Anton Goosen, Padkos en Nieu Bethesda


Johan Rademan skryf:

Die Uilhuis

In Reis Sonder Grense, Saterdag 12 Feb 2022 tussen 10h00 en 11h00 gesels ek met met die befaamde liedjieboer, Anton Goosen. Sy musiek is soos kiekies en vang tyd, dae en dinge in sy musikale lens vas. Ek het self Koos Malgas ontmoet en uile van hom en sy kinders gekoop. Wanneer in die Kaap daarna kyk, breek dit die misterieuse Uilhuisruimte oop…

Een van sy gunsteling bestemmings is Nieu-Bethesda in die Groot Karoo. Hier vind hy sielsgeluk en vrede en ‘n besoek aan die Uilhuis is nooit uitgesluit of vanselfsprekend nie. Trouens, Helen Martins se Uilhuis met beeldhouer Koos Malgas het hom onlangs laat besluit om ‘n tuisvideo van sy Padkos-album uit 2017 te maak. Hy vertel sy storie in Reis op RSG van die uilvrou van nieu-bethesda en wie en waar die musikante wat saamspeel, was en is.

 

Anton Goosen skryf:

Nieu-Bethesda is een van my heel gunsteling dorpe in Suid-Afrika, en met elke besoek spandeer ons ‘n uur of twee in die ongelooflike Uilhuis van Miss Helen Martins waar haar en Koos Malgas se beelde o.a. uitgestal is. Die eenvoud, stilte en die gevoel weerspiëel die gees van die twee kustenaars tot vandag toe

Vir ons is dit ook ‘n moet om oor te slaap  in ”The Tower” – heel bo waar daar ‘n ronde bed is en vensters waar dit lyk asof jy omtrent enige ster kan pluk so naby voel hulle… Die dorp  het breë paaie soos hulle sê “so wyd as die Heer se genade”. Waterstroompies, donkiekarre, funky poskantoor en veral vrede.

Bethesda kom van die Hebreeuse woord wat verwys na “helende water” van ‘n poel/dam water in Jerusalem.

Helen Martins word wêreldwyd in kunskringe erken as ‘n belangrike “outsider” kunstenaar en haar nalatenskap het Nieu-Bethesda ongekende globale erkenning gegee. The Road to Mecca van Athol Fugard is oor haar geskryf.