Rugby-kommentaar laat blindes die spel ‘sien’


Talle mense is siggestremd of het nie toegang tot rugby op televisie nie…

En dit bring my by ‘n vraag wat ek al telkemale gekry het: Wat is die groot verskil tussen rugbykommentaar op radio teenoor dié op televisie?  Met RSG se hervatting van regstreekse en volledige rugbykommenaar het dié vraag weer opgeduik, vra Pieter van den Berg RSG se Sportkoördineerder.

Kortom lê die verskil in die enkele feit dat op radio is die kommentator primer, terwyl hy of sy op TV ‘n  sekondêre rol vertolk. Anders gestel: op TV is die prentjie van wat jy sien en ervaar primêr.  Op radio moet die kommentator die idee of prentjie wat die luisteraar in sy of haar kop vorm, met woorde skep.

Kom ons loer na een van baie voorbeelde. Op TV hoef die kommentator nie te sê waar die spel op die veld plaasvind nie. Die kyker kan dit sien. Op radio moet hy kan vertel… “hierdie skrum gaan plaasvind 5 meter binne die kwartgebied van Suid-Afrika en 15 meter van die hoofpawiljoenkantlyn….” en omdat hy aan die begin van elke helfte noem dat die Bokke speel van links na regs voor hom verby, weet die luisteraar presies waar die spel op die veld is.

Daar is baie ander aspekte wat op radio uitgewys moet word. soos byvoorbeeld:

  • Watter speler dra die bal, voer die duikslag uit of druk die drie.
  • Hoeveel spelers vorm die lynstaan, sak in die skrum of neem deel aan ‘n dryf- of rolmaalbeweging.
  • Wie het seergekry, word vervang of neem die skop waar…
  • En natuurlik ‘n besprywing van regstreekse spel of beweging…
  • Daar is nie ‘n herhaling in stadige aksie soos op TV nie… die radiokommentator moet opsom  wat gebeur het en gelei het tot bv ‘n drie wat gedruk is. Hy moet al die name en bewegings en volgorde weer herroep en korrek weergee.

Dit is maar enkele aspekte van baie wat op radio oorgedra moet word deur die kommentator, terwyl dit op TV deur die beeld oorgedra word. Dink ook aan die telling wat gereeld op radio gegee moet word terwyl dit op skerm verskyn by TV. Daar is ook “inkleur-inligting” wat die radiokommentator moet gee oor die toeskouers, veld, wind en weer asook die atmosfeer….

Met woorde skep die radiokommentator dus die luisteraar se ervaring van ‘n wedstryd…  Nie maklik nie – en ongelooflik intens maar ‘n grootse ervaring… dit is radiorugbykommentaar.

 

Luister gerus ‘n onderhoud wat op KoffieSport uitgesaai is met een van RSG se blinde luisteraars, Christo de Klerk. Hy verduidelik wat Radio-Rugby vir blindes beteken.