Weeksdae: Rika Sennett lees Audrey Blignault


Audrey Blignault

Met haar rooi rok voor RSG se deur

Audrey Blignault was een van Afrikaans se veelsydigste skrywers, n joernalis en radio-omroeper. Sy is in Bredasdorp gebore en het reeds op elfjarige ouderdom haar eerste gediggie, in Engels, geskryf. Sy het verskeie pryse plaaslik en internasionaal ingepalm. Haar skryfwerk is egter tydloos en sal vanaf Woensdag 26 Mei in RSG se nuwe oggend-boekvoorlesing, weeksoggende om 10:45, gehoor word.

Rika Sennett

Die aktrise Rika Sennett lees dan voor uit Met my rooi rok voor jou deur: ’n Keur uit die werk van Audrey Blignault (uitgegee deur Tafelberg-uitgewers).

Die onweerstaanbare Audrey Blignault het destyds die wêreld van die Afrikaanse vrou óópgeskryf en was haar tyd vooruit. Dié unieke keur bring haar beste werk byeen, van kort sketse uit die vroeë bundels tot langer essays en verhale uit latere publikasies. Hierdie baldadige, skalkse, “onwennige ouma” skryf dalk oor vervloë dae, maar op so ’n unieke, toeganklike manier dat dit vir vandág se leser kraakvars is, en jou ten diepste raak.

Blignault skryf oor Jakarandabome, haar liefde vir boeke, waarom elke huis ’n spens behoort te hê en natuurlik haar fassinasie met rooi.

Die regisseurs is Kobus Burger en Ina Strydom.

DIE SKRYWER AUDREY BLIGNAULT

Audrey Blignault (1916 – 2008) is met die Eugène Marais-prys bekroon, die W.A. Hofmeyr-prys asook met die Italiaanse Adelaide Ristori-prys vir haar bydraes tot kultuur. Die ATKV het haar met hul Prestige-toekenning vereer. En die KKNK in Oudtshoorn het haar die Afrikaans Onbeperk-prys vir lewensbydrae gegee. 

Sy was in die jare veertig die aanbieder van Vrouerubriek op Afrikaanse radio en het later die leeskring-kultuur in Suid-Afrika tot stand gebring. Blignault was ook die redakteur van Die Huisvrou.

RSG het Blignault gehuldig met die uitsending van ’n Oulap se rooi met die aktrise Woutrine Theron as deel van RSG Kunstefees 2016, ter viering van Blignault se 100ste verjaardag.