Welkom by Monitor, Udo!


Udo Carelse

Toe die rooi lig aanskakel vir sy heel eerste nuusbulletin, het hy geweet die mediawêreld is vir hom. Dit was 22 jaar gelede toe hy as 20-jarige by die Kaapse radiostasie KFM gewerk het. Só gesels Udo Carelse, wat onlangs by die Monitor-span aangesluit het.

Hy beskou homself as ‘n storieverteller:  of hy nou “agter die mikrofoon is om te klets oor die jongste nuus en aktuele gebeure, en of dit voor die kamera is as sportaanbieder”.

Die afgelope 22 jaar was Udo onder meer nuusredakteur by die jeugradiostasie YFM, nuus- en aktualiteitsaanbieder en redakteur by 702 en Cape Talk, aanbieder en vervaardiger van verskeie programme op e.tv en Supersport. Sy werk by Supersport het hom na talle Olimpiese Speles en rugbywêreldbeker-toernooie geneem.

Hy is ná 15 jaar weer terug op die SAUK-kassie as rugby-, krieket- en atletiekkommentator by SABC Sport. Hy is tans ook die aanbieder van The Weekend View op die SAUK se Engelse radiostasie SAFM.

Hy is ‘n trotse seun van die Weskusdorpie Atlantis en “hoop om meer direk met sy mense te kan kommunikeer deur Monitor.”

As hy nie werk nie, vat hy die langpad aan en reis die lengte en breedte van Suid-Afrika plat in sy ou 4×4 wa. Hy skrik vir niks as dit kom om die potte te laat prut nie. Moet glad nie verbaas wees as jy hom op die langpad agter ‘n braai of driebeenpot raakloop nie.

Ongeag die situasie waarin hy homself bevind, bly sy leuse: Dum Spiro Spero (Terwyl ek asemhaal, bly ek hoopvol).