RSG matriekafskeidsprojek gaan weer 2 leerders se drome bewaarheid
Naas jou troudag is jou matriekafskeid een van die grootste glansgeleenthede van jou leeftyd. Dit is ‘n sprokiesaand wat nog lank onthou gaan word.
In 2024 het RSG die drome van twee matriekleerders, Tumelo Diale en Thembi Buys, bewaarheid deur elkeen ‘n pasgemaakte pak of rok te skenk, spesiaal gemaak deur die Elizabeth Galloway Academy of Fashion. 2025 sal die derde jaar wees wat hierdie projek deur RSG aangepak word.
Vanjaar het gaan RSG weereens ‘n bietjie glans verleen aan twee verdienstelike matriekstudente wie se omstandighede nie luukshede soos pakke en rokke toelaat nie.
“Hierdie projek is werklik een waarop RSG so trots is,” sê Amoré Swanepoel, RSG se bemarkingsbestuurder. “Elke jaar raak die stories ons diep, en motiveer dit ons om meer en meer vir ons gemeenskap te wil doen.”
Die Elizabeth Galloway Akademie vir Mode sal nou saamwerk met vanjaar se twee ontvangers sodat hulle die pak en rok van hul drome kan skep.
Fiona Abdo, akademiese direkteur by die Akademie, sê: “Die Elizabeth Galloway Akademie vir Mode is gestig uit Elizabeth se doelwit om jong vroue te bemagtig en te ontwikkel, en ons etos om die Suid-Afrikaanse jeug deur mode op te voed, te ondersteun en te laat groei, bly ‘n prioriteit.”
“Mode is so ‘n wonderlike manier om jouself uit te druk, en ons erken die klem en belangrikheid wat die matriekafskeid in die lewens van ons matriekleerders speel. Dit is die platform waar hulle hulself deur mode en stilering aan hul maats en hul gemeenskap kan voorstel. Die Elizabeth Galloway-span is bevoorreg en opgewonde om saam met RSG en die kompetisiewenners te kan werk om hul matriekafskeidsmode-droom ‘n werklikheid te maak.”
Benoem ‘n verdienstelike matriekleerder só
Vanaf 1 Julie 2025 tot 13 Julie 2025 kan die publiek hul benoemings vir verdienstelike studente per e-pos stuur deur hierdie instruksies te volg:
- Sluit die naam en van in van die persoon wat jy benoem.
- Die datum waarop die benoemde se matriekafskeid plaasvind.
- Die geslag van die benoemde (sodat ons weet of ‘n rok of pak benodig word).
- Meld asseblief of jy die benoemde se toestemming het om hul storie en inligting te deel.
- Skryf ‘n motivering waarom jy glo hierdie spesifieke individu dit verdien om ‘n spesiale rok of pak vir hul matriekafskeid te wen.
Jy kan jouself nie benoem nie en die benoemde se matriekafskeid moet tussen 1 September en 31 Desember 2025 plaasvind.
Stuur al bogenoemde inligting na info@rsg.co.za.
Vir addisionele inligting, besoek rsg.co.za.
Die benoemings sluit middernag op 13 Julie 2025.
Vanjaar se wenners sal op Donderdag, 24 Julie 2025, aangekondig word.
Vir meer inligting, besoek rsg.co.za of RSG se sosialemediaplatforms.