Renaldo se hart klop R-A-D-I-O


RSG se Renaldo Schwarp is ‘n veelsydige omroeper, TV-aanbieder, skrywer, dokumentêre rolprentmaker en deesdae ook seremoniemeester vir korporatiewe geleenthede. Maar, erken hy aan RSG se programbestuurder, Kobus Burger: Radio is my eerste liefde. Hy vertel hoekom hy graag vir Oprah Winfrey vir aandete wil nooi en wat hy heel eerste sal gryp as daar ‘n brand uitbreek.

Wanneer het die uitsaaigogga jou gebyt en het jy besef jy wil op die radio en TV wees?

Renaldo is ‘n Bok-ondersteuner

Eintlik lank voor my universiteitsjare. Ek was van my jongdae mal oor die plaaslike (en spesifiek nou die Afrikaanse) vermaakbedryf.

Dit was wel tydens my dramastudies toe ek as student agter die mikrofoon by die Universiteit van Stellenbosch se kampusradiostasie, MFM 92.6, ingeskuif het en ek was dadelik so tuis soos ’n vis in die water.

Dit was juis in my tweede jaar dat ek my droom van sepie-akteurwees verander het na dié van aanbieder en omroeper. Dit juis hoekom ek in my derde jaar gespesialiseer het in media (TV en radio). Daarna het ek nooit weer terug gekyk nie.

Jy het drama aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, maar werk nou meer in die media as op die verhoog. Watter rol het die dramastudies in jou loopbaan gespeel?

Ek het ná matriek beursgeld ontvang om in die regte te gaan studeer, maar ek het op die ou einde ’n ander studierigting ingeslaan.

Renaldo (heel links) in sy derdajaar, waar hy die manlike hoofrol in die US-dramadepartment se produksie van Hendrik Ibsen se Hedda Gabler vertolk het.

In 2010 het ek op die Matie-kampus beland en my studies as voorgraadse dramastudent voortgesit.

Die vaardigheid vir uitsaai en ‘aanbied’, glo ek sterk, word aangevul deur my dramagraad en die beginsels en kennis wat ek tydens my studies opgedoen het.

My dramagraad dien as die grondslag vir die werk wat ek tans op die draadloos en op die kassie doen (voor én agter die skerms).

Interessant genoeg het die twee aktrises Susanne Beyers en Elsabé Daneel, wat albei by Maties in media klasgegee het, my aanbiedings-talent en aanvoeling vir media raakgesien en my aangemoedig om aanbieding te doen.

Die media-gogga het toe behoorlik vlamgevat en ek is vandag bly ek het hulle raad gevolg.

Renaldo en Eloise Cupido. Renaldo het in 2021 sy debuutboek, SKEEF gepubliseer. Die boek is rofweg gebaseer op sy gelyknamige dokumentere film wat in 2019 sy debut gemaak het.

Wat is die beste kompliment wat ’n luisteraar al vir jou gegee het?

Dit is altyd so lekker om Vrydagaande met luisteraars te spandeer en met hulle te gesels. Dit maak dat ‘n ses uur lange skof sommer veel korter voel. Een stukkie kommentaar wat my steeds bybly, is van ‘n luisteraar van Pretoria in my eerste week: “Ek geniet jou aanbieding van die Vrydagprogram en musiek. Hoop RSG het jou vroeër ontdek. Doen so voort. Mal oor jou lekker loslit Afrikaans.”

Wat lees jy tans?

Ek is mal oor plaaslike nie-fiksieboeke en ek skryf dit toe aan my belangstelling in die mens en sy psige. Maar ek is baie opgewonde om om my hande op Bibi Slippers se jongste digbundel, Soekenjin, te lê.  Ek is mal oor haar werk.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd om te ontspan?

Saam met vriende

2023 hou my beslis bedrywig, maar dit is uiters belangrik vir my om ook tyd te maak om te ontspan en te herlaai.

Ek spandeer graag tyd met vriende, goeie kos, geselskap en wyn. ‘n Naweek langs die kus elke nou en dan, doen ook wonders vir die siel.

As jy twee legendes vir aandete kan nooi, wie sal hulle wees? En wat sal jy voorsit?

Oprah – ek sal haar graag wil pols oor sakevernuf. En dan RuPaul – ‘n baanbreker in eie reg. Ek dink hy sal n fantastiese en pret gas wees.

Wat ek sal voorsit? Goeie wyn (dis immers die belangrikste), die res sal ek so een uur voor die aandete bymekaar gooi.

Renaldo se kykNET vermaaklikprogram, ‘KassieKuiers met Renaldo Schwarp’ het onlangs ‘n silwerprys gewen by die New Generation Digital and Social media Awards vir beste aanlynvideo program.

As daar ’n brand uitbreek, wat is dit wat jy eerste sal gryp, voordat jy weghardloop?

My foon, tipies ‘millennial’. My hele lewe is op my foon.

Aan watter opwindende projekte werk jy tans?

2023 is ‘n warrelwind vol lekker uitsaaiprojekte:

Ek hou myself tans besig in die TV-wêreld as uitvoerende vervaardiger van drie Engelse vermaakprogramme wat tans op die kleinskerm is.

Dan is ek ook baie opgewonde om in produksie te wees vir ‘n nuwe Afrikaanse leefstylprogram wat vroeg in 2024 sy verskyning op die kassie sal maak.

Dan is ek en my span nog volstoom besig met my jongste dokumentêre fliek, KAMPUS, waarmee ons vroeër vanjaar begin het. So tussenin skryf ek nog rubrieke en meningstukke en hou ook myself korporatiewe seremoniemeester.

 

Watter talent of vaardigheid sou jy graag wou hê?

Ek sou baie graag wou kon sing. Ongelukkig is ek toondoof en dus is enige drome om ‘n musikale teaterster te wees daarmee heen.

Wat geniet jy die meeste van jou uitsaaiskofte op RSG?

Terwyl TV my deesdae veel besiger hou, bly radio my eerste liefde. So om elke Vrydagaand en sekere Sondae op die lug te spandeer, is ‘n fees. Hierdie medium, en spesifiek RSG as platform, bied vir my die geleentheid om nie net my passies uit te leef nie, maar om dit te doen in my moedertaal en dan ‘n nasionale gehoor te bereik. Droomwerk, né?

Kuier saam met vriende

Hy tree gereeld as seremoniemeester op