RSG-konsert sluit landbouskou op hoë noot af


’n Geskiedkundige era kom vir die landbougemeenskap in KwaZulu-Natal tot ’n einde wanneer die laaste Royal skou van 28 Mei tot 4 Junie in Pietermaritzburg aangebied word. Die RSG Afrikaanse musiekkonsert sal die laaste geleentheid op die programrooster van die skou wees.

Derrich Gardner en  Terry Strachen, Groep Uitvoerende Hoof van die Royal Skou, tydens ’n vorige RSG buite-uitsending vanaf die skou in Pietermaritzburg.

Die skou is in 1851 begin om die belange van die landbougemeenskap deur middel van ’n skou te bevorder. Jaar-na-jaar is van beeste, skape, bokke tot wedvlugduiwe van skougehalte ten toon gestel. ’n Verskeidenheid geleenthede het skougangers vermaak met optredes soos hondevertonings, skaapskeerdemonstrasies, regstreekse veilings en koekdemonstrasies. .

Uitstallers van oor die land heen het jaarliks Pietermaritzburg besoek om produkte bekend te stel soos wol, wolklere, landboutoerusting, nuwe motors en nog vele meer. Vanjaar sal die Houtwerkersgilde van die middelande ook dié kunsvorm kom bemark.

Die RSG-konsert is jaarliks, vir meer as ’n dekade al, by die skou aangebied en die laaste paar jare was dit die finale hoopgtepunt wat die skou afsluit. Kunstenaars soos Elvis Blue, Snotkop, Nadeine, Emo Adams, Kurt Darren, Demi Lee Moore en Ricus Nel was al saam met RSG  se Derrich Gardner op die verhoog. Dié konsert maak weer op 4 Junie 2023 sy buiging met onder andere Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld en Dirk van der Westhuizen.

Vir meer inligting besoek royalshow.co.za