RSG kuier by die KKNK


Die KKNK vind weer plaas in Oudstoorn vanaf 1 tot 9 April 2023 en RSG is weer daar. Vanjaar se feesprogram  is propvol  ‘n verskeidenheid genres in die uitvoerende kunste, sowel as visuele kuns.

RSG se Johan Rademan en Martelize Brink saai regstreeks die program Driesestig uit van 13:00-15:00, Maandag 3 April tot Donderdag 6 April. Kom maak ‘n draai by die Feeskafee agter die CP Nel Museum en sien hoe ‘n radioprogram saamgestel en uitgesaai word.

Dis ook ‘n geleentheid om hulle in persoon te ontmoet. Haidee Muller-Isaacs gaan ook ‘n paar oorskakelings, veral die afskopnaweek van 1-2 April doen en luisteraars ingelig hou oor al die gebeure van KKNK 2023.

KKNK 2023

Feesgangers by vanjaar se fees kan uitsien na meer as 30 debuutwerke en ook ’n keur van die beste produksies van die afgelope jaar by ander feeste en teaters. Van die hoogtepunte is Nicola Hanekom se toneelstuk Mirre en aalwyn, wat buite Oudtshoorn op ’n plaas aangebied word met Amalia Uys, Daneel van der Walt, Gretha Brazelle en Alyssa van Reenen. Reza de Wet se drama-komedie Mirakel, onder regie van Marthinus Basson met Dawid Minnaar, Brümilda van Rensburg, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis, vertel die storie van ’n teatergeselskap in die 1930’s wat hulleself in ’n klein dorpie bevind.

Vyf individue word vereer vir hulle bydrae tot die KKNK en die kunste: Dawid Minnaar ontvang die KKNK-prys vir Vertolking; Early B word vereer met die KKNK Kruispunt-prys; Refentse Morake ontvang die KKNK-prys vir Jong Stem en Liza Grobler is die Feeskunstenaar. RSG se Magdaleen Krüger ontvang die KKNK-prys vir Lewensbydrae.

Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets, of jou naaste Pick n Pay. Vir meer inligting, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za of kontak die kantoor per e-pos by info@kknk.co.za, stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337 of skakel 044 203 8600.