RSG en Innibos skep klankdramas in ‘n kits


Hoe moeilik is dit om ‘n radiodrama te skryf? Kan ‘n mens in ‘n kits ‘n storie in klank vertel?

Kobus Burger, RSG se programbestuurder, het verlede jaar ‘n twee dag lange slypskool in die skryf van klank- en radiodrama in samewerking met Innibos by Kaapsehoop buite Nelspruit aangebied. Lede van die publiek het binne twee dae kort dramas geskep wat die ander deelnemers in trane gehad het of in lagbuie laat uitbars het.

Almal was dit eens: hierdie dramas móét gehoor word.

Innibos en RSG met die ondersteuning van die Dagbreek Trust gaan hierdie slypskool vanjaar uitbrei met ‘n volwaardige klankdramaproduksie wat tydens vanjaar se Innibos-kunstefees sal debuteer. Lede van die publiek sal op die eerste dag leer hoe om ‘n kort klankdrama te skryf en op die tweede dag sal dit opgeneem word.

Dan, op Woensdag 28 Junie, om 18:00 in die Silver Mist-kapel op Kaapsehoop, sal lede van die publiek hierdie “klankdramafees” kan bywoon. Johann Pieterse, skepper van die RSG-dokumentêr Plooie van die hart en klankingenieur vir programme soos Monitor en Spektrum op RSG, sal die klankdramas vervaardig. Kaartjies vir die produksie kos R100 per persoon en kan deur Innibos bespreek word.

“Met hierdie projek verskuif RSG weer eens die grense,” het Kobus Burger gesê. “Dit bewys hoe kreatief klank kan wees en dat luisteraars wat hul vlerke wil sprei, op ‘n prettige manier hul verhale kan verklank. Hopelik word dit ‘n jaarlike instelling dat meer en meer mense die geleentheid kan kry om op hierdie manier ‘n storie te kan vertel.”

Vir meer inligting kontak die projekleier, Annemarie van der Walt, by annemarie@innibos.co.za.

Die deelnemers saam Annemarie van der Walt en Kobus Burger: Kobus Burger (RSG programbestuurder en Klankdrama-kursusleier), heelagter is: Voor: Nadia Schwirzer, Louise Schoeman, Annemarie van der Walt (Innibos-projekleier)
2de ry: Lizette van der Merwe
3de ry: Veronica van der Walt, Frances van Niekerk, Alita Steenkamp
4de ry: Christelle Olckers en Thea Boshoff