Agter die masker: 24 & 31 Maart


Esté de Klerk en Danny Booysen

Agter die Masker is ‘n dokumentêre reeks van twee episodes wat fokus op die emosionele impak van die Covid-19 pandemie op dokters en pasiënte. Episode 1 word op Donderdag, 24 Maart om 20:00 uitgesaai, waarna Episode 2 op Donderdag, 31 Maart om 20:00 sal volg.

Die reeks word vervaardig en aangebied deur die RSG Monitor en Spektrum-radiovervaardiger en aanbieder, Esté de Klerk, en die klankontwerp vir die reeks is behartig deur die SAUK-glankguru, Danny Booysen.

In Januarie vanjaar, was dit net meer as twee jaar sedert die eerste positiewe Covid-19 geval in Wuhan, Sjina, aangemeld is. Die eerste positiewe geval is op 5 Maart 2020 in Suid-Afrika, bevestig en minder as ‘n week daarna verklaar die Wêreld Gesondheidsorganisasie Covid-19 ‘n wêreldwye pandemie. Suid-Afrika se amptelike staat van inperking begin op 27 Maart 2020.

Die pandemie het ons lewens onherroeplik verander. Nog nooit voorheen is die mensdom op byna elke vasteland op aarde saamgesnoer deur een gebeurtenis nie – meer as die helfte van die wêreld se bevolking was terselftertyd onder een of ander vorm van inperking geplaas, terwyl mense oor die wêreld heen dieselfde simptome ervaar het.

Daar is reeds meer as 376-miljoen positiewe Covid-19 gevalle in die wêreld bevestig, en meer as 5,6-miljoen mense het reeds weens die virus gesterf.

Die impak van die pandemie het verrykende gevolge gehad. Wêreld-ekonomië het gekrimp weens streng inperkingsmaatreëls wat vir lang tydperke ingestel is.

Baie is gesê oor die simptome van die Coronavirus, nuwe variante wat uitbreek het, lande se positiwiteitskoerse, nuwe daaglikse gevalle en sterftesyfers.

Min is egter gesê oor die emosionele impak wat die pandemie gehad het op dokters, verpleegsters en pasiënte, en die diep wonde in die psige wat moontlike jare sal neem om te genees.

Agter die Masker is ‘n dokumentêre reeks waarin ons die stemme van dokters en pasiënte sal hoor oor wat die emosionele impak van die pandemie op hulle lewens en loopbane was.

Episode 1

Prof. Veronica Ueckermann

In Episode 1, praat Esté met die kritieke sorg-spesialis aan die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria, professor Veronica Ueckermann. Sy is ook kort ná die aanbreek van die pandemie aangewys as die hoof van die Covid-19-reaksiespan van die Tshwane Distrik-hospitaal, die Steve Biko Aakademiese Hospitaal en die Universiteit van Pretoria. Niks kan jou voorberei op ‘n storm soos dié wat met die Covid-19 pandemie gevolg het nie, het professor Ueckarmann aan Esté gesê.

“Covid-19 was verseker ‘n onsigbare vyand waarteen ons geveg het. Ek dink nie enigeen van ons het gedink ons sal ‘n pandemie ooit deursien nie. Dis nie iets waarvoor ons voorberei is nie. Ons het baie vroeg in die pandemie al gesien ons het onderskat hoeveel pasiënte ons gaan hê – om genoeg beddens, genoeg suurstof, genoeg medikasie te kry, was regtig baie moeilik in daardie vroeë dae. Ek dink ons grootste vrees was dat ons nie die beste vir ons  pasiënte kan gee nie.”

Die impak van soveel pasiënte wat in so kort tydperk sterf het ‘n groot impak op haar as dokter en as mens gehad, sê professor Ueckermann.

“Ek is ‘n kritieke sorg-spesialis, so ek weet van mense wat sterf, maar nie in hierdie nommers nie. Ek dink die proses van sterfte was nog altyd iets wat ons kon makliker maak vir mense.  Om iemand te sien wat alleen sterf, is ongelooflik traumaties. Om ‘n familielid te bel wat hul familielid vir weke nie gesien het nie en dan te sê: ‘Ek is so jammer, dit is verby,’ was waarskynlik vir ons die traumatieste.”

Dr Angelique Coetzee

In Episode 1, praat Esté ook met dr. Angelique Coetzee, in haar hoedanigheid as huisdokter, wat in haar gesinspraktyk in Wonderboom, Pretoria, honderde Covid-19 pasiënte deur die pandemie gelei het, maar ook in haar hoedanigheid as die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging. Dr. Coetzee skroom nie om reguit te praat en kritiek teen die regering se hantering van die pandemie uit te spreek nie. Haar hart lê egter verweef in haar pasiënte en hulle versorging. Sy sê Covid-19 is ‘n siekte waaruit dokters baie geleer het.

“Covid-19 is ‘n vyand waarvan jy net mooi niks geweet het nie en wat skielik oornag op jou afgestorm gekom het en al wat jy weet is hierdie vyand gaan vir jou doodmaak, want dit is al wat almal vir jou sê. As ons terugkyk, dan dink ek ons het baie foute gemaak, maar ons het ook waardevolle lesse geleer.”

Dr. Coetzee meen dokters het nie pasiënte bemagtig nie. “Ons het hulle nooit op die reis gevat waar ons vir hulle genoeg inligting gegee het en vir hulle gesê het: ‘Tannie, as jy vanoggend wakker word en jy het die volgende simptome, wat moet jy doen? Dokter, wat moet jy doen as jy so ‘n pasient voor jou sien?’ So, ons het gepraat oor die pandemie en oor die variante, maar nooit die mense saamgevat nie.”

Op emosionele vlak, erken dr. Coetzee sy was met tye tydens die pandemie totaal emosioneel uitgeput. “Jy weet dit is net jy en jy weet daar is nie ‘n bed nie, en jy weet daar is nie suurstof nie en jy sukkel om hierdie goed te kry en mense verwag die onmoontlike.”

Dr. Coetzee het op 18 Februarie as die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, bedank.

Luister na Episode 1:

ANDRÉ & WANDA DU PREEZ

In Episode 2, praat Esté met ‘n 52-jarige mielieboer van Lichtenburg in Noordwes, André du Preez, wie se lewe onherroeplik verander het nadat hy Covid-19 opgedoen het.

Du Preez was 101 dae in die hospitaal, waarvan 84 dae in die intensiewe sorg-eenheid. Hy was vir 72 dae aan ‘n ventilator gekoppel.

“Covid was vir my ‘n ding wat nie eintlik bestaan nie. Jy hoor van mense wat dit kry, jy hoor van mense wat doodgaan, maar ek was nie bekommerd daaroor nie. Ek het gedink ek gaan drie, vier dae van die plaas af wees en dan is ek weer terug.”

Maar, Du Preez se hele lewe het verander. Nou, net meer as drie maande nadat hy in November uit die hospitaal ontslaan is, is hy steeds afhanklik van suurstof en dinge so eenvoudig soos om in ‘n bakkie te klim is vir hom ‘n stryd.

“My bene het geen funksie meer gehad nie, my hele lyf was lam gewees. Die fisio het gesê ons moet regop sit vandag. Ek het gedog dit is mos nou maklik, maar daar was geen krag nie, ek was soos ‘n pap babatjie wat omval. Daar was geen beweging in my voete nie, geen beweging in my spiere nie. Daar het ek besef: hier is ‘n lang pad wat my my voorlê. Ek sal vir mense vertel Covid is real. Ek is dankbaar dat ek leef.”

Esté praat ook met André se vrou, Wanda oor die emosionele impak wat dit op haar en haar kinders gehad het omdat hy vir so lank siek was.

“Ek noem Covid ‘n rollercoaster-siekte. Jy voel weerloos, jy wens so jy kan iets meer doen. Jy voel of jou hande afgekap is. Dit is ‘n verskriklike frustrasie binne-in jou, veral omdat dit so wipplank ry. Dit is ‘n baie moeilike pad.”

Luister saam na Agter die Masker op Donderdag, 24 Maart en 31 Maart om 20:00.