Luister weer: ‘n Storie oor Dirk Ligter, legende van die Tankwa-Karoo


Daar is baie stories oor Dirk Ligter – legende van die Tankwa-karoo. Wat waar is en wat nie, is nie altyd duidelik nie.

In Donderdag, 8 Desember se Radioteater op RSG tree twee skrywers met mekaar in gesprek oor hulle onderskeie weergawes van Dirk Ligter en sy lewe.

Die skrywer van die drama, Albert Maritz, stel die twee skrywers, Joe Dauth (Nic de Jager) en John Theart (Waldimar Schultz) aan die woord.  Albei het in die werklike lewe boeke oor Dirk Ligter geskryf. In die drama lees hulle vir mekaar hulle weergawes daarvan voor, en insidente word uitgebeeld deur ‘n reeks ander karakters.  En Dirk Ligter (Dean Balie) self kom ook aan die beurt met sy eie vertellings oor homself.

Die stuk is voorheen by die KKNK opgevoer, waarna Maritz dit verwerk het as radiodrama. Hy het dit ingeskryf vir die kompetisie van die Writers’ Guild of South Africa, waar hy toe die radio-afdeling gewen het.  Maritz, wat al sedert skooldae in radioproduksies gespeel het,  is ook die regisseur van die radiodrama.  Hy vertel : “In ‘n onderhoud met Leon van Nierop in 1974 of daar iewers, het ek vir hom gesê ek sien myself in die stoel van ‘n Pierre Marais, ‘n rolmodel in daai dae. En alhoewel ek sedert kindsbeen nooit weer ‘n begeerte had om radioregisseur te wees nie; 51 jaar nadat ek die eerste keer radiowerk gedoen het, kom die geleentheid van my kinderdrome.”

Die produksie is klank- en tekstuurryk, met musiek wat spesiaal geskep is. Die spelers is Nic de Jager,  Waldimar Schultz, Dean Balie, Zenobia Kloppers, Wessel Pretorius, Riaan Visman, Marion Holm en Frieda van den Heever.

Riaan Visman, Dean Balie, Zenobia Klopper, Waldimar Schultz, Frieda van den Heever, Nic de Jager. Agter: Albert Maritz. Voor: Wessel Pretorius.

Zenobia Kloppers, Albert Maritz, Wessel Pretorius en Riaan Visman

Dean Balie, Nic de Jager, Waldimar Schultz