RSG bied weer vanjaar die radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV aan!


RSG, in samewerking met die ATKV, is verheug om die bekendstelling van die RSG Radiodramaskryfkompetisie aan te kondig.

Dit is die 28ste agtereenvolgende jaar wat die kompetisie aangebied word. Hierdie gesogte kompetisie bied ʼn  platform vir talentvolle skrywers om hul kreatiwiteit ten toon te stel en hul stories tot lewe te bring deur die boeiende medium van radio.

Met ʼn  totale pryspoel van R115 000 bied vanjaar se kompetisie aansienlike pryse vir deelnemers. Die algehele wenner sal ʼn kontantprys van R50 000 ontvang, terwyl die naaswenner R25 000 ontvang. Die drama in die derde plek sal R15 000 ontvang, en ‘n spesiale prys van R15 000 word aan die Jong Skrywer (onder 30 jaar oud) oorhandig. Daarbenewens sal ‘n merieteprys van R10,000 toegeken word aan ʼn  drama wat deur die beoordelaars gekies word uit die finaliste wat nie vir die top vier posisies kwalifiseer nie.

Wenradiodramas sal nie net kontantpryse ontvang nie, maar ook die eer hê om in 2025 op RSG uitgesaai te word en ʼn  wye gehoor regoor die land te bereik.

Die volle spektrum van Afrikaans se variëteite kan gebruik word.  Slegs een inskrywing per persoon word toegelaat.  Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees – ‘n maksimum van 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.  ‘n Maksimum van sewe karakters word toegelaat.  Die kompetisie sluit 30 Junie 2024.

ʼn Omvattende handleiding wat die kompetisiereëls en inskrywingsvorm bevat is gratis op RSG se webwerf beskikbaar. Die handleiding bevat ook ʼn toegewyde bladsy met waardevolle skryfwenke om beide nuwelinge en ervare skrywers te help om hul vaardighede te slyp.

Daar sal twee komplimentêre aanlyn slypskole aangebied word om jou te help met die skryf van ʼn radiodrama. Ons beveel sterk aan dat die handleiding aflaai word, die inhoud daarvan deeglik bestudeer word en skryfpogings voor die slypskool begin. Inligting oor hoe om in aanmerking te kom vir die slypskole is beskikbaar op ww.rsg.co.za.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en twintig tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan daarna hulle tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Moenie hierdie ongelooflike geleentheid om jou skryftalent ten toon te stel mis nie! Dien jou radiodramadraaiboek vir die kans om kontantpryse te wen en jou werk op RSG te laat uitsaai.

Klik hier om al die belangrike dokumente af te laai: