RSG verskuif sy klankgrense met ‘Bekbasaar’: Luister na 1e Dieremaniere


RSG verskuif opnuut sy grense met ‘n splinternuwe digitale klank-aanbod, Bekbasaar.

Hierdie pasgemaakte klanklandskap sal op Donderdag 3 Julie aanlyn geloods word.  Deur ‘n reeks unieke potgooie versterk RSG sy toewyding om diverse en boeiende inhoud aan sy luisteraars te bied. En op die koop toe het niemand ‘n draadloos of transistorradio nodig nie!

Bekbasaar bied meer vermaak, inligting en prikkelende praatjies wat oud en jonk sal interesseer.  Buiten die gesprekke en programme wat op lug gehoor word, sal luisteraars ook voortaan dié aanbod eksklusief op RSG se digitale platforms aantref.  Dit behels gesprekke wat spesiaal geskep is vir digitale platforms en wat onderwerpe indiepte sal bespreek sonder die beperking van lugtyd.

Die eerste Bekbasaar waarna luisteraars kan uitsien, is vanaf 3 Julie op Spotify, YouTube en rsg.co.za beskikbaar en word aangebied deur Elsje van Jaarsveld. Dieremaniere sal luisteraars op ‘n fassinerende reis neem deur die wêreld van dieregedrag, unieke feite, en interessante stories wat die harte van diereliefhebbers sal verower. Elsje se passie vir diere en haar kundigheid sal verseker dat hierdie potgooi insiggewend én vermaaklik is. Elsje is self ‘n ywerige diereliefhebber en het vir 12 jaar lank haar beagle Gabby aan haar sy gehad. Vir die eerste episode klop sy aan by die komediant-akteur Schalk Bezuidenhoudt wie se diere glo nié maniere het nie.

Maar wag, Elsje raadpleeg ‘n kenner van dieregedrag en Schalk word bemagtig met inligting en tegnieke hoe om ongemaklike situasies met sy honde met die regte benadering te hanteer.

Die fokus van hierdie nuwe aanbod is dat luisteraars die vryheid het om enige tyd en enige plek na hulle gunsteling-inhoud kan luister – hetsy by rsg.co.za, Spotify of YouTube. Ons kan ook langer gesels, wat die moontlikheid vir indieptegesprekke makliker maak, en ook geleentheid bied om jou gunstelingomroeper, glanspersoonlikheid en kenner beter te leer ken.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk vir RSG,” sê Louise Jooste, RSG se sakebestuurder. “Bekbasaar is ‘n bewys dat RSG inderdaad nie grense of brieke het nie en sy vlerke lank reeds sprei om luisteraars wêreldwyd nie net deur die lugweë te bereik nie. Dit is ‘n wegbreek van tradisionele radio en uitsaaiformate en sal verseker dat RSG op meer as een manier 24 uur per dag en sewe dae per week sy luisteraars met gehalte-luisterstof kan inspireer.”

Bekbasaar is ‘n nuutskepping deur een van RSG se luisteraars, Suzette Gird van Ficksburg in die Vrystaat. RSG het sy sowat 1,3 miljoen luisteraars genooi om ‘n Afrikaanse beskrywing te skep vir bespoke podcasts en Suzette het die kroon gespan met haar voorstel.

Bekbasaar is ‘n slim beskrywing van die klankryke aanbod wat met bekkigheid en grenslose kreatiwiteit aangebied gaan word, soos die tradisionele basaartafels wat kreun van alles en nog wat.

Bly ingeskakel vir meer inligting oor Dieremaniere elke Donderdag en ander opwindende potgooie wat in die toekoms by RSG se digitale aanbod gevoeg sal word.