Nuwe middagvervolgverhaal begin Woensdag: ‘Die Sprinkaanbeampte van Sluis’


Ons nuwe middagvervolgverhaal van 29 Mei elke weeksmiddag te hoor. Die Sprinkaanbeampte van Sluis is geskryf deur Jochem van Bruggen en keurig verwerk deur Eben Cruywagen. Eben vertel meer oor Die Sprinkaanbeampte van Sluis.

Keuse van die verhaal

Met die opdrag om ’n kort vervolgverhaal van twintig episodes te skryf, is die eerste voor-die-hand-liggende vraag – waaroor om te skryf ten einde die opdrag ten beste te dien, veral in die lig van die feit dat verskeie RSG-programme waarskynlik oor die een of ander faset van die ontstaan en geskiedenis van Afrikaans en sy wyd uiteenlopende rolspelers sal handel, gepaard met sporadiese verwysings na die verklaring van die amptelike status van die taal op 8 Mei 1925.

Uiteindelik het ek om twee redes op die werk van Jochem van Bruggen besluit: In die eerste plek het hy as twaalfjarige immigrant saam met sy ma, broer en susters op Nuwejaarsdag 1893 uit Nederland in die Kaap aangekom, nadat sy pa vooruit vertrek het om voor hulle aankoms reeds vir sy gesin blyplek in die vreemde te kry. Jochem van Bruggen was dus ’n lid van een van die belangrikste taalgroepe waaraan Afrikaans sy ontstaan te danke gehad het.

In die tweede plek was hy die eerste ontvanger van die Hertzogprys vir prosa in 1917 vir sy roman, Teleurgestel. Met die tema van die Tweede Vryheidsoorlog, al was dit die eerste Afrikaanse prosa waaraan dié gesogte prys toegeken is, het ek gevoel dit mag miskien die aandag aflei van die viering van Afrikaans as sodanig. Omdat RSG reeds in die onlangse verlede ’n verwerking van die Ampie-Trilogie as ’n middagvervolgverhaal uitgesaai het, was die enigste oorblywende Hertzogprys-toekenning aan Van Bruggen, Die Sprinkaanbeampte van Sluis.

Geografiese milieu

Eweneens bly die geografiese- sowel as die chronografiese milieu heel dikwels onbekend. Uit die gegewe van Die Sprinkaanbeampte van Sluis kan bepaalde afleidings gemaak word: Sou die titel as aanduiding van geografiese milieu aanvaar word, speel die verhaal af op die plaas, Sluis, wat oorspronklik onder bestuur van die Magaliesberg Plaaslike Area Komitee, later die Magaliesburg Landelike Raad en voor 1994 onder beheer van die Krugersdorp Landelike Raad was. Vandag is Sluis deel van die Mogalestad Plaaslike Munisipaliteit (aan die westekant van die huidige Krugersdorp).

Chronografiese milieu

Wat die chronografiese milieu betref, is die beskrywing op bl. 27 van belang: “Dis agteruitgang deur teëspoed op teëspoed in die boerdery, misoes, geen mark nie, sprinkane, grondbelasting, skuld en uiteindelik die boedel na sy vrou se dood. Hy moes sy grond verkoop, sy beeste, sy wa, sy perd.” Hierdie beskrywing is tekenend van die ekonomiese insinking weens die Groot Depressie van 1929-1933. Daar was ’n afswaai in die internasionale vraag na voedsel wat landbou in Suid-Afrika gestrem het omdat die prys van mielies, vleis en ander landbouprodukte gedaal het. Die opbrengs uit landbou-uitvoere het getuimel.

Boonop het ’n ernstige droogte in 1932 en 1933, sprinkaanplae en veesiektes die situasie vererger. Boere is gedwing om hulle plase te verlaat of hulle grond vir ’n appel en ’n ei van die hand te sit. (Bredenhand het sý plaas teen die helfte van die markwaarde aan sy swaer, Louis du Toit, verkoop.) Hieruit kan dus afgelei word dat die verhaal tydens die depressiejare afspeel, waarskynlik in 1932, veral gesien in die lig van die feit dat die boek in 1933 uitgegee is.

Rolverdeling

Die regie staan onder leiding van Johan Rademan. Die produksie is in Kaapstad opgeneem met Cassi Lowers as akoestiese versorger.

Vir hierdie historiese verhaal is ‘n diverse rolverdeling na die mikrofoon geroep met bekendes soos Susanne Beyers, Johann Nel, Roelien Daneel, Anrich Herbst, Pieter van Zyl, André Sameuls, Karli Heine, Richard van der Westhuizen, Elsabe Daneel en Wilhelm van der Walt.

Dit is opwindend om ook jong gevestigde en ook nuwe stemme te hoor soos Stefan Vermaak, André Terblanche, Margo Kotze, Conradie van Heerden, Miche van Wyk en Mar-li van der Merwe. Die vervolgverhaal spog ook met twee jong spelers, Sura Lottering en Kristian Herbst wat sommer in hulle skoolklere kom opneem het.

Agter van links na regs: Johan Rademan, Stefan Vermaak, Roelien Daneel, Anrich Herbst, Kristian Herbst, Andre Terblanche. Middel: Mar-li van der Merwe,  Susanne Beyers en Miché van Wyk. Voor: Sura Lottering en Conradie van Heerden.

Anrich Herbst(Gert) en Andre Terblanche(Lammie)

André Terblanche, Stefan Vermaak en Margo Kotze