Ons verpleegdienste stuur af op ramp


Suid-Afrika se verpleegdienste is op die rand van die afgrond. Teen die huidige tempo en kwaliteit van opleiding, sal pasiënte se veiligheid in ’n swakker kaliber verpleegkundige se hande, in groter gevaar wees as ooit.

In ’n spesiale verslag kyk Marí Hudson indringend na die stand van verpleegdienste in ons land.

Vergeet van veilige pasiëntsorg in staatshospitale in 2030. Vergeet van die NGV-plan. ’n Ramp wag op gesondheidsorg in die land weens die reuse tekort aan verpleegkundiges wat net al groter word. Ons eens trotse verpleegdienste is naby aan kapoet. Dít terwyl die statutêre verpleegraad en die Minister van Gesondheid skynbaar doof is vir die loeiende alarms.

Marí Hudson het navorsing gedoen oor die stand van verpleegkunde in die land. Die bevindings laat ’n mens se keel toetrek. Hier is die spesiale verslag.

In die jaar 2030 sal baie van Suid-Afrika se staatshospitale spookhospitale wees, of dalk deur plakkers bewoon word. In dié wat nog in gebruik is, sal donker sale met leë en ongebruikte beddens ’n algemene gesig wees. Baie teaterdeure sal toegeketting wees. Waglyste vir lewensreddende hartoperasies sal langer as drie jaar strek. Heupvervangings en ander nie-noodsaaklike operasies sal op die nooit-ooit lys geplaas word.

Van die waaksale sal leeg staan. Siek pasiënte wat by staatshospitale en -klinieke opdaag, sal nie ure nie, maar dae lank in toue wag. Pasiënte sal in hospitale deels deur familielede versorg word. Kinders en kleinkinders sal finansieel en fisiek tuis of in versorgingsoorde self na hul verswakte bejaarde ouers omsien. Private hospitale – as dit nie deur die mislukkende Nasionale Gesondheidversekering (NGV) stelsel verswelg is nie, sal oorvol wees met geen kans op uitbreiding.

Pasiënte se veiligheid, wat reeds in gedrang is in baie staatshospitale, en sal in nog groter gevaar wees. Nog meer en groter eise vir nalatigheid – wat reeds enorm is en in sommige provinsies oppad is om die provinsiale gesondheidsbegroting te oorskrei – sal volg.

Apokaliptiese voorspellings? Nee. Dit 100% realiteit op harde feite gegrond.

Suid-Afrika stuur af op ’n tekort aan tussen 131 000 en 162 000 verpleegkundiges binne die volgende agt jaar. Die grootste tekort is aan geregistreerde verpleegkundiges (die saalsusters en matrones, met ’n vier-jaar graad- of drie jaar diploma-opleiding met verloskunde ingesluit, wat verder kan spesialiseer, en met maroen epulette, en wat nou bekend staan as professionele en algemene verpleegkundiges) maan die Hospital Association of South Africa (HASA) in ’n volledige verslag The Future of Nursing Workforce Planning Final Report March 2020.

Met só ’n enorme tekort aan verpleegkundiges, wat die ruggraat van gesondheidsdienste in enige land vorm, sal Suid-Afrika se staatsgesondheidsdiente binne agt jaar ineenstort. Dié tekorte hou groot gevaar in vir pasiënte se veiligheid, waarsku dr Anna-Marie Bruwer, voormalige president van die toenmalige SA Verpleegkundige Vereniging, wat intussen vervang is met ’n verpleegvakbond, Denosa, sodat verpleegkundige nie meer ’n verteenwoordigende professionele beroepsliggaam het nie. Dr Bruwer was voormalige hoof van verpleegdienste by die Tygerberg Hospitaal en voormalige Staatsdienskommissaris van die Wes-Kaap en is internasionaal bekend as kundige in kwaliteitbestuur in gesondheidsdienste.

Staatsgesondheidsdienste soos ons dit nou ken, sal ’n hersenskim wees. ’n Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel sal doodgebore wees, spel die syfers die feite uit.

Die tekort aan verpleegkundiges is reeds kritiek: meer as 10 800 vakante poste in staatshospitale is tans nie gevul kan word nie, het die Minister van Gesondheid, Joe Paahla, gesê. Van alle poste vir geregistreerde verpleegkundiges is gemiddeld meer as 40% in die staatsektor nie gevul nie, het Paahla gesê.

Wat hy nie gesê het nie, is dat die werklike aantal vakante poste vir alle verpleeg-kategorieë tussen 29 000 en 37 000 is, waarvan 16 000 tot 20 000 vakante poste vir verpleegsusters. Hy het ook nie gesê die beskikbare poste is nie naastenby gelyk aan die behoefte en ’n veilige ratio tussen verpleegsusters en pasiënte nie. Ook het hy nie gesê dat die werklik gaping tussen beskikbare verpleegposte en die werklik behoefte aan poste reeds twee jaar gelede tussen 26000 en 62000 was nie, soos die HASA verslag uitwys. Die gaping het intussen vergroot, wat beteken dat verpleegkundiges en veral verpleegsusters reeds na heeltemal te veel pasiënte per skof moet omsien.

In ‘n neutedop: SA het tans sowat 180000 verpleegkundiges wat kan werk, al is sowat 280000 op die boeke van die Raad op Verpleging, maar baie is oorsee of reeds afgetree. Boonop is ver minder as die helfte van die 180000 Professionele (4 jaar opleiding) of Algemenese verpleegkundiges (3 jaar opleiding). As al 280000 inderwaarheid in SA sou werk, het ons een verpleegkundige per 238 pasiënte, en dit is hoe die Raad op Verpleging hul statistieke bereken. Maar inderwaarheid het ons een verpleegkundige per 370 pasiente.  As ons gelyk wil wees met Brasilië (ons praat nie een van Mexiko nie), moet ons 400000 verpleegkundiges hê. Ons het dus eintlik op hierdie oomblik 220000 te min verpleegkundiges. As ons by Mexiko wil kom, kort ons op die oomblik reeds 660000 verpleegkundiges. Ons kon jare wegkom met minder verpleegkundiges omdat die opleiding van professionale  verpleegkundiges uitstekend was en hulle ook oorsee gesog was. Maar die gehalte van opleiding van ons verpleegkundiges het gedaal en die gehalte van verpleegkundiges wat die afgelope 20 jaar opgelei is, is sodanig dat die Midde Ooste en ander lande glad nie meer in die nuwe verpleegkundiges belangstel nie. Voorts lei ons ‘n skrale 3000 nuwe verpleegkundiges per jaar op, terwyl sowat 55000 binne die volgende 8 jaar aftree. Ons boer teen minus 10% per jaar agteruit. Ons moet nie 3000 nie, en ook nie eens 20000 per jaar oplei nie, maar 40000 per jaar.
Daarmee saam met ons ook ‘n groot tekort aan dokters en spesialiste. In die staatsektor is meer as 30000 doktersposte vakant, en dit is ‘n onderskatting van die werklike behoefte. Ook is die atresie van dokters wat beplan om te emigreer weens die swaard van NVG wat oor hul koppe hang, allermins klein.

Suid-Afrika het sowat 1 verpleegkundige per 1000 van die bevolking en kan nie eens vergelyk word met lande soos Mexiko nie.

Alle provinsies het ’n tekort aan verpleegkundiges, met die grootste tekort aan verpleegsusters (geregistreerde verpleegkundiges) in Gauteng en die Wes-Kaap, volgens ’n verslag van die Mediese Navorsingsraad (MNR).

Alle vakante poste is nie noodwendig befonds nie. In staatsgesondheidsdienste word kliniese poste – wat verpleeg-, dokters- en spesialisposte en ook poste van dieetkundiges, fisioterapeute en arbeidsterapeute insluit – meestal onbefonds gelaat as dit langer as ‘n jaar vakant is. Saam met dié situasie was daar reeds in 2017 meer as 30 000 dokters- en spesialisposte in staatshospitale gevries of vakant, en ondervind Suid-Afrika ’n tekort aan dokters en aan spesialiste van alle spesialisrigtings.

Die groot oorsake vir die groeiende verpleegtekort is die bevolkingsgroei, en omdat jaarliks minder verpleegkundiges opgelei word as wat aftree. Suid-Afrika het tot en met 2016 stadig maar seker al meer  verpleegkundiges per jaar opgelei, al was dit steeds nie voldoende nie, maar sedert 2016 al minder. Verpleegstudente-inname het sedert 2015 tot 2019 met 47% afgeneem weens probleme met akkreditasieprosesse by die opleidingsentra. Neem ook in ag dat soveel as 60% ná een jaar opskop, en dat sowat 8% van opgeleide verpleegkundiges emigreer.

Suid-Afrika lei tans net meer as 3100 nuwe verpleegkundiges per jaar op. Meer as s 50% van Suid-Afrika se werkende verpleegkorps is ouer as 40 jaar; dus sal meer as 55 000 binne die volgende 8 jaar aftree en meer as 90 000 binne die volgende 25 jaar. Suid-Afrika boer teen minus 10% per jaar agteruit wat verpleegkundiges betref terwyl die bevolking groei.

Saam met HASA en Dr Bruwer, Nicolien Welthagen, navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut, verskeie verpleegnavorsers en baie dokters en ouer verpleegkundiges wat nie hul name genoem wil hê nie weens verpolitisering van die SA Raad op Verpleging (SARV) groot kommer uit oor die stand van en die toekoms van verpleegkunde in die land.

Die land lei al jare lank te min verpleegkundiges en veral verpleegsusters op, bevestig ’n vroeë vaktydskrif artikel deur wyle prof Leana Uys, voorheen van die Verpleegskool van die Universiteit van KwaZulu-Natal, en prof Hester Klopper, buitengewone professor in verpleegwetenskap aan die Noordwes Universiteit.

Studies dui dat daar reeds in 2010 ’n tekort aan 44780 professionele verpleegkundiges in die land was. Reeds teen 2017 het die Wêreldbank gewaarsku dat ons ratio van verpleegkundige tot bevolkings slegs een-derde van die wêreld gemiddelde (nie Eerste Wêreld gemiddelde nie) is.

“Verpleegkunde as beroep is in gevaar in Suid-Afrika. Die impak daarvan op gesondheidsorg vir miljoene Suid-Afrikaners is byna ondenkbaar,” het Hennie Bierman, hoof van die Solidariteit Beroepsgildes gesê. “Sedert 2013 het die aantal verpleegkundiges wat opgelei word, met 40% gekrimp met sowat 8500 minder verpleegkundiges wat jaarliks opgelei word.”

Die syfers van die SA Raad op Verpleging (SARV) kan misleidend wees. Hoewel byna 280 000 verpleegkundiges by die Raad geregistreer is, blyk dit dat sowat 100 000 of afgetree is of in die buiteland is. Teen 2014 was sowat 120 000 verpleegkundiges in die staatsdiens, waarvan sowat 66 000 verpleegsusters is.

Suid-Afrika het sowat 180 000 verpleegkundiges in kliniese praktyk, maar het op hierdie oomblik is tussen 212000 en 248000 nodig, volgens berekenings deur die Mediese Navorsingsraad (MNR).

Foute is ook in die SARV se rekords gevind. Die SARV statistieke toon dat 21 538 nuwe verpleegstudente in 2013 geregistreer het, maar die studente-uitsetsyfer van 2017 wys dat slegs 13 036 van die 21 538 geregistreerde studente afgestudeer het, volgens die studie deur Welthagen.

Die SARV maak nêrens in hul verslae melding van enige krisis of tekort aan verpleegkundiges nie, skilder ’n mooi prentjie en beskou dit as die Minister se prerogatief om te besluit of Suid-Afrika ’n tekort aan verpleegkundiges het of nie.

Wat het verkeerd geloop? Wanneer? Hoekom word daar min aan gedoen?

Ons probeer die antwoorde vind uit die HASA verslag, studies deur die WGO en die Wêreldbank, navorsing deur Solidariteit se Navorsingsinstituut, syfers van die SARV, die MNR, die Skool vir Openbare Gesondheid van WITS, Econex-verslae en en vak-artikels deur gesondheids- en verpleegnavorsers.

Hoekom moet ons so besorg wees oor die hoeveelheid en kwaliteit van ons verpleegkorps?

Die gehalte van sorg hang van die gehalte en hoeveelheid verpleegkundiges, veral verpleegsusters, aan diens, is onomwonde deur verskeie navorsingstudies in Amerika, Engeland en Australië bewys deur navorsers soos Needleman, Dall, Aiken, Lake, Cho en andere.

Hoe groter ‘n verpleegkundige se werklas, hoe groter die sterftesyfer, wys Linda Aiken, gesondheidsbeleidsnavorser van die Staatsuniversiteit van New Yersey. Vir elke pasiënt wat ná chirurgie versorg moet word en by ’n verpleegkundige se werklas gevoeg word, verhoog die risiko vir sterfte met 7% en die risiko vir na operasie versorg moet wat by ‘n verpleegkundige se werklas gevoeg word, word die risiko vir sterfte 7% hoër en word die risiko vir komplikasies ook 7% hoër.

Daar is ‘n 30% hoër sterftesyfer in hospitale waar een verpleegkundige na 8 pasiënte omsien, as in hospitale waar een verpleegkundige na 4 pasiënte omsien.

Voorts is daar vir elke 10% toename in verpleegsusters ‘n 5% afname in sterftes en om pasiënte van komplikasies te red.

Omvattende Australiese studies het getoon dat die koste om verpleegsusters aan te stel, baie laer is as die geld wat gespaar word deur verminderde uitgawes weens komplikasies en nalatigheids-eise.

Die skandaal van verpleegopleiding in die land

Die agteruitgang kom al oor dekades aan maar het nou ‘n nuwe laagtepunt bereik. Dr Paahla het onlangs geregistreerde verpleegkundiges op die lys vir beroepe met kritieke tekorte geplaas. Tog is daar weinig dringendheid aan Regeringskant. Uit die Regering se plan om meer verpleegsusters op te lei, Die National Strategic Direction For Nursing and Midwifery Education and Practice 2020/21-2025/26, is die spertyd vir  die basiese agtergrondwerk eers in 2025.

Die afskaling van verpleegopleiding het in die vroeë 1990s in Suid-Afrika begin toe daar midde-in politieke veranderings daadwerklike pogings aangewend om van blanke verpleegkundiges ontslae te raak. Die land het tóé 60% van sy ervare verpleegsusters verloor. Meer as 12000 is in daardie jare na die Midde-Ooste en met ope arms verwelkom, want Suid-Afrika se verpleegkundiges was in daardie stadium van die gesogste en beste in die wêreld.

“Ons verpleegsusters was bedrewe en kon maklik tot 60 tot 70 pasiënte per saal hanteer,” volgens Dr Bruwer.

Aan die begin van die 2000s het die SA Raad op Verpleging (SARV) besluit dat die graad- en diplomakursus vir geregistreede verpleegkundiges nie meer vakgebiede soos psigiatrie, pediatrie, verloskunde en gemeenskapsgesondheid sal insluit nie, maar slegs in ná-basiese opleiding aangebied word, soos ook in die geval van waaksorg- en teaterverpleging.

Toe die verpleegkolleges gesluit het, is die ervare dosente weg. Die opleiding het vervlak. Ons jonger verpleegkundiges is glad nie meer gesog in die Midde-Ooste nie. Voorts is baie chirurge moedeloos omdat die nuwe generasie algemene verpleegkundiges, en ook nie teater- en waaksorgverpleegkundiges so vaardig en kundig is as dié wat destyds opgelei is nie.

Daar was en is ’n groot verskil tussen die kategorie verpleegkundiges wat opgelei word en die kategorieë wat nodig is – daar is te veel staf- en verpleegassistente opgelei, terwyl baie baie meer verpleegsusters opgelei moes word en in die toekoms opgelei moet word, volgens die HASA verslag.

Die sluiting van verpleegkolleges in 1997/98 het tien jaar later tot tekorte aan verpleegsusters gelei, met gevolglike groot stygings in die gebruik van verpleeg-agentskappe.

In 2005 het die SARV besluit om Suid-Afrika se verpleegkategorieë volgens internasionale tendense te rasionaliseer (Nursing Act 2005 (S30). Voorheen had ons geregistreede verpleegkundiges met 3- tot 4-jaar graad- of diploma-opleiding aan ’n universiteit of verpleegkollege, 2-jaar opgeleide stafverpleegkundiges en 1-jaar opgeleide verpleegassistente.

Nou het ons professionele verpleegkundiges (PN, met 4 jaar opleiding), algemene verpleegkundiges (GN, met drie jaar opleiding) en assistent verpleegkundiges (NA, met een jaar opleiding. Geen verdere stafverpleegkundiges word opgelei nie.

Die Raad dring daarop aan dat almal wat wil spesialiseer (diegene met ‘n verpleeg-graad of na-graadse diploma), reeds oor ’n verloskunde spesialisasie beskik. Dié vereiste veroorsaak ’n reuse bottelnek vir die massiewe aantal enkel gekwalifiseerde verpleegkundiges, want opleidingsposte vir verloskunde is. Dit is ook nie duidelik hoekom ’n teater- of waaksorgverpleeg-spesialis ’n verloskundige verpleegspesialis moet wees nie. Voorts benodig die verpleegkundiges in hul verloskunde-spesialisasie jaar ’n volle jaar studieverlof, wat weens die groot tekorte, bykans onmoontlik is.

Dit beteken dat die verpleegkorps se dienste nou duurder sal word, terwyl baie professionele verpleegposte juis deurentyd afgeskaal word om geld te spaar in beide die staats- en private hospitale.

Terwyl “dringende en dramatiese ingryping nodig is om die tekorte te ondervang” en “baie meer professionele verpleegkundiges opgelei moet word as ons veilige gesondheidsdienste wil lewer”, soos wat Dr Bruwer maan, is dit alles behalwe wat gebeur.

Met die nuwe kurrikulum het die student-poste by groot hospitale weggeval en word dit nou beurse. Pleks van die sowat 8000 student-poste vir 4 jaar (dus sowat 2000 per jaar) teen 1990, is daar tans net 80 beurse wat by die twee groot Wes-Kaapse akademiese hospitale beskikbaar is.

As die kolleges onmiddellik begin om drasties meer professionele verpleegkundiges op te lei, sal die kumulatiewe effek en die verbetering eers oor tien jaar tot ’n sigbare verbetering aan dienste lei, het Dr Bruwer gemaan.

Die ou opleidingsprogram is gestaak, maar die inname van nuwe studente vir die professionele verpleegkursus (slegs aan universiteite) en die algemene verpleegkursus (aan verpleegkolleges) is buitengewoon laag.

Groot kommer heers ook oor die gehalte van opleiding van nuwe geregistreerde en stafverpleegkundiges, en die gehalte van verpleegdosente.

Selfs die SARV bevraagteken die peil van alle enkel-gekwalifiseerde verpleegkundiges op die Raad se register. Geen van dié verpleegkundiges, of verpleegkundiges wat die Raad vir Hoër Onderwys se 4-jaar diploma op vlak ses geslaag het, is volgens die SARV op die vereiste peil om verder te spesialiseer in waaksorg, teatersorg, pediatrie of ander spesialisrigtings nie.

Die grondslag-opleiding van stafverpleegkundiges gee ook baie dokters en ervare verpleegsusters hoofbrekens, en maak dit baie moeilik om hierdie verpleegkundiges met oorbruggingskursusse verder op te lei, het uit kommunikasie met hospitale en dokters aan die lig gekom, en ook uit die HASA-verslag.

Hoewel die Netcare en Mediclinic-hospitaal groepe oor die jare al talle vertoë gerig het vir groter betrokkendheid by die opleiding  van geregistreerde en stafverpleegkundiges, bly die SARV onversetlik. Met sowat 46% van verpleegsusters in diens van die private sektor, is dit noodsaaklik dat private verpleegopleiding uitgebrei word.


Is daar oplossings?

Hoewel dit reeds te laat is om die agterstand in te haal, kan drastiese en dringende optrede deur die Minister van Gesondheid en die Staatspresident, wel die omvang van die komende ramp versag deur baie meer geld vir verpleeg-opleiding aan die provinsies te bewillig, het dr Bruwer gesê.

Ander lande ondervind ook verpleegtekorte en die invoer van Spaans-sprekende en Indiër-verpleegkundiges kan nie as ’n haalbare en langtermyn-oplossing beskou word nie.

Wat onmiddellik binne die volgende 3 jaar gedoen moet word:

  • Die akkreditasie van verpleegkolleges vir die nuwe kurrikulum moet dadelik afgehandel word,
  • Dosente van goeie gehalte moet dringend gewerf en opgelei word,
  • Die inname van studente vir opleiding as geregistreerde verpleegkundiges moet van 3000 per jaar tot 20 000 (eintlik 40 000) per jaar vermeerder word,
  • Al 23000 vakante verpleegposte in die staatsektor moet onmiddellik gevul word,
  • ’n Intensiewe program moet ingestel word om stafverpleegkundiges waar moontlik verder op te lei tot algemene verpleegkundiges,

Dié drastiese en dringende optrede, saam met voldoende begotings, word deur al die instansies en navorsers bepleit, terwyl die Departement van Gesondheid sonder besef van dringendheid op 2025 wag op basiese navorsing.

 

Van my bronne

https://www.hasa.co.za/wp-content/uploads/2017/05/A-profession-in-peril-Revitalising-nursing-in-South-Africa-2.pdf

https://www.nursingcenter.com/ncblog/december-2019/nurse-patient-ratio

https://www.gtac.gov.za/wp-content/uploads/2022/02/Medical-Practitioners-and-Nurses.pdf

http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0038-23532013000300008

http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0038-23532013000300008

https://vaalweekblad.com/43676/verpleegpersoneeltekorte-dringende-ingryping-nodig-se-solidariteit/

https://solidariteit.co.za/gesondheidsorg-nader-krisis-weens-tekort-aan-verpleegsters/

https://www.iol.co.za/news/politics/public-hospitals-have-shortage-of-more-than-10-000-nurses-and-1300-doctors-474f9729-2363-480a-b54c-72c1509760b4

https://beroepsnetwerke.solidariteit.co.za/verpleging-werk-privaat-of-staat/

https://hasa.co.za/wp-content/uploads/2019/02/ECONEX_HASA-multiplier-report_26102017.pdf

,