Vanaf 27 Sep: Nuwe oggendboekvoorlesing, Dors


Ons nuwe oggendboekvoorlesing, Dors, deur Marinda van Zyl, begin op Maandag 27 September om 10:45.

 Die verhaal handel oor ‘n groep gesinne van die destydse Transvaal wat in 1876 by die Marico- en Krokodilriviere byeengekom het vir die trek na Damaraland.

Om daar te kom, moes hulle deur ‘n stuk dorre Kalahari trek, ‘n gebied wat as die Dors bekend gestaan het. Die trekke het dan ook later as die Dorslandtrek bekend gestaan.

Die lotgevalle van die Greylings en die Ackermans en ander lede van die trekgeselskappe word ineengeweef en ons leer ken die hardkoppige Jan Greyling en sy gesin, die wilde Adriana Ackerman wat beter perdry en skiet as baie mans; en Tiaan Roets die dromer en kunstenaar wat wil teken en die knopsterttroupant wil sien.

Die ongenaakbaarheid van die natuur en elemente soos malaria, droogte, en wilde diere; sowel as menslike eienskappe en emosies soos hardkoppigheid en vrees; onverdraagsaamheid en liefde; en vasberadenheid en uithouvermoë is die agtergrond vir die lief en die leed van die gesinne en die mense met wie hulle saamleef en saam trek.

Die voorleser is die akteur en stemkunstenaar Johny Klein.

Dors, deur Marinda van Zyl vanaf Maandag 27 September 10:45 op RSG.