162 Inskrywings vir ons radiodrama-skryfkompetisie!


Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie vier vanjaar sy 25ste verjaardag met altesame 162 inskrywings.

Die kompetisie lok jaarliks tussen 120 en 130 inskrywings. Verlede jaar – waarskynlik vanweë die Covid-inperkings – is ’n rekordgetal van 385 tekste ontvang.

Tans beoordeel ’n onafhanklike paneel die tekste op grond van die kompetisie se reëls en kriteria. Daarna word ’n kortlys saamgestel en ontvang die finalisskrywers mentorskap om op hul tekste te verbeter, sou hulle verkies om verder te skaaf.

Die finale tekste word dan ingedien en na ’n nuwe paneel beoordelaars gestuur.

Die wenners word op Vrydag 3 Desember tussen 15:30 en 17:00 in Spitstyd op RSG aangekondig. Vanjaar se wendrama sal R50 000 se prysgeld ontvang. Die totale prysgeld is R115 000.

Die wendramas word in RSG se eerste seisoen vir Radioteater vanaf April 2022 uitgesaai.