Sondae op RSG word weer in goud gedoop


Vir dertien weke gaan RSG-luisteraars se Sondagoggende in goud gedoop word.

Tina Turner

Die vierde reeks van die gewilde Die Midas van Musiek begin op Sondag 2 Julie net na 10:00 op RSG.

In hierdie reeks van dertien episodes sal die goue treffers van kunstenaars soos Cliff Richard, Tina Turner, Sammy Davis Jr., Kris Kristofferson, Van Morrison, Linda Ronstadt, Chris Isaak, Petula Clark en die Beach Boys gehoor word.

Linda Ronstadt

Die aanbieder en samesteller is Kobus Burger, RSG se programbestuurder.

In die Griekse mitologie was Koning Midas geseën met ‘n besondere gawe – alles wat hy aangeraak het, het in goud verander.

Die maatstaf vir sukses in die popmusiekbedryf is dikwels goue status vir albumverkope. En tog is daar sangers, liedjieskrywers en selfs produksieleiers wat met die Midas-aanraking kon spog sonder dat hulle noodwendig daardie miljoene kortspelers of albums verkoop het.

Hierdie reeks stel nóg van hierdie Midas-musikante bekend en is die opvolg van die eerste, gewilde reeks wat in 2018, asook die tweede reeks wat in 2021 en derde reeks wat in 2022 uitgesaai is.

Van Morrison

Volgens Kobus Burger sal daar suiwer nostalgie, verfrissende feite asook ‘n paar verrassings wees.

“Elke Midas-program is ’n ‘storie’ in die kleine. Ek probeer om met elke program en kunstenaar die persoon se lewensverhaal met ’n paar interessanthede en besonderse musieksnitte te vertel. En dit is elke keer verblydend as luisteraars my bedank vir die “storie” van daardie oggend!

“Die samestelling van Die Midas van Musiek is gewoonlik ‘n opwindende snuffeltog. Buiten die musiek – waarvan daar gewoonlik hopeloos te veel is om van te kies – is dit soos om vir ‘n paar dae in die voetspore van ‘n besonderse kunstenaar te loop en dan ietsie van daardie ontdekkingstog in klank te deel. Ek sien daarna uit om weer Sondae saam met die luisteraars te reis en hul oggende met Midas se goud te omboor.”

Sammy Davis Jr

Luister van Sondag 2 Julie, elke Sondagoggend om 10:00, na Die Midas van Musiek met Kobus Burger.

Wat die luisteraars sê:

“Ai ek geniet jou programme so verskriklik, moet asseblief nooit ophou nie….en jy kan maar die herhalings oor en oor weer uitsaai.” – Retha le Roux, Boggomsbaai