Luister weer: Lipizzaners – Op die agterpoot


In RSG se eerste dokumentêre seisoen van 2023 word ’n wye verskeidenheid aktuele temas ondersoek.

Lipizzaners – Op die agterpoot, ’n dokumentêr deur Lizelle de Bruin is op 5 Januarie om 20:00 uitgesaai. Pluto Odaliska op sy agterpote. Die beweging word die Pasade genoem. Foto: Niel Roux

5 Januarie:
Die reeks het begin met ’n program oor die geskiedenis en opleiding van die Lipizzaners-stoet op die plaas Mistico. Hierdie perde het ‘n baie ryk geskiedenis en statuur. Die stoet word ook gebruik om jaarliks 12 ruiters op te lei as deel van ‘n internskap.

In die hartjie van die Boland op die perdeplaas, Mistico, is die enigste stoet Lippizaners in Afrika. Hierdie perde het ‘n baie ryk geskiedenis, en hulle is spesiaal geteel vir hulle ongewone krag. Hulle is reeds 75 jaar lank in Suid-Afrika. Die stoet word gebruik om jaarliks twaalf ruiters op te lei as deel van ‘n internskap. Meeste van die ruiters kom uit agtergeblewe gemeenskappe.

Die Lipizzaner is ‘n antieke ras wat uit die Romeinse tyd dateer, onder keiser Julius Caesar. In die 14de eeu het aartsbiskop Maximilian die behoefte gesien om ‘n oorlogsperd van ongewone sterkte, lojaliteit en moed te teel. Hy het perde van Spaanse, Italiaanse en Oosterse oorsprong gekies om sy teelprogram op te stel. Hieruit het die Lipizzaner-perd ontstaan, wat sy naam kry van die dorpie Lipizza in hedendaagse Slowenië waar die ras gebore is.

Lippizaners kan slegs gesien word in die Boland in Afrika by een van drie stalle, waarvan die ander twee in Noord-Amerika en Italië is. Die perde is bekend vir hulle terapeutiese waarde vir kinders met leerprobleme en gestremdhede.

 

 

Foto: Niel Roux

Foto: Niel Roux

Foto: Niel Roux

Foto: Niel Roux

Foto: Niel Roux

Foto: Niel le Roux

Foto: Niel le Roux

Dokumentêre waarna jy kan uitsien

12 Januarie: ‘n Dokumentêr onder leiding van Jacqui January, In die Bol geTik, handel oor die ewig groeiende, bose kringloop van dwelms in Eersterust in Pretoria. Dit verwoes die lewens van die afhanklikes, hul geliefdes en kring boonop uit na die res van die gemeenskap. Hierdie gemeenskap het egter hulle moue opgerol, staan saam en soms ook nie. Die dokumentêr uit die SAUK se argief is in 2017 saamgestel en sal weer op 12 Januarie aan die beurt kom.

Die “lang totsiens” is ‘n tema wat op 19 Januarie belig word. Wat is die impak wat Alzheimers het op die mense om ons? Hoe raak dit die geliefdes wat die pad saam met iemand stap wat aan hierdie siekte ly? Johan van Lill praat oor dié kwessies in Alzheimers, ‘n lewe sonder onthou.

Op 26 Januarie besoek ons, saam met Elsje van Jaarsveld, die Hartbeespoortdam wat vanjaar 100 jaar vier. Dié damwal word naweek-na-naweek oorval met duisende toeriste. ’n Tonnel en majestieuse damwal in eg neo-klassieke styl kronkel deur die eeu oue Magaliesberg. ’n Arc de Triomphe in die kleine versier die damwal en toeriste hang gereeld oor die historiese muur om die massawater te aanskou wat netjies deur tien sluise gerig word. Maar die ontwikkeling van hierdie struktuur word gekenmerk deur vele hindernisse. In 1923 is die damwal uiteindelik voltooi en met ’n plegtige geleentheid in gebruik geneem toe ’n vloot karre oor die damwal ry.

Jody Hendricks ondersoek die sielkundige en sosiale aspek van mense wat sonder ’n pa grootword en die dokumentêr, Grootword sonder ’n pa kom op 2 Februarie aan die beurt.

Op 9 Februarie verken Sue Pyler-Slabbert die lewe van Willie Esterhuizen wat ’n huishoudelike naam by Suid-Afrikaners is. Orkney Snork Nie, Vetkoekpaleis en Gauteng Aleng is sinoniem met sy naam. Sue gesels in hierdie dokkie, Worsie het ’n wors geword met mense wat deel was van sy lewe en sukses.

Argumente, debatvoering, besprekings en redenasies is deel van ons daaglikse diskoers – dit was nog van altyd af daar, maar sosiale media het vir almal van ons ’n platform gegee om ons stemme te laat hoor. In Diskoers, Sokrates tot Sosiale media op 16 Februarie, ondersoek Johann van Lill dié filosofiese tema.

In Plooie van die Hart vertel Veronique van Heuningen die storie van ’n jong blinde vrou wat die geleentheid gekry het om haar gunsteling rock-groep Rammstein te ontmoet en deur haar hande te kon ‘sien’. Hierdie ware verhaal wat elke luisteraar se hart sal vermurwe bring hoop en deernis vir jou medemens. Die program sal op 23 Februarie uitgesaai word.

Die laaste deel van die dokumentêre seisoen handel oor literatuur en ander hedendaagse vraagstukke.

In Tegnologie (2 Maart) vra Jody Hendricks hoe ons lewe werklik deur tegnologie verander is en wat ons nog te wagte kan wees.

Ina Strydom neem ons na die siel van Tobie Cronje in ’n profieldokumentêr (9 Maart) oor sy interessante lewensfilosofie, sy ernstige werk wat meestal tweede viool moes speel teenoor die komiese werk, mense wat ‘n belangrike rol in sy loopbaan gespeel het en sy benadering tot rolle in die verskillende media.

Johan Rademan stel op 16 Maart ondersoek in na die vryheid van skrywers. Word skrywers soms aan bande gelê deur die onsigbare grense van kommersiële boekwinkels en uitgewers?

In die laaste dokumentêr wat oor twee episodes strek (23 en 30 Maart) verken Esté de Klerk die twee teenpole van genadedood. Met in diepte onderhoude praat Esté in Om te sterf met genade oor hoe dié kwessie in Suid-Afrika en in ander dele van die wêreld aangespreek word.

RSG se dokumentêre seisoen strek van 5 Januarie tot 30 Maart op Donderdagaande om 20:00. Besoek rsg.co.za vir meer inligting.