel ook in die meesterklas van komiese tydsberekening saam met Marion Holm en Margite Meyer-Rodenbeck.

Die gesoute akteurs Neels Coetzee en Albert Maritz vul die geselskap aan.

Slim woordspelings, fyn spot en guitige suggestive maak van dié produksie  vrolike, prettige luistergenot. Dit is wel nie vir sensitiewes nie!

Die regisseur
Die regisseur, Johan Rademan, sê “ Kyk, dit is hemels om met so ‘n span in die ateljee te werk. Neels Coetzee het hom oor die jare as n uitstaande verhoogakteur onderskei, maar is eweneens briljant met sy tydsberekening by die mikrofoon. Marion Holm se eenpersoonsvertonings is vol patos en deernis wat met humor oorgedra word en Margit Meyer-Rodenbeck stap weg van satirikus Dowwe Dolla af in ‘n puik weergawe van n ongeraffineerde netbalonderwyser.

Albert Maritz het agter die skerms uitgeblink met die byklanke en sy kortstondige optrede as Sarel rond die produksie netjies af.  Dis ‘n gepaste manier om ‘n suksesvolle dramaseisoen op RSG af te sluit en beslis ‘n verhoogteks wat net so tuis as radioteater kan funksioneer.”

Die produksie is aanvanklik geskep in samewerking met Vrystaat Kunstefees. Aardklop en NATi  en vir die radio aangepas deur Ilne Fourie.

Margit Meyer-Rodenbeck, Ilne Fourie en Marion Holm

Albert Maritz en Neels Coetzee

Video: Die drie juffrouens wag in spanning op wie die nuwe skoolhoof van Laerskool Noord gaan wees. Albert Maritz (byklanke) Margit Meyer-Rodenbeck, Marion Holm en Ilne Fourie( skrywer en aktrise) is in die ateljee.