Amore Bekker – Tyd om te groet


Die bekroonde radio-omroeper Amore Bekker, tans aanbieder van die oggendprogram Alhoebekker op RSG, gaan ná sowat twee dekades ’n paar nuwe horisonne betree, weg van die radiomikrofoon.

Bekker sal op Vrydag 28 April 2023 van 09:00 tot 12:00 Alhoebekker vir die laaste keer aanbied.

Amore destyds in die ateljee met haar nuwe boek Toe-Val-Lig.

Bekker, wat destyds ’n dramagraad verwerf het, is ’n vernuwende uitsaaier, wat ook ’n aantal topverkoperboeke gepubliseer het wat op haar programme en insetsels geskoei is.

Sy het in 2003 by RSG begin met die program Brekfis met Bekker, en toe volg Tjailatyd, die huistoery-program wat sy vir twaalf jaar aangebied het. Dit het weer tot die publikasie van die Tjailaresepte-boeke gelei. Later het Hartstories – Huis toe met ‘n ligter tred gevolg. Dié boek is geskoei op die “Saamrystories” wat Bekker in haar program op lug voorgelees het. Een van die gewilde insetsels op Tjailatyd was stories oor toevallighede, wat Bekker omskryf het as “Toe-Val-Lig”, en daaruit het óók ‘n gewilde boek gevolg.

In 2003, het sy die aktrise en sangeres Antoinette Pienaar genooi om op lug haar kruiekennis met luisteraars te deel en steeds bekoor Pienaar weekliks RSG se luisteraars met haar wyshede.

Bekker is met ’n ATKV Mediaveertjie bekroon vir haar “Bottels vir Beaufort”-projek toe sy mense landwyd genoop het om water na die droogtegeteisterde Beaufort-Wes te stuur. Sy het destyds gesê: “Niks is so magtig soos ’n idee wat ryp geword het nie.”

Sy het ook twee Mediaveertjies vir Tjailatyd ontvang, asook ‘n Mediaveertjie vir haar onderhoud met wyle Aartsbiskop Desmond Tutu.

Amore voel mens moet groet, voordat mense jou wil groet.  “Never overstay your welcome,” sê sy. “Jy moet ook só groet, dat jy altyd weer kan terugkom, as jy wou.” Sy wil voortaan konsentreer op praatjies, stemwerk en toneel speel.

“Ek is dankbaar dat ek vir twintig jaar by RSG kon uitsaai. Ek het soveel geleer en beleef, dit was die perfekte leerskool vir my op alle vlakke.  Dankie, dankie!”

RSG se Sakebestuurder, Louise Jooste, het gesê: “Amore Bekker is ‘n radiolegende in die Afrikaanse uitsaaibedryf. Sy verstaan die intimiteit en mag van die medium, en is ‘n oorrompelende storieverteller wat vir soveel onvergeetlike uitsaai-oomblikke en -projekte gesorg het. Sy laat ‘n reuse-leemte en diep voetspore wat vir lank onthou sal word.”