Bidbeertjies verdryf die donkerte


Lizelle de Bruin van die Binnekamer span vertel sy het onlangs hierdie storie van Hoop in my haar-boks gekry.

“Hallo Lizelle, ek luister elke Sondag na julle program in die motor op pad kerk toe. My naam is Rudi van Wyk en ek speel orrel vir die Sionspoort Gemeente van die Hervormde Kerk.

Die storie wat ek deel is die van ‘n swaar gemoed daardie oggend van julle Bidbeertjie insetsel en ek deel graag met jou hoe julle gehelp het met Hoop wat in groot Dankbaarheid verander het. Op 11 Feb. 2022 het daar ‘n ongelukkige insident by Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein gebeur wat ‘n geweldige groot rimpel effek op die Onderwysers, die skool se bestuur, die ouers en ons leerders veroorsaak het. Ons was op elke voorblad, en nuusblad en sosiale media. Dit het die hele skool se dinamika verander. Dit het ook ‘n donker wolk op ons mense geplaas. Negatiwiteit het gedy en ek het gewonder hoe bring mens vir mense weer hoop.

Daardie Sondag gesels jy toe met tannie An Roets van Malmesbury oor die bidbeertjie vir SA projek. Ek was besig om te bestuur en kon nie besonderhede neerskryf nie. Al wat ek kon onthou was die woord “bidbeertjie”. Ek het vir myself gesê die bestuur by ons skool, kort elkeen so ‘n bidbeertjie soos jy gekry het en toe sê ek vir myself mense gaan nie omgee vir ons in Randfontein nie. Ek het toe maar die gedagte daar gelaat.

Die onderhoud het by my gespook, soveel so, dat ek n epos geskryf het en die adres van tannie An Roets gaan soek het. Ek het nie by die stuur daarvan uitgekom nie want alles om ons wat deurmekaar en negatief en voorop in my gedagtes was dat niemand vir ons gaan omgee nie.  Alles was net so negatief of so het dit gevoel.

Een oggend kom ek by die skool en ek kyk na die donker wolke wat om my en my kollegas hang en besluit toe wat kan ons verloor. EK stuur die e-pos. Ek wou dit uit my sisteem kry.

‘n Halfuur later bel ‘n baie vriendelike vrou my uit Kemptonpark uit om te laat weet sy het beertjies vir almal op die bestuur van die skool. Ek kon nie glo wat ek hoor nie – genoeg beertjies vir die bestuur wat daagliks met die donker gekonfronteer is. Ek kon toe saam met ‘n klein funksie hulle beertjie uitdeel. Hulle was baie dankbaar maar die storie het nie daar geëindig nie. Tannie An en twee ander dames het ook beertjies laat kom. Ek kan nie beskryf hoe ek gevoel het nie. Almal vir wie ek vertel het dieselfde gevoel van verstomming en dankbaarheid ervaar. Dit was asof hierdie beertjies weer lig begin bring het. Ons kon vir die personeel en koshuis personeel beertjies bymekaar maak.  Die hoop het gekom, en die dankbaarheid van mense wat voel iemand dink aan hulle in hierdie tyd het al baie trane van blydskap laat vloei.

Die droom is nou dat elke leerder ook ‘n bidbeertjie sal kry, ñ duisend beertjies klink verregaande maar ek werk tans aan maniere om mense aan die bid en brei te kry vir ons skool se kinders.

Ek wou net met jou deel, elke Sondag vra jy oor die lug waarvoor is jy dankbaar, en in die laaste tyd kon ek net in die donker omstandighede kyk, en my oë rol.  Daarom wou ek net die brief vir jou stuur om te wys, God werk op soveel maniere, HY praat in verskillende vorme, en stuur HOOP op soveel ander maniere.

Dankie vir die program op ’n Sondagoggend, dit was my eie hoop, en het ook hoop vir die hele skool gebring al het hulle nie self geluister nie.

Vriendelike dankbare groete

Hier is ons skool se bestuur met die ontvang van hulle bidbeertjies.