Verlore Erica herontdek


Erica recurvata

Waarheid is soms vreemder as verdigsel…

Afgetrede fynboskweker  Adriaan Hanekom het vertel op Oggend vir RSG oor die herontdekte Erica.

Meer as twee eeue gelede was dit mode in Europa om vreemde blomplante in glashuise te kweek. So het Kew Gardens in Engeland talle Suid-Afrikaanse Ericas vanaf saad wat hier versamel is in blom gebring. Dit was ook die geval met Erica recurvata (uit saad wat moontlik deur James Niven versamel is) wat deur Kew gekweek en deur Henry Andrews in 1802 benaam, beskryf en geskets is. Dit het deel gevorm van Andrews se bekende Coloured Engravings of Heaths met ‘n  duidelike skets van die blom met ‘n uitsonderlike lang styl.

Erica recurvata, plate from Andrews Heathery

Toe hierdie spesie egter na ‘n eeu nooit in die natuur gevind kon word nie is toenemend begin glo dat dit al die tyd ‘n tuinbaster en gevolglik ‘n ongeldige spesie was.(Tuinbasters ontstaan soms as ‘n verskeidenheid spesies van dieselfde genus saam in onnatuurlike glashuis-omstandighede gekweek word.)

Francis Guthrie en Harry Bolus het gevolglik (toe hul die genus aan die begin van die vorige eeu hersien het) hierdie erica as “without locality, cultivated specimens !” beskryf. Sedertdien is E. recurvata al meer as vals spesie degradeer en soms selfs uit Erica-lyste gelaat.

Erica recurvata

Toe Ross Turner onlangs plantkundige opnames maak in die Sunbird Bavaria by Napier vind hy ‘n totaal onbekende Erica (hoewel hy die genus wel deeglik ken)  met ‘n uitsonderlike lang styl wat in skeurtjies teen barre rots groei. Gedagtig dat dit ‘n nuwe spesie kan wees neem hy toe ‘n monster daarvan na die wêreld se voorste Erica kenner, Ted Oliver by Stellenbosch. Ted se geheue van die Andrews-sketse stel hom toe in staat om die kolskoot vergelyking te maak. Inderdaad Erica recurvata! Omdat dit in die natuur voorkom (hoewel net ‘n handvol plante) is dit bo alle twyfel van altyd af ‘n geldige spesie.

Erica recurvata

Dat ‘n plantspesie vir meer as twee eeue nadat dit gekweek, benaam, beskryf en geskets is moes wag om weer in die natuur opgespoor te word, is inderdaad ‘n rekord tot op hede.

Die plant sal te sien wees by die Overberg inheemse vertoonkas uitstalling by Nampo Kaap op Bredasdorp van 12 – 14 September.

Die Erica groei op klipplate