Radiodramas Okt – Des 2017


Dramas wat reeds dié seisoen uitgesaai is

RSG se tweede Radioteater-seisoen vir 2017 begin PG du Plessis se Plaston: DNS-kind, wat in 1973 met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon is.

Donderdag 5 Oktober: Plaston: DNS-kind deur PG du Plessis

Hierdie bekroonde drama handel oor wetenskaplike eksperimente waarin mense kunsmatig voortgebring en in die samelewing geïntegreer word.

Plaston (Grieks vir ‘hy wat gemaak is’) is ‘n 19-jarige, beeldskone jong man wat kunsmatig deur wetenskaplikes geskep is. Hy kom op die afgeleë dorpie Aardendal aan waar hy in die gemeenskap geïntegreer word en terselfdertyd fyn dopgehou word.

Op Aardendal ontmoet Plaston vir die eerste keer ander mense, soos die dorpsidioot, die mooi jong meisie Kotie en die predikant Genopen.

Plaston is ’n wese in wie daar geen kwaad is nie, maar wat juis ’n diep begeerte het om mens te word, pyn en liefde te ervaar en probeer om bo sy programmatiese self uit te styg. ‘n Professor en sy personeel hou elke beweging wat hy maak fyn dop en luister na elke woord wat hy sê. Hulle raak onthuts wanneer Plaston afwyk van sy programmatiese beheer en sy nuutgevonde vryheid besef en begin geniet.

Die spelers is Marcel van Heerden, Richard van der Westhuizen, Rina Nienaber, Lochner de Kock, Hennie Oosthuizen, Gert van Tonder, Kosie Eloff, Johannes Slabbert, Riana Wilkens, Emgee Pretorius (foto regs) en Johan van der Merwe.

Die regisseur is Robert Young. Young het ‘n Artes as beste regisseur vir hierdie radio-produksie ontvang. Plaston: DNS-kind is in Oktober 1993 vir die eerste keer op radio uitgesaai.

Die uitsending van Plaston: DNS-kind word voorafgegaan deur ‘n gesprek tussen Young en wyle prof. Louw Odendaal oor die temas in die drama, asook hoe die verhoogteks vir die radio verwerk is. Daar word ook gesels oor hoe dié drama verskil van PG se ander nou reeds klassieke dramas.

Plaston: DNS-kind is in 1973 met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon.

Donderdag 12 Oktober: Mymeringe van ‘n ou man deur Dolf van Niekerk

Dolf van Niekerk (foto regs) se splinternuwe radiodrama, Mymeringe van ‘n ou man word op 12 Oktober uitgesaai. Dit volg op verlede jaar se Reisiger na Kimberley, wat ook deur RSG uitgesaai is. Mymeringe… is ‘n epiese werk wat oor dekades heen afspeel en die verskeie aspekte van ‘n man se lewes en liefdes kyk.

Die 88-jarige Johan gesels met sy versorger, Dalene, en mymer: “Ek het altyd gedink die lewe is ‘n wonder en die dood ‘n misterie. Nou dink ek dis andersom. Die lewe is ‘n misterie, die dood ‘n wonder. En hier is ek nog…”

In hierdie drama leer ken ons Johan as kind, later student en nou as bejaarde man wat so tussendeur sy lewe en liefdes ‘n sinvolle legkaart van al sy mymeringe probeer maak.

Die regisseur is Christelle Webb-Joubert. Sy skryf:

”As regisseur is mens maar so effe senuweeagtig as jy opdrag kry dat jou volgende drama die van Dolf van Niekerk is. Nie net is hy ‘n veteraan skrywer nie, maar dis ook waar sy loopbaan as skrywer begin het – by die radio.

Ek het ‘n afspraak met hom gemaak om te gesels oor die titel en van die karakters, en wat ‘n fees was dit nie om die nederige, dierbare en talentvolle man te ontmoet.

Ek kon die volgende onderhoud opneem en sodoende hom nog beter leer ken. Die onderhoud word ook op Woensdag 11 Oktober in Skrywers en Boeke uitgesaai om 20h00.

(Skrywers en Boeke 11 Oktober: Corina van der Spoel gesels met die skrywer Fanie de Villiers, beter bekend as Kleinboer, oor sy nuwe roman HIERDIE HUIS. Christelle Webb-Joubert gesels met die skrywer Dolf van Niekerk oor sy skryfwerk. (Dolf se jongste radiodrama, MYMERINGE VAN ‘N OU MAN, word op 12 Oktober in Radioteater uitgesaai.) Johan Myburg gesels oor die Nobelprys wat verlede week toegeken is, en ‘n nuwe bundel uit die pen van wyle Leonard Cohen.

Soos jy kan aflei uit die titel handel dit oor ‘n ou man wat telkens terugdink aan sy lewe. Die hoofkarakter Johan word dus gehoor as ou man, ‘n jonger man en ook as seuntjie. Daarvoor het ek drie akteurs nodig gehad.

Francois Stemmet word gehoor as die ou man en Eswe Bruwer as die jonger Johan. Eswe word ook dikwels gehoor in Ratels op RSG. My grootste uitdaging was egter om ‘n seuntjie te kry aangesien ons geen jong seuns akteurs op ons boeke het nie. Ek het ‘n oudisie gedoen en op die talent van Philipp du Plessis afgekom. Dis sy heel eerste keer wat hy vir die radio gespeel het en ek hoop dit sal ookander deure vir hom oopmaak.

Nog een van die Ratel akteurs is Arno Horn. Nes Eswe ook nog ‘n leerder op skool, maar beslis ‘n aanwins vir radioteater.

Rian Terblanche is ook ‘n nuweling, en het sy vuurdoop met vleuende vaandels geslaag.

Dit was wonderlik om weer saam met Ilse Klink, Donovan Pietersen, Nina Marais, Anrich Herbst en Richard van der Westhuizen te werk. Almal akteurs saam met wie ek al voorheen gewerk het in onderskeie radiodramas en vervolgverhale vir RSG.

Cindy Swanepoel is nie onbekend aan ons luisteraars nie . . sy word weeksdae gehoor as Beverley in Hartebreker. Dit was egter ook die eerste keer wat ek saam met haar gewerk het.

Luister gerus na die uittreksel en onthou dan om 12 Oktober om 20h00 in te skakel vir Mymeringe van ‘n ou man deur Dolf van Niekerk.”

UITTREKSEL:

Luister na die volledige drama:

Donderdag 19 Oktober: Die mooi meisies van Bitterfontein deur Perdita van Dijk du Bois (foto regs)

’n Middeljarige vrou keer na jare terug na haar geboorteplaas en vind spoedig uit dat die geskiedenis nie net herhaal word nie, maar dat die man met wie sy getroud is, nie veel verskil van haar veragtelike stiefpa nie.
Die mooi meisies van Bitterfontein is Perdita van Dijk du Bois se derde hoorspel en word op Donderdag 19 Oktober om 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai. Die regisseur is Margot Luyt.
Christina du Toit is ‘n deernisvolle boervrou, terselfdertyd sterk én broos. Terwyl sy nog met haar verlede worstel, stry sy en haar man, Jacques, oor die mense vir wie sy werklik omgee. Jacques is arrogant en ‘n rokjagter en boonop jaloers op sy vrou.

Die mooi meisies van Bitterfontein is die verhaal van ‘n groep vroue van die plaas, Bitterfontein. Die skrywer hanteer die probleme waarmee so ‘n geslote gemeenskap – wat afhanklik is van mekaar – worstel, met groot insig en geen sentiment nie.

Joanie Combrink

Die regisseur, Margot Luyt, het van die Kaap se beste spelers in die rolverdeling. Daar is June van Merch (foto links), Joanie Combrink, Stian Bam, Crystal-Donna Roberts en Ivan Abrahams.

Perdita van Dijk du Bois is ook bekend om die debuut-radiodrama, Wat sal die mense sê, wat deur RSG uitgesaai is en daarna vir ‘n ATKV Mediaveertjie benoem is as beste teks vir ‘n radioteater of –drama. Du Bois het al kortverhale geskryf waarvan een in Die melkweg het ‘n ster laat val gepubliseer is, asook ‘n kort gedig wat die Nuwe Kinderverseboek gehaal het. Sy was ook al ‘n finalis in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie.

Daarna het Du Bois se tweede radiodrama, Agter toe deure (met Elma Potgieter en Richard van der Westhuizen in die hoofrolle), opslae gemaak en is deur RSG-luisteraars as “innoverend, roerend en hartroerend” beskryf.

Donderdag 26 Oktober: Lotsbestemming deur SD Fourie

SD Fourie (foto regs) se Lotsbestemming is ‘n geskiedkundige liefdesverhaal.

Hierdie fiksionele blik op ‘n stukkie geskiedenis gaan die luisteraar diep roer.

Hierdie liefdesverhaal is losweg gegrond op die stranding van die HMS Teuton (foto) op 30 Augustus 1881 op die rotsriwwe van Quoin Point aan die Kaapse suidkus. Altesame 226 passasiers en bemanningslede het omgekom en net 36 mense het die ramp oorleef.

Die stoom- en seilskip was onder die bevel van ‘n aantreklike, ouer skeepskaptein, Kaptein Manning. Aan boord is daar ‘n baie jonger, beeldskone jong meisie, Elizabeth Ross. Die onvermydelike gebeur. Die twee raak verlief, maar met katastrofiese gevolge.

Fourie (bekend om die roman Die lanternswaaier wat op RSG voorgelees is) vertel hierdie storie uit die belewenis van die enigste vroulike oorlewende. Uit die 95 vroue en kinders op die skip was Lizzie Ross dus die enigste wat oorleef het.

Al is verhaal op werklike gebeure geskoei, is die karakters fiktief.

Die spelers is Anton Schmidt, Louise Eksteen, Christine Voorendyk, Anton Dekker (foto), Richard van der Westhuizen, Elma Potgieter en Christo Compion.
Die regisseur is Mari Snyman.

Ons tweede radiodramaseisoen strek van Oktober tot Desember. Radioteater word tot einde Desember elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Donderdag 2 November: DOP deur Retief Scholtz

‘n Radioverwerking van die veelbekroonde verhoogdrama oor Frank Venter, wat alleen in ‘n kroeg sit om sy verjaardag te vier. Frank is ‘n derdegenerasie spoorwegman.

Tim, die kroegman, is nuuskierig, maar ook ‘n klankbord vir Frank wat sukkel om sy hart uit te praat.

‘n Drama wat jou op verskeie vlakke aan die hart sal gryp.

Die storie
‘n Oud-Spoorwegwerker, Frank, en ‘n jong kroegman, Tim, neem jou saam in ‘n hartroerende ontbloting van hulle siele in ‘n kroeg waar brandewyn nie brieke het nie. Frank, wat afgetree is, vier sy skrikkelverjaarsdag, maar daar is min vreugde in die aand. Hy, sy pa en sy pa se pa was almal Spories wat uit die arm deel van die dorp gekom het. Frank se idiomatiese taalgebruik sorg vir komiese momente en lei ook tot verskeie voorvalle wanneer die generasiegaping aanvanklik ‘n kloof vorm tussen Frank en Tim.

Tim is amper 30 jaar jonger as Frank. Hy is as tiener Australië toe, en het weer terggekeer na sy hartland. Hartland kry ‘n dubbele betekenis, want beide se harte word oopgevlek voor mekaar en voor die luisteraar. Jou hart sal geroer word deur die newels van die aand. Frank en Tim se storie, gebind met musiek van Kerkorrel, sal jou diep ontroer. Pas op vir taalgebruik indien jy ‘n sensitiewe siel is.

Pyn en ongemak agter die skerms
Wilhelm van der Walt (Tim) wat saam met André Odendaal (Frank) op Donderdagaand 2 November om 20h00 in RSG se radiodrama, DOP deur Retief Scholtz, speel, moes deur baie ongemak en pyn werk.

Agt weke voor die opname het hy die oggend wakker geword met Bell se verlamming. Hy was aan die repiteer om Aardklop toe te gaan en moes maar deurdruk, want dit is sy brood en botter. Ná Aardklop moes hy die veeleisende tweemanstuk, DOP, aanpak. Wilhelm het nieteenstaande die ongemak, volgens RSG-regisseur, Johan Rademan, ‘n kragtoer gelewer. Soms moes hy sy lip vashou (sien foto’s onder, en verduideliking van Bells-verlamming) om die moegheid en lamgevoel teen te werk.

Die 2 akteurs, wat al bekroon is in die gelyknamige verhoogproduksie, moes die intieme ruimte van die drama-ateljee vining onder die knie kry. André Odendaal (oud-spoorwegmanrol), wat onlangs die rol van Bram Fisher moes oorklank vir ‘n internasionale film, het weereens uitstaande werk gelewer en vir Wilhelm (die kroegman) nie net tot kroegkunsies beperk nie.

Die span van in die Seepunt-ateljee in Kaapstad wat meegewerk het aan die aangrypende Radioteater, Dop due Retief Scholtz. Vlnr: Andre Odendaal (Frank), Cassi Lowers (akoestiese regisseur), Wilhelm van der Walt (Tim), Retief Scholtz (skrywer) en Johan Rademan (regisseur)

Andre Odendaal (Frank), Wilhelm van der Walt (Tim), Retief Scholtz (skrywer van DOP) en regisseur Johan Rademan.

In brandewyn is waarheid! Andre Odendaal (Frank), Johan Rademan (regisseur) en Wilhelm van der Walt (Tim) praat oor die grote van glase tydens die opname van Dop deur Retief Scholtz wat in die RSG-drama ateljee, in Kaapstad, opgevoer is.

Wilhelm moes soms sy lip vashou om nie vreemd te klink nie.

Hanglippie en al!

Met Bell se verlamming, is gesisgspiere aan een kant van die gesig tydelik verlam omdat die kopsenuwee wat hierdie spiere beheer, die Sewende kopsenuwee Nervus Facialis, onsteek en geswel is weens een of drukking op die senuwee. Dit is gewoonlik die gevolg van ‘n virus soos byvoorbeeld die herpesvirus wat waterpokkies kan veroorsaak of die Epstein Barr virus wat klierkoors kan veroorsaak. Die graad van verlamming kan verskil van mens tot mens. Die verlamming herstel in die meeste gevalle binne sowat 6 maande.

Die takke van Kraniale Senuwee VII pas byna soos die vingers van jou hand oor jou gesig en voorsien die vel en oppervlakkige spiere van jou voorkop, wang, bolip, ken en selfs deel van jou nek van senuwee-impulse. As dié senuwee nie goed werk nie, sal die een kant van jou gesig hang en nie beweeg soos dit behoort te beweeg nie.

 

Donderdag 9 November: Vergelding deur Susan Gaigher (foto regs)

Vergelding is propvol aksie en spanning is. Dis ‘n sielkundige riller propvol kinkels.

‘n Jong vrou herwin na ‘n motorongeluk haar bewussyn in ‘n vreemde, geslote vertrek. Sy is omring deur vier mense wat haar intens dophou. Dit raak mettertyd duidelik dat hulle almal op dieselfde raaiselagtige manier in die vertrek beland het.

Hoekom is hulle daar en hoekom is die staaldeur gesluit?

Wanneer iemand jou van jou kosbaarste besitting ontneem, per ongeluk of deur nalatigheid, en dit verander die res van jou lewe: wat doen jy? Vergewe jy of laat jy toe dat die boosheid in jou oorneem deur jou te wreek? Indien jy wraak kies, kan vergelding ooit regverdig word? Wat sou jy kies?

Susan Gaigher se naels-kou-radiodrama Vergelding debuteer op Donderdag 9 November om 20:00 in Radioteater op RSG. Vergelding is ‘n moderne, sielkundige riller propvol kinkels en ‘n verrassende einde.

Die spelers is Franci Swanepoel, Marina Coetzee, Donovan Petersen, Lochner de Kock en Anrich Herbst.
Vergelding is onder die spelleiding van Duncan Johnson in Johannesburg opgeneem.

Susan Gaigher, oorspronklik van Pretoria, het ‘n meestersgraad in digitale uitgewerswese van Tukkies en werk tans as ‘n vryskut in Kaapstad. Sy is ook die mede-stigter van eReads SA, ‘n maatskappy wat digitale uitgewersdienste verskaf.

Vergelding is haar debuut-radiodrama, hoewel twee van haar kortverhale – “Maslow” en “Martine se teepot” – verlede jaar in die versamelbundel Nuwe stemme 3 gepubliseer is.

Donderdag 16 November: My skuilplek die Kaapste strate deur Illona Edwards

Ilona Edwards (foto regs), ‘n prokureur by Regshulp Suid-Afrika, se My skuilplek die Kaapse strate neem die luisteraar deur die gevaarlike wêreld van bendes in Kaapstad en hoe dit ‘n jong seun se lewe byna verwoes.

‘n Jong seun loop weg van sy ouma se huis omdat sy ouer broer hom boelie. Hy het net van sy ma, wat in die tronk is, se kosbaarste besittinkies in sy sak by hom. Dan kom bendelede op hom af, gryp sy ma se besittings en lyf hom teen sy sin by hulle bende in. Hy word gedwing om deel te neem aan allerlei bendebedrywighede, totdat die noodlot een nag tydens ‘n diefstal toeslaan…

Tydens die dinamika wat volg, word Ryan deur ‘n inisiasie geneem wat hom laat terugverlang na sy veilige huis by sy ouma.

Illona Edwards se debuut-radiodrama, My skuilplek, die Kaapste strate, wys hoe jong mense soms gedwing word om by misdadige bedrywighede betrokke te raak, al probeer hulle hul bes om te ontsnap. Dit speel af in die strate van Kaapstad en gee die luisteraar ‘n unieke blik op die lewe van straatkinders wat deur bendes ingetrek word.

My skuilplek, die Kaapse strate word op Donderdag 16 November om 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai.

Die spelers is Cantona James, Charlton George, Simonè Benjamin, Chris Majiedt, Leandè Valentyn, Daneel van der Walt en Jarrid Geduld. RSG-luisteraars sal Cantona James se roerende vertolking in die produksie Padkaarte onthou. As deel van dié spesiale program het James ‘n monoloog uit Krismis van Map Jacobs gelewer.

Die skrywer Illona Edwards is ‘n prokureur by Regshulp Suid-Afrika. Van haar gedigte is ook al gepubliseer in Contrast, Versindaba 2006 asook Nuwe stemme 3. Haar radiodrama was ook een van die finaliste in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2016.

Die spelleiding is behartig deur Ronèl Geldenhuys en die tegniese en akoestiese versorging is gedoen deur Cassi Lowers.

 

 

Donderdag 23 November: Die Judasbok deur Dalene Matthee (foto links) (Kortverhaal vir die radio verwerk deur Anton Treurnich)

‘n Kortverhaal van Dalene Matthee, geliefde skrywer van romans soos Fiela se kind en Kringe in ’n bos, is vir die eerste keer vir die radio verwerk en kan op Donderdag, 23 November, om 20:00 op RSG in Radioteater gehoor word.

Dit is reeds bekend dat die karakters in Matthee se werk gekenmerk word deur ’n soeke na identiteit. En die verhouding tussen ras en identiteit en hoe herkoms, ras en omgewing daardie identiteit ten nouste raak.

Dean Balie (Foto: Jesse Kramer)

Die kortverhaal Die Judasbok wat deur Anton Treurnich vir RSG verwerk is, handel oor ʼn jong bruin man, Karel Philander (nou ‘n prokureur in Johannesburg) wat in die jare tagtig verlief raak op ’n wit onderwyseres, die Engelse Lilian Stewart. Weens die apartheidswetgewing, is hulle verhouding nie net gedoem nie, dit is selfs onwettig en dus strafbaar. Die paartjie beplan om hulle in Londen te gaan vestig, maar eers wil die jongman sy ma, Bet, ’n kombuishulp op die plaas Wolwedans in die Klein-Karoo, gaan groet. Die afskeid lei daartoe dat ‘n rou wond oopgekrap word en die vredeliewende Bet gedwing word om haar geloof in ‘God is Liefde’ te beproef.

June van Merch

Die regisseur Eben Cruywagen sê die kern van die vraagstuk in dié radiodrama was vir hom: Moet Ma Bet se vrede en geloof in haar medemens bewaar word? Moet sy in haar onskuld die verhouding met haar geliefde Mies Hettie en Baas Piet behou, of moet sy die koue werklikheid van die onreg van apartheid ontdek? Is dit haar reg om die waarheid te ontdek, of is dit vir haar menswees en haar kinderlike geloof in God beter om ongesteurd met haar lewe op die plaas Wolwedans voort te gaan? Hoe die klimaks benader word t.o.v. vertolking en inkleding, is dus van kritieke belang.

Die Judasbok bevat taalgebruik en temas wat sensitiewe luisteraars mag aanstoot gee.

June van Merch kan as Bet gehoor word, terwyl Susanne Beyers Mies Hettie is. Dean Balie is die jong Karel en Daneel van der Walt vertolk die rol van Lillian.

Anton Treurnich

Die Judasbok is met die toestemming van Human & Rousseau vir die radio verwerk.

Die regisseur is Eben Cruywagen.

Donderdag 7 Desember: Akwarius deur Marion Erskine

Marion Erskine (foto links) se volbloedriller, Akwarius, debuteer op Donderdag 7 Desember om 20:00 in Radioteater op RSG. Erskine is bekend om radiodramas soos Siembamba en Hashtag hasepad, asook sy roman Vlerke vir almal wat vroeër vanjaar gepubliseer is.

Volgens die regisseur Bettie Kemp sal Akwarius die luisteraars onwillekeurig aan Suid-Afrika se baasspeurder, kaptein Piet Byleveld, herinner. Alombekend as Piet Byl was hy talle reeksmoordenaars se moses.

In Akwarius is die baasspeurder Sakkie Joubert ook ‘n kaptein met heelwat reeksmoordenaars op sy kerfstok. Die laaste een – die een wat hy voor sy aftrede wil vastrek – bly hom ontwyk. Dit word ‘n dodelike kat-en-muisspeletjie tussen die jagter en sy prooi.

‘n Brutale reeksmoordenaar wat sy vroulike slagoffers nadoods soos meerminne laat lyk, teister Johannesburg en omstreke. Die net om die gevreesde misdadiger trek al nouer, totdat een van die lede van die ondersoekspan ‘n skokkende onthulling maak wanneer dit reeds te laat is…

“Met die opneem van Akwarius het die span spontaan gevoel dat die radiodrama ter nagedagtenis aan Piet Byleveld wat op 24 Mei vanjaar oorlede is, opgedra moet word,” het die regisseur Bettie Kemp gesê.

Anton Dekker

“Daar is heelparty ooreenkomste tussen hom en die hoofkarakter Sakkie, wat deur Anton Dekker vertolk word. Ironies genoeg, is Dekker met wyle Piet Byl se weduwee, Elize, bevriend.”

Die ander spelers in Akwarius is Anrich Herbst, Magda van Biljon, Su-Ann Müller-Marais, Duncan Johnson en Mari Molefe-Van Heerden.

Akwarius is volwasse luisterstof en nie vir sensitiewe luisteraars bedoel nie. Dis wel bedoel vir dié wat gedy op spanning en ‘n goeie skeut adrenalien.

Erskine is ook die skrywer van Donatello en Volksie, destyds beskryf as die eerste “chick-lit”-roman in Afrikaans wat deur ‘n man geskryf is. ‘n Paar jaar later volg sy radiodrama, As die donker die son insluk. Margot Luyt was die regisseur van dié debuut-radiodrama wat met ‘n ATKV Mediaveertjie as beste radiodrama bekroon is.

Donderdag 14 Desember: Spieëlbeeld deur Ronel Mostert
Andrea en haar tweelingsuster, Minke, sukkel na baie jare om vrede te maak. Wat is die ware geheim en rede vir die wrok wat tussen hulle lê en dreig om al groter te word?

‘n Liefdesverhaal met ‘n kinkel, terwyl die vrolike Vlooi sorg vir komiese genot.

Spieëlbeeld opsomming
Andrea is een van ’n tweeling wat altyd aan die korste ent trek. Haar liefde vir haar suster maak dat sy gereeld toegee, aanvaar, die ander wang draai en keer op keer vergewe. Maar waar trek sy die streep en wanneer is genoeg, genoeg?

Nadat die lewe en haar tweelingsuster haar weereens teleurstel, gaan kruip sy by ’n vriendin weg om haar wonde te lek. Sal sy die lewe, die mense naaste aan haar en die liefde weer ’n kans gee? Lê die antwoord in die hoeveelheid kere wat jy val, of die hoeveelheid kere wat jy opstaan?

Dié slag was soentonele anders…kyk die video

Die skrywer
Ronel Mostert het na 27 jaar die tuig as Bemarking- en Menslike Hulpbronbestuurder neergelê om voltyds te skryf. Haar eerste roman, Dubbele Wonderwerk, is deur Kwarts Uitgewers goedgekeur en in 2015 bekendgestel en uitgegee.

Sy het ook al vantevore haar hand gewaag aan kinderboeke en digkuns. Dit het tot gevolg gehad dat sy deur die Centurion College vereer is vir haar bydrae tot Afrikaans. Sy is bekend vir haar flitsverhale, wat onder andere in die Sarie, Vrouekeur en Huisgenoot tydskrifte verskyn. Een van haar flitsverhale, Die Agterstallige Paaiement, het op die Vrouekeur se webtuiste verskyn en is ook aangewys as die wenverhaal vir April 2015.

Sy het ook die Roman Kursus asook die Gevorderde Roman Kursus by die SA Writers College in die Kaap susksesvol voltooi. Haar dosent en assessor was Wilna Adriaanse. Sy het tydens haar finale assessering die volgende opmerking gemaak:

Ronel was ‘n baie goeie student en dit was ‘n voorreg om saam met haar te werk. Haar finale teks is ‘n bewys van haar harde werk en toegewydheid. Ek glo sy beskik oor die talent om ‘n goeie manuskrip te kan skryf. My goeie wense vergesel haar op haar verdere skryfpad.”

Ná ’n slypskool wat Kobus Burger en Leon van Nierop aangebied het, kon sy nie anders as om ’n kans te waag nie. Sy het ongelooflik baie geleer en gou agtergekom dat radio ’n medium is waarvan sy baie hou en waaraan sy meer aandag sal wil gee.

Haar eerste RSG Radio drama “Bosluisie” is in Mei vanjaar uitgesaai en haar tweede drama “Spieëlbeeld” is geskeduleer om op 14 Desember vanjaar uitgesaai te word.

Alhoewel die spreekwoord lui van sit en staan kom niks gedaan, glo Ronel dat stilsit, veral voor ’n rekenaar, vir ’n skrywer van kardinale belang is. Ronel hou daarvan om by ervare skrywers kers op te steek en deurlopend te leer en te groei. Sy is lief vir skryf en is dankbaar vir elke geleentheid om dit te kan doen.

Die hele span van Spieëlbeeld.

Die storie agter Spieëlbeeld
Ronel skryf: “Ek word tans in my persoonlike lewe gekonfronteer met vriende wat teen kanker veg. Spieëlbeeld bevat ook só ’n element van hartseer. Dalk besef mense dat die lewe kort is. Dat ons elke dag moet gryp en die beste daarvan moet maak. Dat ons makliker moet vergewe en meer moet liefhê. Net leef. Dit is ’n voorreg!

Aan die ander kant het ek Spieëlbeeld ook baie geniet. Ons leef in ’n gebroke wêreld, maar met my skryfwerk kan ek nog “happy endings”skep en selfs daaraan vashou en daarin glo. Ek hoop dat die luister van Spieëlbeeld vir elke luisteraar ’n positiewe ervaring sal wees.”

Amanda Strydom, Donnalee Roberts en Cindy Swanepoel

Regisseursnota
Ek is gek oor liefdesverhale. Dit was dus ‘n heerlike uitdaging! Volgens my is Donnalee Roberts en Ivan Botha die perfekte held en heldin, veral na die sukses van hulle rolprente, Pad na jou hart en Vir Altyd.

Ek het die kans gewaag en gevra of hulle sal help om die kollig weer opnuut op radioteater te plaas deur my held en heldin te wees in Spieëlbeeld. Beide het ‘n groot liefde vir radio en het opsluit ingestem.

Gewoonlik word soen-tonele in radioteater gedoen deur akteurs wat hulle eie hande soen, maar met die dat Donnalee en Ivan in die werklike lewe verloof is het hulle ingestem om regtig te soen – ‘n eerste in radio.

Die res van die karakters word deur ewe bekende name in die bedryf vertolk. Amanda Strydom, Cindy Swanepoel, Karen Wessels, Eloise Cupido. Bronwyn van Gran en Mandi du Plooy-Baard.

Maak jou tuis vir ‘n heerlike, toon-omkrul-lekkerkry liefdesverhaal!

Luister na die liefdesverhaal: