Is daar risiko-stadiums vir selfdood?


Elke dag sterf 18 mense in Suid-Afrika aan hulle eie hand. Is al die gevalle van selfdood voorkombaar? Is daar gapings in Suid-Afrika se gesondheidsorg-stelsels wat oorbrug kan word om die risiko van selfdoodpogings te verminder? Is daar spesifieke stadiums binne depressie-siklusse wat iemand meer weerloos maak vir selfdood? Is daar gevaartekens wat nie ernstig genoeg opgeneem word nie? Speel medikasie ’n rol?

 Marí Hudson gesels met ’n psigiater van SASOP oor risiko’s en risiko-stadiums vir selfdood.

Agtergrond inligting

Selfdoodrisiko moet beter bestuur word in SA om sterftes te voorkom

 Selfdood is voorkombaar, maar gapings in Suid-Afrika se publieke en privaat gesondheidsorgsisteme moet oorbrug word as die land die risiko van selfdoodpogings will verminder, wat die dood van ongeveer 18 mense elke dag veroorsaak. [i]

Selfdood het ’n blywende impak op families, werksplekke en gemeenskappe, en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters  (SASOP) moedig gesondheidsorgverskaffers aan om opvolgsorg vir die wat ’n risiko vir selfdood beloop beter te bestuur, eerder as om te fokus op ’n enkele intervensie tydens ’n krisis.

Suid-Afrika se selfdoodsyfer is na raming 13.4 mense per 100 000, en is ongeveer vier keer hoër as die wêreldwye gemiddeld van 3.6 per 100 000 [ii], maar “as strategieë in plek gesit word om die risiko van selfdood in die vroeë fases te identifiseer en te bestuur”, sal meeste van hierdie sterftes voorkom kan word, sê Dr Kobus Roux, ’n psigiater en lid van SASOP.

Die voorkoming van selfdood is die fokus van hierdie jaar se Wêreld Gesondheidsorgdag (World Mental Health Day) op 10 Oktober, met die Wêreld Gesondheid Organisasie wat beraam dat daar elke 40 sekondes een persoon van selfdood sterf[iii], ’n tragiese statistiek wat na die veldtog “40 seconds of action” ter voorkoming van selfdood, gelei het.

In Suid-Afrika, sê Dr Roux, stel die private en publieke sektore hulle verbruikers diep teleur deur nie opvolgsorg en deurlopende behandeling aan hoërisiko-pasiente wat selfdood probeer of daarmee gedryg het, te voorsien nie, alhoewel die fase van behandeling in meeste gesondheidsorgsisteme as die mees kritiek beskou word om selfdoodgetalle af te bring.

“Deurlopende terapeutiese kontak met hoërisiko-pasiënte is ‘n baie belangrike strategie in die voorkoming van selfdood. Dit moet in die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel en in die voorstelle vir die Nasionale Gesondheidsversekering geïmplementeer word,” sê Dr Roux.

Hy het Denemarke en Suid-Australië uitgelig as streke wat aansienlike verlagings in selfdoodsyfers behaal het deur strategieë te implementeer wat voortgesette buitepasiëntbehandeling na episodes van selfdoodgedrag insluit. [iv]

“Mense wat in die verlede episodes van ernstige selfdoodgedagtes of gedrag gehad het, loop ’n groter risiko dat die gebeure kan herhaal, en hulle benodig opvolgsorg en -bestuur vir ’n verlengde tydperk na die dreigement van selfdood voorkom is, maar dit is presies hierdie deel wat in Suid-Afrika afgeskeep word,” sê Dr Roux.

Wat selfs meer kommerwekkend is, sê hy, is dat die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering nie voorsiening maak vir psigiatriese sorg vir buitepasiënte nie – psigiatriese dienste is net ingesluit vir binnepasiëntversorging vir chroniese en ernstige geestesversteurings soos manie of psigotiese afwykings.

Hy sê die eerste fase van selfdoodvoorkoming en behandeling is “die ontlonting en voorkoming van akute selfmoordgedrag” en dat dit effektief deur die gesondheidsorgstelsel en vrywilligersorganisasies soos SA Depression & Anxiety Group (SADAG) en LifeLine bestuur word.

“Die tweede fase, naamlik die opvolg met mense met selfdoodgedrag en depressie – wat die leidende oorsaak van selfdood is – is waar ons sisteem misluk.

“Depressie en selfdood word nie by die lys van kroniese kondisies in privaat gesondheidsorg ingesluit nie, en net akute behandeling op die punt van ’n krisis, naamlik die voorkoming van selfdood, word deur mediese fondse gedek.  Deurlopende buitepasiëntbehandeling word nie deur die meeste mediese fondse gedek nie nie.

“In die publieke sector is daar nêrens om ’n pasient heen te verwys vir opvolgsorg na die krisis voorkom is nie. Psigiatriese dienste in die publieke sector het slegs die kapasiteit om pasiente met kroniese, ernstige geestesversteurings te behandel, soos psigotiese afwykings, of na akute selfmoordpogings,” sê Dr Roux.

Die derde fase van die bestuur van selfdoodrisiko is vir gesondhedsorgwerkers om meer waaksaam te wees wanneer hulle op soek is na tekens van depressie by pasiënte met ander langdurige chroniese siektes, fisies sowel as psigies, aangesien die verband tussen chroniese siektes en depressie wyd bevestig is, en hierdie pasiënte ’n groter risiko het vir selfdoodgedagtes en -gedrag.

“SASOP doen ’n beroep op administrateurs en verskaffers van gesondheidsorg om ’n poging aan te wend om selfdoodrisiko te bestuur en om selfdoodvoorkoming by al hul pasiënte te bevorder, in al drie hierdie fases van risiko, en veral om dringend maniere te vind om voortgesette sorg te gee na ‘n selfdoodepisode, sodat herhaling voorkom kan word, ” sê Dr Roux.

Die SA Depression & Anxiety Group (SADAG) bestuur die land se enigste  toegewyde selfdoodhulplyn, wat 24 uur van elke dag van die jaar oop is – bel hulle by 0800 567 567 as jy of iemand wat jy ken hulp benodig.

Vir hulp van Lifeline, kontak 0861 322 322.

NAVORSING VERWYSINGS

[1] Die syfer is verkry van die beraamde totaal van 6 471 sterftes deur selfdood in Suid-Afrika in 2009, die mees onlangse en betroubaarste statistiek, berig in “Injury-related mortality in South Africa: a retrospective descriptive study of postmortem investigations”. In opdrag van die Medical Research Council (MRC) as deel van die 2de nasionale las van siektestudie, gepubliseer in Maart 2015 in die World Health Organisation (WHO) Bulletin https://www.who.int/bulletin/volumes/93/5/14-145771/en/

2 Soos verklaar in die bogenoemde artikel. https://www.who.int/bulletin/volumes/93/5/14-145771/en/

3 Wêreld Gesondheid Organisasie. https://www.who.int/news-room/events/detail/2019/10/10/default-calendar/world-mental-health-day-2019-focus-on-suicide-prevention

4 Denemark: sien https://science.sciencemag.org/content/365/6455/725

5   Suid-Australië: sien https://www.sahealth.sa.gov.au/wps/wcm/connect/89cf2e8040a76656898cfb2559774525/South+Australian+Suicide+Prevention+Plan_June+2018_Final.pdf?MOD=AJPERES&CACHEID=ROOTWORKSPACE-89cf2e8040a76656898cfb2559774525-mMAPyRh