Jou sportdrankie bevat dalk kombuiskas-melamien!


‘n Handvol sportaanvullers. Na raming bevat tussen een-derde en die helfte van alle sportaanvullers verbode middels.

Wat is in daardie proteïendrankie wat jy of jou sportmal tiener daagliks afsluk? Kan dit wees dat dit verbode middels bevat, al word dit nie op die etiket aangedui nie? Kan dit wees dat een van die ‘onskuldige’ proteïendrankies wat Aphiwe Dyantyi dalk gebruik het, drie verbode middels bevat?

Marí Hudson gesels met Dr Gary Gabriels, ’n wetenskaplike van die departement Apteekwese en farmakologie aan Wits, wat navorsing gedoen het op die inhoud van verskeie ‘onskuldige’ proteïendrankies. Jou ore sal tuit oor wat hy in die drankies gekry het, want dié nywerheid van voedsel-aanvullers is na jare steeds totaal ongereguleerd in Suid-Afrika!

Enkele belangrike feite wat aan die lig gekom het:

  • Sommige mense wil vinnig spiere bou.

    Meer as een uit elke drie sportdrankies bevat volgens alle aanduidings verbode middels soos anaboliese steroïede of stimulante.

  • Melamien – wat gebruik word in die maak van kombuiskaste – is in sommige sportdrankies en voedsel-aanvullers gevind. Melamien bevat baie stikstofryke verbindings, maar dis nie die soort wat in proteïne vir menslike gebruik voorkom en gesond is vir mense nie en lei later tot ernstige nierskade. Dus, sommige mense wat dink hulle drink stikstofryke voedsel-aanvullers, sluk eintlik hul kombuiskaste af.
  • Die voedsel-aanvuller bedryf in SA word baie swak gereguleer en die aanvuller wat jy drink, het nie noodwendig die bestanddele in wat op die etiket staan nie, en het moontlik bykomende verbode middels in. Daar is ook geen waarborg dat die doserings wat op die etiket aangedui word, werklik in die aanvuller is nie.
  • As die aanvuller jou help om spiere te ontwikkel en dus ‘werk’, kan jy byna doodseker wees dat daar verbode middels in die aanvuller is.
  • Baie ouers plaas druk op hul tieners om te presteer in sport en moedig inderwaarheid aanvuller-gebruik aan.
  • Indien ‘n professionale atleet of rugbyspeler of enige sportman wat nie verbode middels wil gebruik nie, doodseker wil maak dat die aanvuller wat hy neem, nie verbode middels bevat nie, is om dit self by ‘n laboratorium soos die WADA geakkrediteerde laboratorium in Bloemfontein te laat toets. En dan moet elke liewe ‘batch’ van die aanvuller van voor-af getoets word. Indien die sportman nie dié toetse self laat uitvoer nie, kan hy onder geen omstandighede aanneem dat die aanvuller wat hy gebruik nie verbode middels bevat nie.