Antjie Krog gevier in uitsonderlike huldeblyk-konsert
Die skrywer en digter Antjie Krog vier op 23 Oktober haar 70e verjaarsdag. Johan Rademan het ‘n uitsonderlike konsert ter viering van haar verjaarsdag en werk saamgestel.
Nicole Holm (voorleser), Jolyn Phillips (voorleser), Garth Erasmus (inheemse instrumente), Pieter van Zyl (klavier), Maria Viviers se Vivox Voices o.l.v Christiaan Kotze en Johan Rademan (bindteks) bied ‘n kort oorsig van wat tussen die eerste en laaste bundel van Antjie Krog gebeur het.
Hier is die uistekende teks van die konsert
Samesteller, aanbieder en regisseur: Johan Rademan
Voorlesers: Jolyn Phillips en Nicole Holm
Musici: Pieter van Zyl(klavier) en Gart Erasmus(inheemse instrumente)
Koor; Vivox Voices olv Maria Rademan-Viviers/Christiaan Kotze
Antjie Krog – ‘n Bevrydende vrou op 70.
Gebore 23 Oktober 1952, 70 jaar gelede in die Kroonstaddistrik in die Vrystaat en as 17-jarige in die 70’tigerjare landwyd opslae gemaak met haar gedig “Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand / vrede en liefde kan bring in my mooi land” ‘n Kritiese versetvers in die John Voster era, in die skooljaarblad.
Ons deel n paar fragmente uit Antjie se lewe met ons luisteraars in die regstreekse uitsending op RSG.
n Tipe van soirree of huiskonsert of happening….
Een ding staan soos n paal bo water – Antjie Krog het op n jong ouderdom, soos n vars briesie, in tipiese Afrika-styl die letterkunde wêreld binne gery.
GESALFDE –
Eendag sal ek oor die vlaktes na julle toe ry
alleen, op ‘n afrikanerkalf
en julle sal onder mekaar sê: Kyk sy’s dan gesalf
want die een wat nou in die rooigras bly
is nat van suiwer doringboomgom.
Julle sal sien hoe rats my
arms julle weerligtonge vang,
hoe my hande hulle ryg en
soos krale om my heupe hang.
Julle sal die skulp van my
woorde teen julle ore druk
en ek sal sien hoe die
soetheid julle oë verruk.
Dan sal julle onder mekaar sê:
kom ons bou drie strooise daar
een vir haar kalf, en een vir haar
en een vir die Blits wat die hamerkop dra.
Dogter van Jefta, uitgegee deur Human en Rousseau was een van 3 debuutbundels wat in 1970, met Krog as 17-jarige verskyn het. Die ander twee was Wilma Stockenstom(37) met “Vir die Bysiende leser, en Sheila Cussons(48) met Plektrum .
Groot geselskap, ne? As jy dalk gewonder het wie so deur die jare in die vorige eeu op Antjie se boekrak beland het, verklap die digter dit self in die gedig “Op n dag voel my man” wat in 1989 uitgegee is deur Taurus en in die Hertzog-pryswennende bundel Lady Anne, ingesluit is.
Op n dag voel my man
op ‘n dag voel my man ek verdien
wel ‘n groter boekrak van melamine
digbundels voorheen emosioneel
gerangskik, nou alfabeties beveel
- D.P.M. Botes se Wat is ‘n gewone man?
goddank neem die poësie met Boerneef ‘n aanvang
yskoud sien ek Cloete staan knus
teen ons enigste terroris!
rats onalfabeties en mauve bou Stephan Bouwer
met private dele tussen die twee ‘n buffer
Cussons stapel op soos snye brood
(langer kon ek haar nie koop)
toe: die beheersde Eybers my classy heldin
wat die wrangste gebied met die kilste woorde in
Jonker en Krog dans hand in die sy – snotneuse
begin by ons lees op pad na Louw in die volgende ry!
stug en sterk hou die Manne in die kosmos kerk
verby M tot waar Komas, groot opgewerk
sonder Ziervogel te sê
teen losbandige Stet moet lepellê
bitter smaal Smal smaller smal Spies
langs hulle staan later Stockenström in Grieks
Watermeyer kon sekel sny in die hoogste klas
maar verkies om die “volk” vir Volkskas op simbaal te pas
My oog val op die vergete stapeltjie Hambidge…
so kom woon tussen Eybers en my – die nouveau riche
Anna Elizabeth Krog is op 23 Oktober 1952 as die oudste van vyf kinders gebore. . Antjie se oupagrootjie, Danie Serfontein, was parlementslid vir Kroonstad ná die Anglo-Boereoorlog.
Haar pa, Willem Krog, was ’n boer van die plaas Middenspruit, en haar ma die bekende Afrikaanse skrywer Dot Serfontein. Uit Dogter van Jefta tree Krog ingesprek met haar ma in die ikoniese gedig wat in menige eindeksamen vraestelle opgeduik het.
Ma, saam met Klein Vrede, is een van 2 gedigte van Krog, wat deur Leserskring se lede, By se lesers en RSG se luisteraars in 2012 aangewys is onder die top 100 Afrikaanse gedigte van alle tye. Trouens, Ma was nr 3 op die TOP100.
Ma
Ma, ek skryf vir jou ’n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
’n kaalvoet gedig –
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe
ek is so jammer mamma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.
In 1971 studeer Antjie BA met Afrikaans en Nederlands, Engels en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS). Na die BA-graad behaal sy ’n honneursgraad in Engels ook by Kovsies en in 1983 voltooi sy haar MA-graad Familiefigure in die poësie van DJ Oppermanaan die Universiteit van Pretoria onder leiding van prof AP Grové.
In 1976 tree sy in die huwelik met John Samuel, ’n argitek en ’n jeugliefde van haar. En vir die wiskundiges onder ons in meer as 4 dekades se getroude lewe het die egpaar vier kinders groortgemaak en hulle is ook al grootouers van kleinkinders waarvan een Antjie se name geërf het. Nou weet ek ook, Antjie, wat se jeugdige betowerende woorde “Ek wil” (vir John) ingehou het: ek wil myself vir jou gee
stil soos ‘n koorsboom
soet en oop soos mispels
soos mopanies in die herfs
soos maroelas in die somer
Beslis n resep vir n paar kinders en kleinkinders later!
So terloops, Antjie het onlangs haar jongste kinderboek, Vetplantfeetjies, en voorheen Mankepank en ander monsters en die 3-talige Voels van anderse vere, kinderverse, aan gewerk en uitgegee. Die Afrika folklore het as’t ware in tale ingesprek getree met mekaar. ‘n Komponent wat voortdurend in haar werk uitstaan.
In 1975 verskyn 2 bundels gelyktydig van Krog: Beminde Antarktika en Mannin – hier worstel Krog na n mislukte verhouding met pianis Albie v Schalkwyk,(sy het Januarie-suite (die Eugene Maraispryswenner) uitgegee in 1972 deur Human en Rouseau opgedra aan Albie en haar oudste seun Andries) oor die uitdagings van verhoudings en die liefde en die lewe en die huishouding en die sleurgang van n vrou iewers tussen ma en haar geval, meester van die woord.
Klein Vrede
Vanmiddag wag sy vir hom in ‘n klein hoëmuurhuisie
half toe-oog ingekruip agter ‘n straatstoepie
5.12 hang hy sy hoed aan die haak
trek sy baadjie uit en sy gooi kookwater deur die koffiesak
vee haar hande aan die geblomde voorskoot en wag darem
dat hy haar eers teen hom vasdruk, so skuinserig met die een arm
voor sy hom die dag se nusies vertel
die gat in die heining, die hond, Anna-jannie het gebel
Na ete haal sy die Bybel uit die boonste laai
en hy lees vir hulle van Israel se afgode teen die berg Sinaï
haar hande vou ‘n stopskulp in syne as sy bid:
Onse Vader wat hoog bo die aarde in die hemel sit …
Die maan rys soos ‘n koringmeelbrood bokant die dak
sy was skottelgoed met lifebuoy en ‘n omgesoomde meelsak
hy luister nuus op die treetjie by die agterdeur
oor dinge wat met ander mense in die wêreld gebeur
Later as die luggie begint trek
die windpomp klap-klap in die dam in lek
sit hy die sproeier af, maak die hoenderhokke toe
sit die kat uit en kom langsaam kamer toe.
In die na-nag as die wind uit die noorde begin
skuif die maan oor hul bed dieper die kamer in
tot op die woorde geraam in krulle:
My vrede gee Ek julle.
In 1981 sê Krog uit Otters in Bronslaai in 2 gedigte: hoe en waarmee oorleef mens dit en visoen van n lessenaar:
Visioen van ‘n lessenaar
die lessenaar is warm en bloederig soos ‘n pasgeslagte karkas;
uit die laaie drup deurskynende sinoviale vog.
die stoel teen my rug word groot en pulp;
begin klop en kwaak soos ‘n padda.
die kliere aan my lyf word lewendig
begin roer soos slange en asemhaal soos visse
my tong spring rond, stert orent, bitsig
die speekselkliere knetter soos knypers.
my hand val op die wit asem van die blaai
– ‘n dier met blink haartjies op die rugkant
die pen word ‘n sagte harige nikotienbruin vinger
die letters wat hy lusteloos skryf, raak los van verrotting
boeke swel van verontwaardiging
die tikmasjien kners sy olivanti-tande
en ek skryf omdat ek woedend is
hoe en waarmee oorleef mens dit?
ek krap verwaterde ghwelle uit die opwasbakpropsif
sodat hawermoutwater en swoerd
kan uitloop in die drein voor die venster
die nappyliners word ingeaas in die kleinhuisie
die vuil doeke met sunlight ingeseep die sterte gewas gepoeier
die een skreeu van die honger
die ander een van woede
die oudste met sy senuweeagtige groentemesstem
probeer ‘n hele superman-vlug bo die lawaai uitkerf
my man maak die deur teen almal toe
en draai die Mozart-klavierkonsert ‘n hele rat harder
en ek word mal
my stem gil ‘n mengermalermixermincer
my neus lek soos ‘n yskas
my oë bibber soos eiers in kookwater
my ore word posbusse wat tuit van almanakke
die kinders rand my aan met hulle luidrugtigheid
selfsugtigheid
astrantheid
vernielsugtigheid
hulle vrese komplekse onsekerhede dreigemente node
kap my “beeld as moeder” steaksag op die plankvloer
ek ruik na kots en kak en sweet
na saad en uie
ek illustreer ‘n kombuis
met hare vaalgeklits teen die stroewe novilon van vel
die taai melkkoepons van rug buig belangeloos
onder die vadoekvaal kamerjas
die bene soos blouseep fyn beaar
pantoffels krul soos potskuurders om voete
ek is dikbek soos ‘n meelsak
afgechip soos ‘n melkbeker
my hande ouer en droër as gisteroggend se toast
deel slae halfhartig teen die kabaal
gaan sit dan hierdie sondagmôre op die treetjie
neither nugter nor verleë
en wonder
hoe en waarmee oorleef mens dit?
Rapportpryswenner, Jerusalemgangers wat in 1985 by Human & Rousseau verskyn het word deur literator John Kannemeyer as die hoogtepunt in die hedendaagse poêsie beskou. Swart en wit mites word vervleg, ‘n Zoeloe-towenares, die Sotho-kultuur en naiewe, onbewuste wit dorpsbestaan
Ons dorp
maandae kom die boere dorp toe
met jeeps van onlangse modder bespat
om pienkwang kinders in koshuise te laat
pos parte en koöperasiemeel plase toe te vat
soggens as hulle stoor toe gaan
kom veertig engeltjies staan
tien met trekkers aan die koppenent
tien met stropers aan die voetenent
tien wat wek
tien wat dek
rondom hulle verrys
‘n aardse paradys
woensdae drink die dorpsmevroue tee
tot op die sleutelbeen gedieet
in driestukpakkies pak guitige pastelletjies
rondom ‘n geelhouttafel en weet: die tee
val tarips-taraps uit die silwer servies
in rippie-rippie rinkel Royal Albert
koppietjies wat tinkel en koer-koer doek
pruil porseleinduiwe op die gehekelde tafeldoek.
buite hardloop kindertjies: Marli, Carli, aspatat
spat Lize, Rize waternat; Cornel en Marisan (of Marizaan)
of Mari-Zané) rolskaats met Jacques, Stephan
en Jean-Herman Botha deur die lowerryke straat
vrydae laat meeste plaasvrouens hare doen
vet bosduifies skuif uit duitse motors
wat buffer teen buffer langs die hoofstraat staan
agterin sit Liesbet met die jongste erfgenaam:
lag baba lag
jou pappa het gaan jag
met sy teleskopiese Sauer en Sohn 30.08
wielie wielie ons dorp se walies
die vingers deur die tralies
is wit en vet en bloot
buite die lekkergoedhuis
word waaragtig vuur gestook.
In die 1980’s nadat Antjie Krog ook n onderwys diploma deur UNISA verwerf het, bly sy met haar man en kinders in Kroonstad en gee se klas by n swart hoërskool en onderwyskollege.
In 1993 word sy redakteur van Die Suid-Afrikaan en Gedigte (1989-1995) verskyn by HOND. Antjie se eksplisiete temas het dwarsdeur haar werk op die snypunt in meestal vrye versvorm van Afrikaanse poësie beweeg. Vir “K” was “Ps en “F’s niks. Maar Krog se oeuvre sal niks wees sonder so iets nie.
Paternoster (ek staan op ‘n moerse rots)
ek staan op ‘n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat slingers in die lug
liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my tiete ‘n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is
ek is
die here hoor my
‘n vry fokken vrou
Antjie word eerder n bevrydende vrou as vry vrou hierna. In 1995 word sy as politieke verslaggewer by die SAUK aangestel en van 1996 tot 1998, vir meer as 2 jaar doen sy verslag oor die Waarheids-en Versoeningskomissie en lei selfs later die Radio-verslaggewingspan. Die verslaggewing was klankryk met die rou ervaring van slagoffers se emosies oor die radio. Ineenstortings, treursange, verontmenslikings oor en oor het uiteindelik gelei tot n geestelik en fisieke ineenstorting waar sy self tot stilstand geruk is deur die trauma van die WVK. In Country of my skull wat in 1998 gepubliseer is skryf sy as heling en redding, die woede, haat, verdriet, verlies en hartseer uit.
Waar die nasionale media kennis geneem het van Antjie Krog in 1970 in Kroonstad het die internasionale media van verslaggewer Antjie Samuel en digter Antjie Krog kennis geneem in Suid-Afrika.
Country of my skull word in New York, Londen, Milaan, Denemarke en Nederland gepubliseer. Dit word verfilm met die titel In my country met Juliette Binoche en Samuel L Jackson in die hoofrolle
Een van Antjie se uitgangspunte was: as ons as Suid-Afrikaners nie met die vergrype van die verlede by die WVK, as ‘n vertrekpunt vir gesprek dit gaan benut nie, ons die fondamente van geregtigheid vir die volgende geslagte sal ontneem.
Besluit gerus self of dit so is of nie?
In 1999 bedank sy as politieke redakteur by RSG om die konflik as radiojoernalis en “digter wesende” te neutraliseer.
Kleur kom nooit alleen nie is in 2000 deur Kwêla boeke uitgegee. André P Brink skryf op die flapteks oor Antjie Krog se werk: “Hierdie bundel is vir my in poësie die ekwivalent van Bach se groot Toccata en Fuga, waar die ganse register van die orrel oopgetrek word … Dis een van die min bundels waarvan ek kan sê dat ek ná die lees daarvan werklik op ’n ander manier na die wêreld kyk”
Digter wordende
om op ‘n oggend wakker te word binne-in
klank
met vokaal en klinker en diftong as
voelspriet
om met aarselende sorg die effensste
roerings
van lig en verlies in klank te kalibreer
om jouself meteens gekniel te vind
bo-oor die hoorbaar kloppende wand
van ‘n woord – soekend na daardie presiese
moment wat ‘n versreël volloop in klank
wanneer die betekenis van ‘n woord swig,
begin gly en hom eindelik oorgee aan geluid
van dan af smag die bloed na die inkantasie
van taal – die enigste waarheid staan gevél in klank
die digter dig met haar tong
sy haal asem – ja, diep uit haar oor
Digter wordende uit Kleur kom nooit alleen nie, wat met die RAU-prys vir skeppende skryfwerk vereer is.
Prof Louise Viljoen skryf oor die bundel van landskap en ligaams kleurletsels:
“Daar word teenswoordig amper aangedring daarop dat Suid-Afrikaanse skrywers vir die mense in hierdie land hoop moet gee en indien hoop nie moontlik is nie, dan ten minste troos.
Hierdie bundel van Krog bied geen maklike troos nie: hier sien ’n mens jouself, jou land en jou kontinent in al sy haglike glorie. Die troos wat ’n mens wel hier vind, is dié wat ’n voortreflik gemaakte bundel gedigte jou kan gee”
Slaapliedjies vir Ntombizana Atoo
sj-sj
stil maar
soet
slaap sag
slaap heel
en swart gekantel
kindertjie myne
kindertjie natgebore nou
[pouse – instrument effens harder en dan sagter]
slaap soet
slaap sag
slaap lief en swart gekantel
tula
kindertjie myne
kindertjie more
los lê die veld in woorde
dogtertjie met vlegsels en parmantige nekkie
dis jy wat sing-sing die paadjie afdig . . .
ek sien jou!
Met woorde soos met kerse in 2003 bevat Antjie se Afrikaanse vertalings en herbewerkings van poësie uit al die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale, asook een van die San-tale.
Kwela-uitgewers publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê “tsau”: Xam-gedigte in Kweiten-ta-//ken, A!kúnta, Hankass’o en //Kabbo Hier is n gedeelte uit die gedig Die Skerm
Die skerm: uit die bundel Die sterre sê “tsau”
hy bly staan
hy bly buite staan in die reën en die koue
hy begin roep na haar, want hy is besig om te sterf van die koue
hy roep sy karos en sy skoene
hy roep sy karos en sy koker
dat sy skoene na hom toe sal terugkeer
sy karos en sy koker
want hy voel dat die koue hom verlam
en die reën val en hy begin steef van die koue
en hy roep sy skoene en sy karos
sy koker en dat sy karos na hom toe sal terugkeer
en die ander mense sê: ‘waarom het hy na die ander een gegaan?
die ander een wat altyd so op die panne dwaal
het hy nie geweet dat sy altyd op die panne dwaal nie?
wat wil hy hê van iemand wat altyd op die panne dwaal?
sy wat nie eers weet hoe om tussen bossies te bly nie
wat net altyd so wyd oor die panne dwaal?’
Na ‘n ligte beroerte in 2002, meer as 4 dekades na Dogter van Jefta se verskyning keer Antjie op 53 weer terug na ‘n ouer weerloser liggaam in haar digkuns toe Verweerskrif, die rakke in 2006 en die Proteaprys vir beste Afrikaanse poësie tref.
Koor: Vivox Voices; Gloria
‘n Ouer, naakte vrou op die voorblad laat die media gons. Antjie Krog het nou oor n ander veranderde lyf geskryf, n ander werklikheid, n ander verantwoordelikheid en in ‘n ander gesprek getree: ‘n Ode vir n ander lewe?
n Ode vir n ander lewe
ek wil ‘n ander lewe hê
ek wil in ander strate loop
ek wil in ander stede met ‘n lift ry
en uitstap op ‘n nuwe vloer
in ander supermarkte wil ek
ander kos van ander rakke haal
ek wil ander tande hê
ek wil rokke dra en ligte geel sandale
ek wil ander paaie ry
ander berge deur my ruite sien
ek wil ‘n ander lewe hê
ek wil ‘n ander ruimte hê
wat ek met jou nie hoef te deel nie
ek wil in plekke wees waar ek na jou verlang
en nie verlange met vertroudheid bly verwar nie
ek wil jou mond mis
ek wil jou oë terughê
ek wil jou in my kop hê nie in my bed nie
met geliefde tale wil ek jou oproep
en volbrag in jou teregkom
ek wil ‘n ander kans hê om my liefde
in my kinders te smee
(terwyl ek skryf, verskyn hul gesigte
soos op ‘n monitor): geliefde kind
ma wil hê dat jy moet weet
dat ek ontroer is deur jou weerlose dapperheid
dat ek duisel van hoe diep jy in liefde bly belê
hoe delikaat jy jou uniekheid ontplooi
jou hande, voete, jou geslote agterkop
en mooi oë kan ma snags uit haar kop opsê
ek wil om ‘n nuwe ruimte pleit
waarin ek kan sê dat ek jul elkeen
die liefste het (en as jy nodig het
dat ek jóú die liefste moet hê ¬
dan sê ek dit hier, ek het jou die allerliefste
nét soos die ander, my kind)
dat wat jy is, my bly verwonder
dat hoe jy is, my groots maak
dat ek jou in my gedagtes oor en oor omhels
en teen my vashou
gun my ruimtes waarin my aanmatigende angs
my skerp geringskattings tot niet kan gaan
waarin jy kan weet dat niemand jou
ooit so bevrydend onvoorwaardelik
en belemmerend liefhet soos ek nie
l’envoi
ek wil ‘n ander lewe hê
waarin ek onbevange aanraak
en onverganklik omgee
ek’s moeg vir my tekortskietende hande
my papende brein en snedige tong wil ek nie meer hê nie
ek’s moeg geskuif van:
hoe bly jy jonk na hoe bly jy lewendig
van hoe bly jy lewendig na hoe het jy lief
van hoe het jy lief na hoe het jy ten goede lief
ek is sat om ‘n leeftyd lank
‘n ander lewe te moet hê
Antjie se werke is al vertaal in Engels, Nederlands, Italiaans, Frans, Spaans, Sweeds en Serwies.
Haar respek vir gelyke menslikheid kom in dinge soos ‘n pryslied vir Madiba, ‘n SAN-taal wat uitsterf, n Chris Hani en wat kon wees?
Die aarde bly draai…vir 8 jaar lank na Verweerskrif ..en toe verskyn die tweede bekroonde Hertzogpryswenner, Mede-wete , wat ook die Elizebeth Eybers prys inoes, by Human en Rouseau in 2014. Teen die tyd was haar kinders waar sy jare gelede was, soos in die roerende gesprek waar die broosheid van die ma blootgelê word.
Geheue – die ontvangs is sleg hier. Is dit jy ma?
“Die ontvangs is sleg hier. Is dit jy, Ma?”
“Ja, ek wonder sommer vanoggend hoe dit met jou gaan?”
sy stem kom afgemeet.
“Ek sit hier buitekant Volksrust in my kar.
Ek het van die pad af getrek hier by ‘n hoogtetjie.
Vanoggend by ongevalle het ‘n dogtertjie ingekom
– so drie vier maande oud.
Ek het ‘n pypie longe toe nodig gehad, ‘n dunnetjie
– standaard equipment in enige hospitaal
Die personeel het dit nooit gecheck nie.
Die babatjie is dood. Aangesien Ma nou vra.”
ek onthou hoe ek laas sy oë sien verswelg tussen die luidpratende
voetslepende traagbewegende personeel in die vuil gange van Boitumelo.
my kind is 24. ‘n mens het aan sy hande doodgegaan.
‘n swart mens in ‘n swart hospitaal. hy moet hiermee saamleef.
Oor ‘n God, n Godheid, n Godsdiens sê Antjie Krog dit amper alles in die komposisie van Antoni Schonken, ‘n Ongepubliseerde gedig wat deur Maria Viviers se Vivox Voices olv …….. en uitgevoer word met die titel; Ek is God.
KOOR:Vivox Voices: Ek is God. https://www.youtube.com/watch?v=lL_G9P6NKzA
In ons regstreekse uitsending van Antjie Krog se geboortedagviering het ons slegs tyd om baie subjektief na haar Afrikaanse digbundels te kyk. Sommige verse slegs ter illustrasie van n diepgang wat nie binne ‘n uur nagespeur of weergegee kan word nie. Dit is ‘n leeftyd se werk met soveel ander genres van skryf soos prosa en drama en vertalings tussendeur.
En pryse amper meer as die 70 kersies op die koek!
Ook buitelandse vererings waarvan die hoogtepunt sekerlik die toonaangewende Gouden Ganzenveer verering in 2018 moes wees. Die eerste maal dat dit aan iemand toegeken word wat nie Nederlands is nie.
JR: Antjie Krog is sedert 2004 n buitengewone professor in lettere en wysbegeerte aan die Universiteit van Wes-Kaapland en soos Karen van Wyk in Gedigte van Antjie Krog om 50jaar se digwerk te herdenk met ‘n Vry Vrou gedoen het, het Antjie Samuel, alias Krog dit ook bevrydend vir ander gemaak
(Jolyn Phillips vertel van haar ervaring van Winternachten 2020 met Antjie Krog voor n Europese gehoor)
Nog 8 jaar later, na Mede-wete (met n koppelteken) is plunder onlangs, via Humann en Rosseau in 2022 by die Tuin van digters by die Breytenbachsentrum in Wellington en die Woordfees op Stellenbosch bekend gestel.
‘n Robin Hood geskenk van Antjie aan ons.
Maar in haar 70ste jaar is Antjie Krog nie net plunderaar nie maar ook soos op die heel laaste blad van Plunder, Profeet en Priester:
PRIESTER
Gaan in vrede en verheerlik die Broosheid van die Lewe
Gaan heen en verkondig die himne van Water
Die pag van die Aarde, en alles wat volhoubaar daarin, daarop en daaruit
Bestaan
Gaan heen, word Versorgers van die Aarde en skouer die Juk van Omgee
amen
AANHANGSEL
Winternachten 2020 – Saturday Night Unlimited
I Have No Other Country than this Country
Connectedness with the fatherland, the struggle with inequality, motherhood, womanhood and aging. Are these themes from the versatile work of Antjie Krog also shared by her younger colleague Jolyn Phillips? Did Krog pave the way for a new generation? What does Phillips carry on and what does she leave behind? In a conversation with Chris Keulemans, Krog and Phillips take up their differences and similarities and lay out the future of Afrikaans-language literature.
Krog is an author of poetry collections, children’s poetry, prose and plays. She has also translated books from Dutch and English into Afrikaans. In the Netherlands, she is known for her impressive recitations during Poetry International, the Night of Poetry and Winternachten festival.
Phillips is working on a PhD in Creative Writing. She has published short stories and poems. In 2016 she had a successful debut with her English-language stories, Tjieng Tjang Tjerries, which she adapted for the stage, including music. In 2017 she followed that up with a volume of poetry in Afrikaans, Radbraak.
Tip: Antjie Krog also appears at the Winternachten New Year’s Concert on Sunday afternoon, 19 January in the Zuiderstrand Theatre: a sparkling matinee of music, poetry and spoken word with Wende, Fresku, Ellen ten Damme, Ramsey Nasr and others.