Ontmoet Carla Mackenzie


Carla Mackenzie, aanbieder van Top Treffers en RSG Sport asook regisseur van Spitstyd, is ’n veelsydige uitsaaier wat reeds by verskeie radiostasies gewerk het en TV-programme soos Musiek Paniek aanbied. Sy is in Malmesbury gebore, maar het in Stellenbosch grootgeword waar sy ook later ’n omroeper was by die kampusradiostasie MFM. Kobus Burger, RSG se programbestuurder het met haar gesels.

Wanneer en hoe het die radiogogga jou gebyt?
In die oggend wanneer ons skool toe gery het, het ons altyd na die radio geluister. Ek het toe later na die kampusradiostasie in my kamer geluister en later was ek so gefassineerd met die medium. Toe ek 19 jaar oud was, het ek verskeie toetse deurgegaan om aan te sluit by MFM, die Universiteit van Stellenbosch se kampusstasie.

Soos baie van RSG se omroepers (soos Martelize Brink) het jy dus by MFM begin. Wat het daardie dae jou geleer?
Sho, baie. Ek het daar leer redigeer, programme aanbied, kompetisies geloods. Dit was die beste jare! Ook omdat jy dit destyds nie vir geld gedoen het nie. Dit was pure genot en ek dink dit is hoekom ek nog steeds radio doen en vir lank nog sal liefhê.

Waar kom jou liefde vir sport vandaan?

In 2008 by ‘n SA hokkie toernooi in Randburg, Johannesburg

Ek het in ‘n sportiewe huis grootgeword. My pa, Jantjie Marthinus, het destyds die 800 m SA-rekord gehou en ek het net met nefies grootgeword.

So ek het van kleins af goeie hand-oog-koördinasie gehad vir ‘n meisie. Ek dink omdat sport vir my begin het as pret, geniet ek dit nog om al dáái sportsoorte te beoefen.

Jy het hokkie gespeel asook sokker en geniet fietsry. By watter sportsoorte is jy nog betrokke?
Ek ry gereeld fiets maar het ook begin padel speel!

Jy is ook ’n TV-aanbieder. So hoe balanseer jy jou besige skedule?

Op die stel van die TV program, Hier Sit Die Manne

Dit kan party maande besig raak. Wanneer dit besig raak en hoe ek rustig bly, is dat ek dan seker maak dat niks oorvleuel nie.

Ek sal altyd op ‘n weeksdag 13:00 klaargeskiet wees aan ‘n TV-program om genoeg ruimte te bied om betyds by Spitstyd aan te meld. ‘n Besige skedule gee ook vir my nuwe idees, jy praat met meer mense.

Wat geniet jy in jou vrye tyd?
Daar is ‘n ‘old school’ kroeg in die hartjie van Linden, Johannesburg waar jy net kan instap en daar is ‘n kennis (wat jy ken).

Hulle speel ook Janis Joplin, Led Zeppelin en die Beatles! Ek hou ook van ‘n Sondagoggend. Ek gaan ry gewoontlik fiets en braai graag.

Wie is vir jou ’n rolmodel in die uitsaaibedryf en hoekom?
‘n Rolmodel is iemand wat vir lank in die uitsaaibedryf is en steeds geliefd is. Barney Simon, Martelize Brink, Willem Pelser met sy werksetiek, Mariëtta Kruger by wie ek elke dag kan leer en mee tee kan drink!

Jy het voorheen vir ‘n kommersiële uitsaaier gewerk, terwyl RSG ’n openbare uitsaaier is. Vind jy daar is ’n groot verskil tussen die twee? En wat geniet jy van RSG?

By die Radio Awards, Sandton 2023

Daar is ‘n groot verskil tussen die twee. Ek hou van kommersiële radio want dis vinnig, met kompetisies en jy saai regstreeks vanuit vreemde plekke uit, maar partykeer is daar ‘n groter element dat jy dit (eintlik net) vir jouself doen. Ek hou van spansporte en RSG is vir my die beste Afrikaanse spansport in Suid-Afrika.

Het jy enige stokperdjies? Of hou sport en uitsaai jou besig genoeg?
Sport is ‘n groot stokperdjie, maar ek hou van kuns en versamel ook graag rooiwyn. Elke bottel in die huis het ‘n storie oor hoekom hy daar is.

Wat is vir jou die lekkerste bederf?
‘n Massage en ‘n gamedrive!

Na watter land wil jy graag reis en hoekom?

Op vakansie met gesin, 1993

Ek wil graag na Frankryk reis. Ek is op 28 Mei 1990 gebore, die dag waarop die Franse Ope (daardie jaar) begin het. My ouers het my tweede naam toe Arantxa gemaak. (Arantxa Sánchez Vicario is ‘n vorige nommer 1-speler). Dit sal vir my spesiaal wees om Roland Garros in Mei by te woon.