Geluk aan ons Radiodrama-wenners!


“Vat realisme, meng dit met empatie, goeie dialoog en ‘n skokkende einde en jy het inderdaad ‘n wenner wat op baie vlakke bevredig.”

Die wenner, Lee Doubell

Só beskryf die beoordelaars die wendrama in vanjaar se RSG Radiodrama-skryfkompetisie. Die 64-jarige Johannesburgse skrywer Lee Doubell het die eerste prys van R50 000 ontvang vir sy radiodrama, Houvas.

Die kompetisie is vanjaar vir die 26ste keer aangebied en bykans 120 inskrywings is ontvang.

Francois Bloemhof, die naaswenner

Vyftien minute van roem deur die 60-jarige skrywer Francois Bloemhof van Durbanville het die tweede prys ontvang. Bloemhof is ‘n bekroonde skrywer bekend om sy bekroonde boeke vir volwassenes, tieners en kinders. Hy ontvang R25 000. Vyftien minute van roem is Bloemhof se derde radiodrama.

Adelle van Wyk palm die 3e prys in.

Adelle van Wyk, ‘n 50-jarige arbeidskonsultant van die Wes-Kaap, het die derde prys ingepalm met Die vlek van menswees. Van Wyk het die kompetisie in 2020 gewen met Makkie onthou. Haar prysgeld is R15 000.

Alme Swart ontvang die prys vir Jong Skrywer

Almé Swart, ‘n 28-jarige illustreerder en boorling van Kimberley, ontvang die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar). Sy ontvang R15 000 vir haar debuut-radiodrama, Mot.

Karin du Toit

Die beoordelaars se merieteprys van R10 000 is aan Karin du Toit, ‘n 42-jarige oogkundige van Vanderbijlpark, toegeken. Du Toit het die prys ingepalm met haar sielkundige riller, Troufoto’s. Sy het die kompetisie in 2019 gewen met Die lyk en haar finalis-radiodrama van verlede jaar, Onderhoud met ‘n boemelaar, is onlangs op RSG uitgesaai.

Wat die beoordelaars sê
Die beoordelaars reken dat vanjaar se oes finalis-radiodramas ‘n hele paar “blink geslypte diamante” opgelewer het met dialoog wat meer “los, lewendig en realisties-alledaags” was as vorige jare se dramas.

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie het vanjaar uit twee afsonderlike rondes van beoordeling bestaan en altesame agttien finaliste is aangewys. Die finaliste het mentorskap ontvang voordat die tekste in die eindronde weer eens anoniem beoordeel is.

Die totale prysgeld was R115 000 en die wendramas sal van April 2023 in RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2023 gehoor word.

Die kompetisie is moontlik gemaak deur borgskappe van NATi (die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) en Sanlam.

Volgens Kobus Burger, RSG se senior regisseur mandaat, was die beoordelaars dit vanjaar eens dat die inskrywings van ‘n besonder hoë standaard was. “Dat ‘n skrywer soos Erica Harris die algehele wenner is, bewys dan ook dat RSG en Sanlam se langtermyn-belegging in skrywers en hul loopbane vrugte afwerp. Soos die spreekwoord lui: aanhouer wen!

“Beide bekende name asook nuwelinge met debuutwerke het uitgeblink. En die verskeidenheid in tematiek en die verkenning van soveel verskillende genres bewys dat radiodrama – nou, meer as ooit – van krag tot krag gaan.”

Twitter @zarsg

Radiodrama-wenners op 2 Desember bekend