RSG se nuwe middagvervolgverhaal het pas begin


As die Hadida Roep is vanaf 5 Maart die nuwe middagvervolgverhaal op RSG.

 Net ná tien-uur die aand van Maandag, 29 September 1969, weerklank die angs-roepe van ‘n hadida in ‘n Bolandse dorpie en oomblikke later skud die aarde. Nog nooit het so sterk seismiese golf deur die aardkors hier geskeur nie. Vroeër dieselfde middag was daar reeds ’n effense trilling toe moeder natuur die inwoners van die dorpie wou waarsku hulle huise gaan tuimel, die paaie gaan kraak, en die berge gaan brand.

Charles J Fourie

 Dis 2024 – en jy gaan luister na As die Hadida Roep, Charles J. Fourie se splinternuwe radio-vervolgverhaal – want sien, die afgelope paar weke het die aarde weer lig begin bewe op die dorpie daar in die Boland waar hierdie nuwe middag-vervolgverhaal afspeel.

Kom luister elke middag Maandag tot Vrydag vanaf 5 Maart saam met ons op RSG na die vermaaklike middag-vervolgverhaal geskryf deur die bekroonde dramaturg Charles J. Fourie. Die bekende Denver S. Vraagom hanteer die regie. Die radio-vervolgverhaal spog ook met groot akteurs talent soos June van Merch, Marcel van Heerden, Deon Lotz, Johann Nel, Amor Tredoux, Jarrid Geduld, Pedro Camara, Ronel Geldenhuys, André Samuels, Ansu van der Sluys, Hein Poole en Kay Smith.

 Vir die produksie wat in Kaapstad opgeneem word hanteer Cassi Lowers die akoestiese versorging.

 Dramaturg Charles J. Fourie vertel hy is geïnspireer om die verhaal te skryf na hy self ‘n paar maande op die dorpie daar in die Boland gewoon het, en toe een aand ook so ligte trilling ervaar het – “dit het my laat besef die aarde is regtig net een moerse bruisende en asemhalende gesuis, en toe begin ek die lawwe verhaal neerpen met ‘n metafisiese aanslag – waar ek myself ook sommer die keer getrans-humaniseer het.”

Die storie 
Dominee Hendrik Malan vertel hy kry snags ook visies, wat hy by die kerk kom verkondig.

 Die inwoners voel bang-gepraat, veral die self-aangestelde burgermeester, Wilma Jooste, wat ook meeste van die huise en ander geboue op die dorp besit. Wilma Jooste en haar lewenslange-vriendin, Ester Fortuin, gaan vir almal wys dominee Malan het net lekker kêns geraak.

 Maar ons dominee laat hom nie keer nie en verkondig sy visies oral, en hy bring boonop ‘n aantreklike seismoloog, Ryno Fouché, dorp toe om sake te moniteer. Die dorp se dames soos die aanvallige restaurant eienaar, Ronel Jooste, is reg vir aksie en raak sommer verlief op Ryno.

 Haar vriendin, Jolene Jansen, het planne van haar eie want voor daar weer ‘n aardbewing kom wil sy swanger raak – as sy haar man die polisie-kaptein Lionel Jansen kan kry om in te stem. Die dorp se kunstenaar, Barend du Preez, is geïnspireer deur die aardbewing gerugte en vra die dorp se brandweer-baas, Manie Fortuin, of hy en sy manne vir Barend sal model vir sy nuwe skilderye.

 Manie Fortuin en sy ma Ester en suster Jolene se wêreld word egter deurmekaar geskud as hul pa, Sammy Fortuin, na meer as 20 jaar in die tronk, vrygelaat word en terugkeer dorp toe om versoening met sy kinders te soek. Hy wil ook die geld en juwele wat hy destyds gesteel en wegsteek het in ‘n grot buite die dorp, kom terug eis – as hy self die aardbewing kan oorleef.

 Om die trillende omstandighede van die spul donderende dorpenaars nog verder te skud daag Ronel se pa, Albert Jooste, en sy vreemde en imposante nuwe Gotiese meisie, Marita Marais, ook op. Albert kom sy huise en geboue op die dorp aan sy suster Wilma verkoop, waarna hy en sy Gotiese-liefde beplan om permanent op ‘n strand in Mauritius te gaan woon.

 En net as almal te verstrengel met mekaar se lawwighede raak en al vergeet het ‘n aardbewing dreig op die horison elke keer as hulle die hadida hoor roep – skud die aarde weer, en die keer veel luider en harder as in 1969 – dit lees ‘n volle 8.7 op die Richterskaal!

AS DIE HADIDA ROEP deur Charles J. Fourie – Episode 1

5 Maart 2024

Dominee Malan skok die gemeente wanneer hy tydens die Sondagoggend-diens aankondig daar wag ‘n aardbewing erger as die een in 1969 op hulle. Wilma, die eienaar van ‘n gastehuis op die dorp, besluit om ‘n petisie op te stel om dominee te verhoed om die die dorp se toerisme skade aan te doen.