Luister weer: Wuppertal se kosbare kultuurerfenis saamgevat in dokumentêr


WUPPERTAL: STAP VIR STAP DIE TOEKOMS IN deur Johan Rademan

“Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê”    –    Boerneef

Ongetwyfeld een van die bekendste en mees getoonsette gedigte in Afrikaans, sluit die naam Wuppertal in. Die spelling is soms ook Wupperthal en soos in die streeksgebruik van Boerneef, Woeperdal.

Wupperthal,_deur_HC_Knudsen

Wuppertal is ‘n Rhynse sendingdorpie wat in 1830 gestig is deur  2 Rhynse sendelinge, Johann Gotlieb Leipoldt, die skrywer-dokter, C Louis Leipoldt se oupa en Theobald von Wurm.

In 1965 het die Rhynse sendingkerk hul werk begin afgeskaal in Suid-Afrika en het Wuppertal as Morawiese kerk bly voort bestaan en tot vandag toe is dit n Morawiese sendingstasie.

“vra gerus die Kouebokkevellers en die Klamwieljammers en Woeperdallers”   –   Boerneef

 Jy sukkel om daar te kom, maar die Pakhuispas met die kenmerkende gruispaadjie van Clanwilliam se kant af, gaan jou uiteindelik by die bekoorlike dorpie uitbring.

Bekoorlik, maar afgesny en vol ekonomiese uitdagings.

Die eens florerende Wuppertalvelskoene het al begin taan en die geweldige brand, diep in die Cederberge, op Oujaarsaand 2018, het bykans die hele dorpie verwoes.

‘n Reuse inspuiting van die Historiese Huise-stigting van die Rupert-familie het die dorpie weer aansien gegee met “vellies” uit die skoenfabriek, restaurantbedrywighede en gasteverblyf, MAAR alles nog steeds op kleinskaal, in ‘n hergeboorte fase, soos die kleinskaal boerderye in die omgewing.


Op die groot saaidag van die heelal
het reeds duskant Wupperthal
oor die kaal Noordweste
‘n sakkie van die Heer se beste
saad per ongeluk gelek, gelek en
uitgeval
DJ Opperman

Die blommeseisoen help in die Namakwaland en dit hou die sleutel tot ekonomiese oorlewing en vooruitgang in die streek. Wuppertal se buiteposte moet ook betrek word en is ook afhanklik van n meer konstante inkomste stroom. Die Rupert-fondse en Morawiese-kerk se bystand was enorm, maar nou moet daar ander potensiaal ontgin word.

Een van die volhoubare projekte waarmee die reisagentskap livethejourney die gemeenskap betrek en bemagtig is die unieke flora en fauna se benutting in die asemrowende berg-omgewing, waar die Wuppertallers en buiteposte ingespan word om roetes te ontwikkel, verblyf te verskaf en streekskos te maak soos roosterkoek en askoek, maar ook hul eiesoortige vermaak soos die blaasorkes, rieldansers en selfs geskiedkundige praatjies aan te bied oor hul kultuurryke dorpie.

Bergfietspaadjies en donkiekar ritte is ook in die visier en 4×4 groepe doen graag daar aan.

Die Nuwe Graskoue Trappers
Een van die unieke verkoopspunte is o.a. die rooivelskoendanse en kaalvoet stofopskop van die Nuwe Graskoue Trappers, n rieldansgroep wat al die Afrika Riel in Los Angeles in Amerika gaan vertoon het. In die winter van Suid-Afrika in 2015 het hulle 13 medaljes, waarvan 4 goud, losgeslaan met danse wat uit die Khoi en San tradisies ontstaan het.

Die kosbare kultuurerfenis word saamgevat in Johan Rademan se besoek aan Wuppertal met die RSG-mikrofoon in RSG se dokumentere program Wuppertal – stap vir stap die toekoms in.

Lees meer:

https://en.wikipedia.org/wiki/File:Wupperthal,_deur_HC_Knudsen.jpg