Ruda lees familieverhaal op RSG


Ruda Landman

Die TV-aanbieder en joernalis Ruda Landman gaan vir die heel eerste keer ‘n roman vir RSG se luisteraars voorlees.

Ruda, wat in November 2023 haar sewentigste verjaardag gevier het, gaan Katherine Graham se Reën vir Stofvlei (uitgegee deur Human & Rousseau), weeksoggende om 10:45 in Intussen met Eloise voorlees.

Stofvlei is naby Nieuwoudtville geleë en was Ruda se oupa se plaas. En die skrywer Graham is Ruda se niggie se dogter. Ruda se pa het op Stofvlei grootgeword.

Dié voorlesing begin in Januarie 2024 op RSG.

Die tienjarige Elsie, oftewel Gogga, is ‘n regte rabbedoe wat eerder saam met die seuns op die plaas rondhardloop as om pop te speel soos haar perfekte sussie, Riette.

Dit is die jare veertig en daar is ‘n Wêreldoorlog wat woed, maar Elsie se grootste bekommernis is die droogte wat die gebied teister. Saam met haar gesin moet sy veg om hulle geliefde plaas, Stofvlei, te red.

Dit is ‘n innemende, universele verhaal oor familie, kontrei en die natuur, propvol nostalgie en onskuld.

Die regisseur is Kobus Burger, RSG se programbestuurder.

Ruda Landman het op Hartswater en Keimoes in die Noord-Kaap grootgeword en toe tale aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer.

Sy het later as joernalis vir Die Burger, Sarie asook RSG se Monitor gewerk. En vir negentien jaar het sy Carte Blanche op M-Net saam met wyle Derek Watts aangebied.

Sy is met JP Landman getroud en doen deesdae stemwerk, skryf boeke en is by potgooie betrokke.

Vir haar is Reën vir Stofvlei ‘n “lieflike boek” en dit is vir haar “regtig lekker” om vir die eerste keer agter die boekvoorlesing-mikrofoon in te skuif.

Ruda oor Carte Blanche, hartsprojek, en boek oor oupa se plaas
Ruda Landman gesels oor haar tyd by Carte Blanche en die stories wat haar bybly, die hartsprojek waarmee sy haar sedertien besig gehou het, en die nuwe rigting wat sy binnekort hier op RSG inslaan.

Ruda Landman word 70!
Ruda Landman vier haar 70e verjaarsdag saam met die Intussen-span in die ateljee.