Ryk van Niekerk dubbeld bekroon


RSG Geldsake en aanbieder Ryk van Niekerk het by vanjaar se Sanlam Finansiële Joernalis van die Jaar uitgeblink, en twee toekennings ontvang. Van Niekerk is aangewys as 2021 se Finansiële Radiojoernalis van die Jaar toe hy met die louere in die uitsaai-kategorie weggeloop het. Dit is die grootste erkenning wat ‘n radiojoernalis in Suid-Afrika kan kry.

Dié kompetisie word beskou as die “Oscars” vir die finansiële joernalistiekbedryf en joernaliste van reg oor die vasteland neem daaraan deel. Die kompetisie is in 1974 gebore en is een van die oudste joernalistieke kompetisies in die land.

Sy inskrywing het bestaan uit onderhoude wat verlede jaar op RSG Geldsake uitgesaai is. Dit het verband gehou met die sogenaamde “mynbou mafia” wat die bedrywighede van myne in die Noord-Kaap ontwrig het, en die Takatso-konsortium se oorname van die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Van Niekerk was ook aangewys as die naaswenner van die kategorie vir Verbruikersopvoeding. Dié inskrywing het bestaan uit onderhoude wat op RSG Geldsake se Vrydag-program uitgesaai is, waar daar op persoonlike finansies gefokus word. Dié onderhoude het diverse onderwerpe gedek soos versekering, kriptobates en eiendomsbeleggings.

“Ek is baie dankbaar vir die toekennings en dit wys dat ons elke aand die beste inhoud vir RSG-luisteraars opdis,” het Van Niekerk gesê. “Daar is verskeie finansiële radioprogramme in Suid-Afrika en dit is lekker om te sien dat ‘n Afrikaanse radioprogram ander die loef kan afsteek.”

Meer inligting:

https://www.bizcommunity.com/Article/196/15/230538.html