Van dagga, geweld, arktiese ys, Maties rugby en Laurika Rauch in nuwe dokumentêre reeks


Is dagga werklik ‘n nuwe wonderkuur? Hoe kan jy stylvol aantrek, sonder om jou hele salaris op peperduur klere te spandeer? Hoekom besluit kinders om hul rug op hul ouers te draai? En hoe het Portchie se kuns in ’n nasionale kleurontploffing ontwikkel?

Hierdie is net enkele temas in RSG se dokumentêre seisoen wat op Donderdag 3 Julie om 20:00 afskop met ’n Kerkorrel in jou voorhuis en ’n vliegtuig in jou agterplaas.

3 Julie:

Taco Kamstra

Kobus Rudolph open die dokumentêre seisoen met die verhaal van Taco Kamstra (64), ’n Nederlandse Pretorianer wat motors en sportvoertuie versamel.

Hy is ’n volslae enjinentoesias wie se voertuie al in talle rolprente en musiekvideo’s te sien was.

Lees meer oor Taco Kamstra – Op sy eie werf

10 Julie:

Daggaplant

’n Week later kyk Jaco de Waal na al die “dagga-winkels” wat op bykans op elke straathoek enigiets van koekies tot suiglekkers met die giggelgras verkoop.

Is dit regtig gesond vir ’n mens?

17 Julie:

Ina Strydom kuier op Donderdag 17 Julie by die veteraan-aktrise en skrywer Woutrine Theron, bekend om haar rol in gewilde reekse soos Nommer asseblief.

Woutrine Theron: Die pad van ’n pionier handel oor die geliefde aktrise wat ook ’n nuwe geslag akteurs geïnspireer en opgelei het.

24 Julie:

Geslagsgebaseerde geweld word as ‘n nasionale krisis bestempel. Heindrich Wyngaard ondersoek op Donderdag 24 Julie in Agter geslote deure die invloed daarvan op oud en jonk se lewens en kyk na maniere hoe dit voorkom kan word.

31 Julie:

Porchie

Carla MacKenzie gaan in Maria’s Manor – Die kuns en lewe van Portchie op Donderdag 31 Julie na die seun van ‘n groenteboer in die Vrystaat se opgang in die kunstewêreld kyk en hoekom sy kleurvolle kuns tot soveel mense spreek.

7 Augustus:
Van pool tot pool: Arktiese en Antarktiese see-ys
is Martelize Brink se dokkie oor die drastiese afname in die Arktiese see-ysbedekking en watter invloed dit op die klimaat het.

Is ons naïef as ons dit afmaak as ‘n ontwikkeling wat nie ons lewens gaan beïnvloed nie? Luister op Donderdag 7 Augustus om 20:00.

14 Augustus:

Kerkstraat in die ou dae

‘n Week later vertel Johan Rademan van Pampoenkraal wat vanjaar 200 jaar oud is. Dié dinamiese dorpie was die tuiste van Mark Shuttleworth en Suid-Afrika se boer van die jaar, Johan Brink. Die oudste keramiekmuseum en die bekendste wamaakbedryf is ook in Durbanville, voorheen Pampoenkraal, gehuisves.

21 Augustus:

Jeffreysbaai

Ilse Salzwedel gaan op Donderdag 21 Augustus na Jeffreysbaai reis en vertel van ‘n gemeenskapsprojek wat almal laat saamwerk het om die armes by te staan.

28 Augustus:

Jody Hendricks kyk in ‘n Nalatenskap wat inspireer, op Donderdag 28 Augustus, na die geskiedenis van die Maties-rugbyklub, Doc Craven se nalatenskap en hoe die klub van ‘n amateur- tot ‘n professionele rugbyklub ontwikkel het.

4 September:

Laurika Rauch

Die sangeres Laurika Rauch het vroeër vanjaar haar uittrede uit die musiekbedryf aangekondig. In Met ‘n lied op die lippe: Die lewe van Laurika Rauch gaan Jacqui January die mens en sangeres agter immergroen treffers soos Op Blouberg se strand en Jy is te dierbaar beter leer ken.

11 September:

Esté de Klerk delf op Donderdag 11 September in Ek mis my kind in die persoonlike verhale van ouers en kinders wat deur ouervervreemding geraak is. Die dokkie bied ‘n kragtige blik op die mees pynlike en ‘n dikwels onsigbare gesinsdinamiek van ons tyd.

18 September:

Christo van Rheede

In Stap saam met Christo van Rheede, op Donderdag 18 September, gaan Haidee Muller-Isaacs met die voormalige uitvoerende hoof van Agri SA deur die strate van Goedverwacht in die Bergriviervallei, sy grootwordplek, stap en hom beter leer ken.

Van Rheede is tans die voorsitter van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.

25 September:

Die seisoen word op Donderdag 25 September afgesluit met Styl sonder ‘n hap uit jou beursie. Sue Pyler-Slabbert kyk na die nuwe modeneiging en spaarbeweging genaamd thrifting. Waar kom dit vandaan en hoekom is dit skielik op almal se lippe?

Vir meer inligting besoek rsg.co.za