RSG-Wendrama ondersoek houvas van die verlede; Luister weer


Houvas, deur Lee Doubell was die wendrama van die RSG Radiodramaskryfkompetisie van 2022.  Dit word Donderdag 4 Mei in Radioteater uitgesaai.  Die regisseur is Renske Jacobs.

Die storie

Anton Dekker, Renske Jacobs (regisseur) Malea Avis, Lee Doubell (skrywer) en Deon Lotz.

Houvas handel oor drie vriende wat mekaar sedert hulle weermag- en grensdae ken. Hulle het ‘n spesiale band gehad wat ook daarná voortgeduur het.

Soete (Denver Vraagom) was die planmaker – en ook die een wat ‘n plan uitgedink het waarmee hulle gou sou ryk word. Volgens die plan sou hulle ‘n skatryk sakeman se dogter ontvoer – en ‘n losprys van drie miljoen rand se Krugerrande eis.
Vingers (Deon Lotz) se taak was om vinnig ‘n ryding in die hande te kry wat vir die ontvoering gebruik kon word, en Bul (Anton Dekker) en Soete sou dan die meisie by haar skool gryp.

Hulle kom weg met die ontvoering, maar wanneer die losprys betaal word, is die polisie ook daar, en dinge loop erg skeef vir Bul en Soete. Bul word gevang en dien uiteindelik tronkstraf van 25 jaar uit. Soete word doodgeskiet. En Vingers kom weg. Hy gaan skuil by sy ouers op die plaas vir sowat 18 maande waarná hy as kelner begin werk. En hy gaan woon in Soete se woonstel waar hulle destyds die meisie, Sus/Susan ( Malea Avis)  aangehou het ná die ontvoering.

Maar die verlede – en ‘n mense se dade – het die manier om jou in te haal…

Luister na die volledige drama:

 

Die skrywer
Die skrywer, Lee Doubell is ‘n ou bekende by luisteraars, en het al verskeie radiodramas en vervolgverhale vir RSG geskryf.  Hy sê oor Houvas:

“Ek wou nog altyd ʼn drama skryf oor die ouens van my generasie wat genoop was om hulle kant te bring sonder ondersteuning of dank.

Houvas kyk na drie sulke mans, en wat van hulle geword het. Vingers, Soete en Bul is drie manne wat met hulle lewens-lompheid en diep frustrasie oor die kaarte wat die lewe aan hulle uitgedeel het, ʼn reeks besluite neem wat hulle lewens onherroeplik op ʼn steil afdraand pad dwing. Die vierde karakter is die van Sus Wentzel, ʼn twaalfjarige meisie wat haarself skielik in ʼn nagmerrie situasie bevind, en wat alles sal probeer om daaruit te ontsnap.

Die voorstad van Hillbrow dien as ʼn vyfde karakter in die drama. Ek het ook met tyd gespeel, en die teks speel af in die Hillbrow van die 90’s sowel as die vervalle Hillbrow van vandag.  Houvas is ʼn drama wat kyk na die dinge in die lewe waaraan jy vashou, asook die goed wat jou nie sal los nie.”

Anton Dekker, Malea Avis en Deon Lotz.