Luister weer: Die Glasdeur, deur Henriëtte Grove


In die gees van Afrikaanse radio se 85-jaar bestaansvierings word ‘n klassieke argiefdrama op 3 November in Radioteater uitgesaai.

Die tweemalige Hertzogpryswenner, Henriëtte Grové, sou vanjaar 100 jaar oud wees.

Sy was bekend as prosaïs én dramaturg, en het die gesogte prys twee keer ontvang.  In 1981 is die prys vir Drama aan haar toegeken vir Ontmoeting by Dwaaldrif, en in 1984 vir Prosa vir Kêrel van die Pêrel.

Die spesifieke opname van Die Glasdeur, is in 1957 uitgesaai.  Die regisseur was Jan Schutte.

En die spelers is Anna Neethling-Pohl, Aletta Gericke, June Seymour en Pieter de Bruyn,

Die Glasdeur vertel die verhaal van drie oujongnooiens wat op ‘n afgeleë plaas woon. Dan kom ‘n jonger familielid by hulle aansterk – en sy teenwoordigheid krap ou wonde oop oor ‘n ander jongman wat baie jare gelede ook by hulle aangesterk het nadat hy in die oorlog gewond is.

Die glasdeur met die gekleurde glas is ‘n simbool van elkeen se drome en versugtinge en teleurstellings.