Radiodramas Herfs 2018


‘n Klassieke werk deur die Noorweegse dramaturg Henrik Ibsen met Cobus Rossouw en Sandra Kotzé in die rolverdeling tot ‘n splinternuwe wetenskapsfiksie-radiodrama uit die pen van Schalk Schoombie is by RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2018 ingesluit.

Die seisoen – wat van April tot Junie duur – het begin met die wenners van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2018.

30 Maart: Quintin Roy en die Paashaas
Op Goeie Vrydag – die week tevore – kan Helena Hugo se moderne Paasdrama, Quintin Roy en die Paashaas, gehoor word.

Quintin Roy (vertolk deur Johny Klein) is ‘n jong akteur wat die rol van die paashaas in winkelsentrums verkoop, sjokolade-eiers uitdeel en sodoende ‘n ekstra paar rand verdien. Tot hy teen die afgetrede dominee Broderick (Francois Stemmet) te staan kom… Die ander spelers sluit in Gigi Strydom, Bertha le Roux-Wahl, Merlin Balie, Elma Potgieter en Bronwyn van Graan.

Bertha le Roux-Wahl

Quintin Roy en die Paashaas is op Donderdag 30 Maart om 13:00 uitgesaai en weer die aand om 19:00 herhaal.

5 April: Oorlewing – C-blok
Erica Harris se Oorlewing – C-Blok is met die prys vir beste Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) bekroon en word op Donderdag 5 April om 20:00 uitgesaai.

‘n Hawelose vrou blyk oor veel meer te beskik as haar winkeltrollie vol negosieware. Haar ryke lewenservaring het ‘n blywende en ingrypende invloed op twee jongmense wie se lewens skynbaar nie volgens plan verloop nie.

Die spelers is Kaz McFadden, Mandi Baard, Franci Swanepoel en Richard van der Westhuizen met Renske Jacobs as die regisseur.

Lees en luister meer.

12 April: Springgety

Sophia van Taak

Die tydskrifjoernalis en TV-aanbieder Sophia van Taak se Springgety, is deur Ronél Geldenhuys in Kaapstad opgevoer. Die drama het die derde plek behaal in verlede jaar se radiodrama-skryfkompetisie.

‘n Talentvolle haikoedigter en kopieskrywer wat sukkel met depressiewe gedagtes besluit sy het genoeg gehad van die lewe. Sy hou egter nie rekening met haar nuwe buurman en sy sagte hart nie…

Wanneer Lena Dreyer leer om die lewe te aanvaar vir wat dit is, vind sy haarself weer op die pad van hoop en nuwe vriendskappe. Maar, die lewe het egter ander planne met haar; net wanneer sy die sonkant van die lewe omarm en haar digbundel bekend gestel word, beleef sy egter die grootste toets vir haar nuwe lewensuitkyk.

Die radiodrama kyk na die stryd wat dit verg om aan depressie ly, asook die soektog na heling deur vriendskappe, kreatiwiteit en berading.

Met depressie en selfdood as temas word Springgety nie aanbeveel vir die sensitiewe luisteraars nie en bevat taalgebruik wat mag aanstoot gee.

Die spelers is Rolanda Marais, Roeline Daneel, Wessel Pretorius, Cintaine Schutte, Daneel van der Walt, Joanie Combrink en Susanne Beyers. Die regisseur is Ronél Geldenhuys.

Die beoordelaars het die radiodrama onder andere geloof vir die “roerende gedigte” wat dit bevat en gesê dit “is ‘n uitdagende teks wat op ‘n sekere vlak die tragiese lewe van die digteres Ingrid Jonker eggo”.

Sophia van Taak van Kaapstad het al by verskeie publikasies gewerk, maar is die afgelope vyf of wat jaar ‘n joernalis by die reistydskrif Weg! en mede-aanbieder van die TV-program Agterpaaie. Sy is ook ‘n bekroonde rubriekskrywer.

Die Springgety-span is kloksgewys van bo: Wessel Pretorius, Ronèl Geldenhuys (regisseur) Cintaine Schutte, Juanita Swanepoel, Susanne Beyers, Rolanda Marais, Roeline Daneel, Daneel Van der Walt, Cassi Lowers (tegniese en akoestiese versorging) en Joanie Combrink.