Luister weer: Lank lewe die langspeelplaat


Die Geskiedenis Van Die Langspeelplaat in Suid Afrika is die fokus van Haidee Muller-Isaacs se dokumentêre program LANK LEWE DIE LANGSPEELPLAAT op 17 Augustus om 8nm.

Die eerste langspeelalbums is in 1948 in die VSA uitgereik. Daar was twee formate, die 10-duim en 12-duim. Die eerste plaaslike langspeelplate is in 1954 in Suid-Afrika uitgereik. Min mense weet dat Maud Damons, ‘n boorling van Distrik Ses, die eerste Bruin vrouesanger was van wie daar ‘n album gemaak is, genaamd The Magic Of Maud. Jy kan meer uitvind oor die gespreksalbum van dr. Chris Barnard, The Human Heart Transplantation, wat op die mark verskyn het om sy geskiedkundige eerste hartoorplanting te herdenk. Haidee het ook gaan inloer by markte soos The Vinyl Faire, waar ywerige smouse hulle langspeelplate verkoop. Sy daar uitgevind hoekom mense na dese weer langspeelplate soek.


Haidee begin by Die bekendstellingsperiode 1948 – 1959

Die GALLO platemaatskappy het ‘n plaat van Hendrik Susan “Dans Saam Met Hendrik Susan” uitgereik het terwyl EMI op hul HMV etiket ‘n versameling inheemse Afrikaanse liedjies uitreik.

Gallo se Dans Saam Met Hendrik Susan album-omslag

In 1957 is ‘n unieke Suid Afrikaanse album van Elvis Presley getiteld “Jailhouse Rock” plaaslik uitgereik en in 1959 verskyn Nico Carstens se laaste 10” album met die titel “Boere Wisseldans”.  Suid Afrika sou meer as 50 jaar wag voor die volgende 10” album op die platemark verskyn.

Nico Carstens se Boere Wisseldans uit 1959

Op 22 Junie 1959 word die heel eerste Suid Afrikaanse stereo album “More Sing And Dance” van Duffy Ravenscroft deur GALLO uitgereik. En daaroor skryf die bekende liedjieskrywer Anton de Waal agterop die album-omslag: “Hierdie opname behaal die onderskeid om die eerste album in stereofoniese klank te wees wat in Suid-Afrika vervaardig en vrygestel is.”

Die land se eerste rugby album “Springbokke teen All Blacks Toets Hoogtepunte” word uitgereik na die All Blacks se besoek aan Suid Afrika in 1960. En Haidee speel vir jou ‘n opname daaruit: Die 2de Toets op 27 Julie 1960, Nuweland in Kaapstad.

1960 se langspeelplaat van Toets Hoogtepunte tussen die Springbokke teen die All Blacks

Haidee se dokumentêr verwys ook na nog ‘n unieke plaaslike album wat die lig gesien het tydens die besoek van Cliff Richard en die Shadows aan Suid Afrika. Die album “Rockin Guitars” wat die lewendige opnames van die Shadows insluit, is in Suid Afrika bekendgestel voor hul eerste amptelike langspeler in Brittanje uitgereik is.

Hier kan jy daarna luister: https://youtu.be/aEfODwvw7rY

En hierdie inligting is maar net ‘n lusmakertjie, daar wag nog baie ander interessante besonderhede waarvan jy dalk nie eens van bewus was nie. Min mense weet dat Maud Damons, ‘n boorling van Distrik Ses, die eerste bruin vroulike sanger was van wie daar ‘n album gemaak is genaamd “The Magic Of Maud”.

The Magic of Maud is in 1963 deur Gallo uitgereik

Jy kan meer uitvind oor die gespreksalbum van Dr Chris Barnard “The Human Heart Transplantation” wat op die mark verskyn het om sy historiese eerste hartoorplanting te herdenk.

Die omslag van Dr Chris Barnad se gespreksalbum

Album omslae is ook in verskillende vorms uitgereik soos die Small Faces album “Odgen Nut Gone Flake” met sy ronde omslag en The Rolling Stones se album omslag “Through The Past, Darkly (Big Hits Vol. 2)” met sy 8 hoeke.

Jy kan meer uitvind oor gekleurde vinielplate tot langspeelplate met oopvou omslae.

Dis nog lank nie al nie: Haidee het ook gaan inloer by markte soos The Vinyl Faire waar ywerige verkopers hul langspeelplate verkoop en daar meer gehoor wat hulle dink hoekom mense na dese weer langspeelplate soek.

Van die plateverkopers se voorraad by die gewilde Vinyl Faire wat een keer elke tweede maand aangebied word in Kaapstad

Video: Denver Fourie is ‘n plateversamelaar wat ook sy plate verkoop by verskeie markte oral in die Kaap. Hier is hy by die Vinyl Faire waar plateversamelaars hul voorraad verkoop aan ander versamelaars.

Die prys van ‘n nuut gedrukte langspeel vinielplaat sal jou egter na dese baie meer uit die sak jaag.

Desjare sou jy ‘n beskeie R3.99 opgedok vir ‘n gewilde plaat soos byvoorbeeld Pink Floyd se intreealbum genaamd “The Piper At The Gates Of Dawn” wat in 1967 uitgereik is. Vandag kos die nuut gedrukte viniel weergawe van hierdie album in Suid Afrika meer as R500.

Dit alles en nog baie meer in Haidee se dokumentêr Lank Lewe die Langspeelplaat Donderdagaand 17 Augustus om 8 – saamgestel en aangebied deur Haidee Muller-Isaacs. Jy wil dit beslis nie misloop nie.