Moet jy jou hond voorberei vir nuwe baba?


Moet ‘n mens ekstra moeite doen om jou viervoetbaba aan jou pienkvoet gewoond te maak? Troeteldierliefhebbers en -kenners, het verskillende menings hieroor.

Dr Leon Cilliers sê byvoorbeeld honde is baie meer aanpasbaar – minstens meer as katte – as wat ‘n mens hulle voor krediet gee en baie minder fanfare is nodig met voorbereidings as wat ‘n mens sou dink. Hier en daar moet mens die verandering aanhelp, maar dit is nie so moeilik soos wat die meeste mense dink nie.

Vir sommige mense is hulle troeteldiere soos hulle kinders, maar as ‘n klein pienkvoet sy of haar opwagting maak, raak die verhouding effens meer ingewikkeld.

Charlene Lackay gesels met ‘n swanger mamma, Andrea Zeederberg, oor wat sy beplan om met haar viervoetkind Winston te doen. Veearts Leon Cilliers het ook ‘n paar wenke.

Nicole Breytenbach, mamma vir Shadow (‘n maltese optelkind) en Airo (‘n wintie Whippet “met papiere”) meen ook so. In Desember maak Gabriella haar opwagting. Sy vertel:

”Airo en Shadow is my hart se punt. Onlangs het dinge bietjie verander want ek verwag ‘n baba-dogtertjie in Desember. Dit maak my nie minder lief vir my brakkies nie, maar die liefde en beskerming wat ek voel vir my kind is beslis op ‘n ander vlak!

Gelukkig weet ek dat my brakkies baie lief is vir kinders en anders om. Hulle speel altyd te lekker met my peetkind vandat hy omtrent 1 jaar oud is. Ek dink dit het baie te doen met die feit dat Locke al sy tjippies wat sy Mamma saam stuur een vir een vir hulle voer! Hulle baljaar ook heerlik met my ouer broer se kinders van laerskool ouderdom.

Sedert ek gehoor het dat ek swanger is, het ek die brakkies nie anders begin behandel nie. Ek soen hul steeds elke kans wat ek kry en bly heerlik snoesig met hulle onder die komberse.

En ek dink dis die geheim: om jou verhouding met jou honde so min as moontlik te verander sodat hul nie skielik uitgesluit of afgeskeep voel nie. Hulle is imners die twee wesentjies wat my gaan geselskap hou tydens die laatnag voedingsessies as Pappa lê en slaap!

Ek weet sommer dat Gabriella, Shadow en Airo eendag groot maatjies gaan wees, en ek is baie dankbaar vir twee sulke getroue vennote op hierdie moederskapsreis wat voorlê!”

Watter troeteldier is die beste as jy klein kinders het?

‘n Miniatuur Schnauzer

‘n Hondjie of katjie, vissie of voëltjie?  Watter troeteldiere is die beste as jy klein kinders het?

Dr. Leon Cilliers, ‘n veearts van Pretoria, vertel watter rasse eerder vermy moet word, en het wenke vir ouers oor wat hulle hulle kinders oor die hantering van troeteldiere moet leer.

Interessante feite

  • Dis belangrik dat die troeteldier liefdevol, leerbaar en hanteerbaar moet wees.
  • Honde wat die minste allergieë veroorsaak, is die miniatuur Schnauzers, worshonde en Yorkshire terriers.
  • ‘n Yorkie

    Dit is nie soseer die honderas waarna gekyk moet word vir aggressie nie, maar die hond as individu.

  • ‘n Pitbull terrier is ‘n saggeaarde ras, maar sal aggressief raak as hy heeldag vasgemaak word en uitgetart en opgestook word.
  • Vir ‘n fyn kind, is ‘n klein hondjie beter.
  • Vir ‘n sterker kind, kan selfs ‘n sterker hond soos ‘n pitbull terrier goed wees.
  • As klein hondjie aanvallerig en byterig is, nie soseer die ras nie, dan is die hond nie geskik vir kinders.
  • Let op as ‘n hond in pyn is, ongemak verduur of knorrig raak as hy ouer word. Honde in pyn is meer aggressief en moenie naby kinders wees nie.

 

‘n Pitbull terrier is nie ‘n aggressiewe ras tensy die hond aggressief gemaak word.