Owerspelige Batseba was nie net sleg nie


In die reeks Fenomenale vroue van die Bybel word die lewens van verskeie Bybelse vroue van naderby bekyk en bespreek.  ’n Kundige sluit weekliks by die aanbieder in die ateljee aan om hierdie Bybelse vroue se lewensverhale van toepassing te maak op die moderne tyd.

Die aanbieder Charl Janse van Rensburg gee meer agtergrondinligting oor die reeks, wat Sondagaande om 19:00 uitgesaai word.

Charl skryf:

Ek het deur my jare in die kerk tot die ontstellende besef gekom, dat meeste vroue in die Bybel en daarmee saam in prediking, ’n negatiewe konnotasie het, as’t ware, ’n brandmerk van sonde en skuld wat hulle tot in so ’n mate definieer, dat hulle nooit as enigiets anders as ‘sleg’ bekend sal staan nie. Ander vroue word weer opgehemel, maar daar word gerieflikheidshalwe vergeet dat ook hulle sonde en tekortkominge het.

In hierdie reeks wil ek kyk na sommige van hierdie vroue in die Bybel, en mense herinner dat almal van hulle, ten spyte van hulle foute en misstappe, steeds ’n wonderlike verhaal van geloof en genade het om te vertel.

Luister na sy gesprek met Lizelle de Bruin:

 

1. Eva (3 Julie 2022)
Die eerste vrou wat bespreek is, was ook die eerste vrou wat in die Bybel genoem word, naamlik Eva.

Banishment of Adam and Eve from the Garden of Eden (Genesis 3). Illustration from The Children’s Book of Old Testament Story, by Mrs C D Francis (Society for Promoting Christian Knowledge, London, 1913).

Ten spyte van wat almal mag dink, was Eva ’n sterk vrou, ’n fenomenale vrou. Sy moes al die pligte van ’n vrou en ma nakom, sonder dat sy ooit self ’n ma gehad het om haar te leer. Eva is die moeder van alle vroue op aarde, en daardie fenomenale krag en deursettingsvermoë is in elke vrou wat bestaan se DNS verweef.
Jy is meer werd as wat ander jou laat glo, jy is sterk, jy is genoeg en jy kan jou omstandighede oorwin, want Eva se bloed vloei deur jou are.

 

2. Hagar (10 Julie 2022)
Ons lees van ’n slavin wat deur haar eienares aan die se man gegee word om vir hom in ’n kind in die wêreld te Bring. Aangesien sy geen keuse gehad het nie, gee sy gehoor. Jare later, toe haar eienares self aan ’n seun lewe geskenk het, word sy weggejaag en gelos om in die woestyn te veg vir haar en haar kind. Maar God bring uitkoms en redding.

Dikwels bevind vroue hulleself in situasies waar hulle nie wil wees nie, maar ook nie kan uitkom nie. God weet wat jou seer en omstandighede is, Hy weet ook hoe om jou daaruit te verlos – Gee dit vandag vir God en as jy sien dat alles rondom jou soos ’n woestyn begin lyk, dan weet jy, God se redding is naby!

 

3. Sara (17 Julie 2022)
Sy het geglo in belofte wat God aan haar gemaak het, maar in hierdie teks word ons weer herhinner dat God se tyd nie ons tyd is nie. Selfs ten spyte van haar ongehoorsaamheid, het God steeds Sy belofte aan Sara nagekom.

Moenie moed verloor omdat dinge dalk te lank vat om te gebeur nie, God is getrou en sal altyd Sy beloftes nakom. Selfs al lyk dit vir jou of dit te laat is, tyd is nie ’n faktor in die Almag van God nie.

 

4. Ragel (17 Julie 2022)
’n Hartseer verhaal van ’n vrou wat deur haar eie pa bedrieg is. Hierdie gebeure het baie ernstige nagevolge vir Ragel ingehou, maar ten spyte van dit alles, het God haar gebede verhoor, is sy getroud met die liefde van haar lewe het sy een van die stam- moeders van die Joodse volk geword.

’n Verhaal wat ons leer dat selfs die slegte dinge wat met ons gebeur, alles ten goede sal meewerk. God het ’n groter plan vir ons as wat ons ooit vir onsself kan hê.

 

5. Jogabet (31 Julie 2022)
’n Vrou wie se naam ons nie noodwendig ken nie, maar wie se seun aan ons almal baie goed bekend is. Hierdie vrou moes noodgedwonge haar kind in die hande van God en die mag van die Nyl oorlaat, toe sy hom in ’n biesie-mandjie gesit het sodat die Farao hom nie sou doodmaak nie. Deur haar kind hoër as haarself te ag, het sy jare later tot die bevryding van die Israeliete bygedra.

Soms doen ’n ma haarself te kort te wille van haar kinders, en niemand behalwe hulle sien dit raak nie, jy is nie ’n Slegte ma nie, jy het gedoen wat die beste vir jou kind was. Al is dit net jy en God wat die weet. Jy is ’n heldin wie se naam nie geken word nie.

6. Ragab (7 Aug 2022)
Sy was ’n baie bekende vrou in antieke Jerigo gewees, alhoewel dit waarskynlik vir geheel en al die verkeerde redes was. Tog, het God haar gebruik om Sy volk die beloofde land te laat intrek.

Maak nie saak hoe donker of oordeelwaardig jou verlede is nie, God het ’n plan met elkeen van ons. Selfs al dink ander vroue jy is minderwaardig, jy is ’n dogter van die Allerhoogste en net Hy weet hoe Hy jou gaan gebruik om die wêreld te verander. Jy moet net bereid wees en Hom ’n kans gee.

7. Rut (14 Aug 2022)
Die verhaal van ’n vrou wat to bekering gekom het, ’n diep liefde vir haar skoonma ontwikkel het en getrou by haar gestaan het, tot die dag van haar dood. Rut leer ons dat vroue nie ’n man nodig het om te oorleef nie, maar mekaar.

Deur die eeue heen is vroue geleer dat as sy nie ’n man het nie, dan is sy niks nie. Rut leer ons dat wanneer vroue saamstaan, kan hulle die wêreld ’n beter plek maak vir mekaar en vir almal anders. Moenie mekaar veroordeel en probeer vernietig nie, ondersteun mekaar, staan mekaar by en help mekaar, jy sal sien hoe vinnig die wêreld ’n beter plek raak.

Prof. Fanie Snyman van die Vrystaat Universiteit gesels oor Rut.

8. Hanna (21 Aug 2022)
Dikwels vergeet ons die waarde van ’n belofte, ons bid en pleit vir God om ons gebede te verhoor en sluit soms ’n ooreenkoms met God. Maar wanneer ons gebede verhoor is, dan is die belofte vergete en die ooreenkoms nietig…. Hanna leer ons die belangrikheid van getrouheid in ons beloftes, nie net aan God nie, maar ook aan mekaar.

Wanneer jy ’n belofte maak, kom dit na, dit sal veelvoudig na jou toe terug kom en jy sal as ’n betroubare vrou bekend staan, ’n vrou wat leef in die lig van God.

9. Batseba (28 Aug 2022)
Amper uitsluitlik bekend as die vrou wat vir Koning Dawid in owerspel in gelei het, word hierdie vrou weereens gebrandmerk deur ’n enkele fout in haar lewe. Tog wanneer ons verder gaan lees, sien ons dat Batseba, ten spyte van hulle ontmoeting, een van die beste dinge was wat ooit met Koning Dawid kon gebeur het. As gevolg van haar, draai Dawid sy lewe om en word hy die Koning wat God van die begin af wou gehad het hy moet wees. Sy het haar fout erken en bely, sy was daarna ’n getroue vrou, ’n goeie ma en ’n vrou met eer en aansien in die koninkryk van haar man en later haar seun Salomo.

Moenie dat een misstap in jou verlede jou weerhou daarvan om die lewe van iemand anders te verander nie. Jy is nie die gevangene van jou foute nie, jy is die argitek van jou sukses. Bely, bekeer en begin ’n nuwe hoofstuk, een wat vertel van ’n koningin, nie van ’n verleidster nie.

Ds. Plantjie Janse van Rensburg gesels met ds. Janine Fourie oor Batseba, die vrou wat bekend is daarvoor dat sy op ‘n dak gebad het en toe deur koning Dawid in owerspel betrek is. Die betekenis van haar lewe word bespreek.

10. Maria (4 Sept 2022)
Die moeder van Jesus is moontlik een van die mees bekende vroue in die Bybel. Skilderye, gedigte verhale en selfs ’n prominente deel van die Katolieke geloof, geniet geen vrou in die Bybel meer aandag en erkenning as sy nie. Tog kan ons nie help om te wonder; het Maria geweet waarvoor sy haarself inlaat? Het sy verstaan waardeur sy alles sou moes gaan, daardie dag toe die engel aan haar verskyn het? Die oordeel van ander mense, die eensaamheid van ’n ma wie se Seun altyd op reis was, en natuurlik, om die dood van haar eersgeborene te aanskou. Dit is dikwels dit wat ons die seerte in die lewe maak, wat ons ook die sterkste maak. Maria word as een van die mees fenomenale vroue van alle tye beskou, nie net omdat sy die ma van Jesus was nie, maar omdat sy al die aanslae van die lewe weerstaan het, en steeds getrou was aan God.

Die slegte dinge in jou lewe hoef jou nie te breek nie, dit kan jou juis verhef, tot ’n inspirasie vir ander.

11. Maria Magdelena (11 Sept 2022)
Van gewonde, tot getuie: Dit is die verhaal van Maria Magdelena, ’n vrou wat dikwels verkeerd verstaan word in die Bybel. Nadat Jesus haar genees het van demoniese besetenheid, word sy een van Sy mees getroue volgelinge, sy word ’n getuie van Sy bediening, Sy kruisiging en ook die eerste getuie van Sy opstanding. ’n Vrou wat nooit ’n plek van aansien tussen destydse gelowiges sou geniet het nie, word een van die mees waardevolle karakters in die Jesus Evangelie.

Dikwels is dit juis die vrou wat nie aansien in die kerk of tussen ander gelowiges geniet nie, wat die mees deurslaggewende getuienis van Jesus lewer in die wêreld. Die kerk, gemeente en lidmate bepaal nie jou waarde en jou getuienis nie, dit wat jy vir ander doen, juis uit die oog van die kerk, bepaal hoe mense vir Jesus deur jou gaan leer ken.

12. Die vrou by die put (18 Sept 2022)
Een van die belangrikste vroue in die Bybel, en tog word sy dikwels misgekyk. Hierdie vrou was letterlik die plakkaat van hoe mens nie moet lewe nie en ook vir wie die gelowiges nie mag gemeng het nie. Sy was eerstens ’n Samaritaanse-vrou (verafsku deur die Jode), sy was al meer as eenmaal getroud en bly Tans saam met ’n man met wie sy nie getroud is nie, en buitendien, sy was ’n vrou, iemand wat nie met ’n man mag gepraat het sonder die toestemming van haar eie man nie… maar watter een? Tog, ten spyte daarvan dat Sy aksies alle en elke sosiale en geloofs-riglyne oortree, gaan praat Jesus met hierdie vrou, want volgens Hom, mag niemand uitgesluit word nie.

As Jesus self nie hierdie vrou uitsluit of miskyk nie, wie is ons om ander uit te sluit of mis te kyk? Hierdie vrou is die plakkaat van ons opdrag om almal, ongeag ras, klas, kultuur, geloof of verlede, te omarm. Al dink ander mense jy is nie hulle tyd werd nie, Jesus sal al Sy tyd met jou spandeer, want jy is meer werd as wat mense ooit sal besef.

13. Die owerspelige vrou (25 Sept 2022)
Nog ’n verhaal van ’n vrou wat nie ’n naam het nie, maar geken word aan die misstap wat sy begaan het. Nie bekend as ’n goeie ma, ’n harde werker of ’n skerp besigheidsvrou nie, nee, sy staan bloot bekend as die vrou wat in owerspel betrap is. Hier is ’n paar interessante aspekte rakende die verhaal. Eerstens, is dat die man met wie sy betrap is nêrens te siene is nie, asof sy alleen skuldig was. Dan is dit tweedens ook baie opvallend dat al die priesters, skrifgeleerdes en familiehoofde, diegene wat die Torah op die punte van hulle vingers geken het en veronderstel was om die Messias op ’n myl te kon sien aankom, Jesus aanspreek as “Meneer”. Maar hierdie vrou, sy wat weet die enigste ding wat tussen haar en ’n sekere dood staan, is hierdie man wat hulle Jesus noem. Sy sien Hom en besef; Hy is haar redder en verlosser, daarom, wanneer sy met Hom praat, noem sy hom “Here”.

Baie mense het baie boekke kennis oor Jesus, maar om Hom te ken beteken iets geheel en al anders. Baie mense hou hulle voor as heilig en goeie Christene, die vraag is; ken hulle werklik vir Jesus? Of is Hy bloot iemand van wie hulle gelees het? Dit maak nie saak hoe jy jou lewe leef nie, wat saak maak is of Jesus ’n lewende en aktiewe deel daarvan is. Ken jy vir Jesus? Meer belangrik as dit, ken Jesus jou?