Volg die verkiesing en uitslae op RSG


RSG is gereed om jou deurlopend op hoogte te hou van die belangrikste nuus en kiestendense op verkiesingsdag Woensdag 8 Mei, wanneer die stembusse vir die algemene verkiesing die oggend om sewe-uur open, skryf Foeta Kruger, redakteur van Monitor en Spektrum.

Die dekking van verkiesingsnuus sal voortgesit word op Donderdag 9 Mei soos die uitslae bekend gemaak  word, tot die Saterdag 11 Mei wanneer die finale uitslae bekend sal wees. Hierdie taak rus op RSG se nuusaktualiteitsprogramme en die RSG-nuuslessenaar.

Behalwe die gewone nuusbulletins elke uur op stemdag, beplan ons om  na  elke bulletin bykomende tyd af te staan aan veral gebiede waar probleme ondervind word.  Die nuusdekking sal aangaan na die stembusse om negeuur die aand sluit en tot kort voor middernag duur. Die nag van 8/9 Mei sal daar ook elke uur nuusbulletins wees o moor die vernaamste verwikkelinge te berig. Dit beteken dat RSG se deurnagdiens daardi nag regstreeks aangebeied gaan word, met Fritz Klaaste wat in die ateljee sal wees.

Om vyfuur die oggend van Donderdag 9 Mei sal die nuusspan gereed wees met ontleders om die jongste uitslae bekend te maak en te bespreek. Die uitslae sal deur die dag weerspieel word soos dit bekend gemaak word, met spesiale besprekings tussen ses- en agtuur op Monitor en een- en twee-uur op Spektrum.  Terwyl daar soos op stemdag na elke nuusbulletin  ‘n spesiale oorskakeling na die nuusspan sal wees, word ook voorsiening gemaak vir twee halfuurlange besprekings die middag en aand.

Met die aanloop tot stemdag asook die daaropvolgende dae sal ons gebruik maak van ‘n netwerk van SAUK- joernaliste wat landwyd ontplooi word, asook nuusmakers en kenners in verskillende provinsies wat deurentyd die gebeure en stempatrone sal ontleed.

Die afgelope maande  is sewe verkiesingsdebatte regoor die land  in ses provinsies gehou met meer as 14 verskillende politieke partye wat deelgeneem het. Uitnodigings is ook aan al die groot partye se leiers gestuur  en ateljee-onderhoude is gedoen met die wat gereageer het. Van die nuusdekking in aanlloop tot stemdag het ook ingesluit die bekendstellings van party-manifeste, meningsopnames, die verskynsel van kleiner partye asook bewusmaking oor die kieserregistrasie-veldtogte en dies meer.

Hier is ‘n klompie foto’s wat geneem is by van die verkiesingsdebatte wat die afgelope tyd op RSG gehou is.