Clivias – ons pragtige boslelies


Kenners gesels op Oggend op RSG oor die ses spesies boslelies en die nuwe kleure wat veral in die Ooste gekweek word.

Luister hier na die gesprek in 2017, indien jy dit misgeloop het:

Eddie Mathewson, Heine Heydenrych en Clayton Jonkers vertel vir Martelize Brink by Oggend op RSG van die inheemse clivia of boslelie wat ook internasionale aanhang geniet. September is blomtyd en daar is nou skoue die land vol.

Die Clivia is ’n inheemse skaduplant wat graag pronk met helder blomme en ’n ongelooflike vertoning skep in Septembermaand, met selfs af en toe ’n blom deur die res van die jaar.

Die plant se voorliefde vir skadu maak hom ook ’n ideale huisplant, met lang, plat, donkergroen blare wat ’n koel oase in jou huis kan skep.

Clivias hou van helder lig, maar het geen direkte sonlig nodig nie en sal floreer en selfs blom binneshuis met ’n bietjie liefde en aandag. Wees egter versigtig om die plante te veel water te gee.

Clivias kom meestal voor in oranje, maar onlangse variasies in kleur en vorm is deesdae beskikbaar sodat jy nou byvoorbeeld geel, pienk, perske, appelkoos en salmpienk ook kry. Die mees gesogte Clivia is egter die groene, genaamd Hirao. Daar is ook verskeie soorte met meer blomblare as die standaardhoeveelheid.

Die plante is maklik om te kweek en doen veral goed onder bome, veral waar daar groot hoeveelhede verrotte kompos of mis in die grond ingewerk word. Maak seker die dreinering is goed en gee net die minimum water – ongeveer een keer in twee weke tydens die warm seisoen en geen water in die diep winter tussen Junie en Julie nie. ’n Klein hoeveelheid gewone kunsmis (ongeveer 5ml per plant, 3.1.5) kan in die Herfs en Lente gegee word. Maak altyd seker die kunsmis raak nie aan die plant nie en gee goed water na dit toegedien is.

Die Clivia Klub hou ongelooflike skoudae regoor die land in September. Die Kaapse Cliviaskou word op 22 en 23 September in die Tygervallei winkelsentrum gehou by die uitstalspasie naby die restaurante. Van die ander Clivia-skoue is op 22, 23 en 24 September in Port Elizabeth, 22 en 23 September op George, 28 en 29 September op Hermanus en 29 September op Mosselbaai.

Vir nog inligting oor landswye Clivia skoudae en uitstallings, gaan na www.cliviasociety.org of kontak Joy Woodward by 021 671 7384 of Felicity Wheedon by (028) 316 3092.

Besoek ‘n Clivia skou naby jou. Die Clivia skou by die Tygervallei sentrum is op 23 en 24 September.

Kontak die Kaapse Clivia klub: Felicity Wheedon by 028 3163092.

Apple Blossom

 

Longwood chimes

Die kleur is Apple Blossom

Longwood Tuine

Clivia miniata Solomone Yellow

Die groen boslelie

Clivia

Clivia miniata

Jy kan hulle in potte plant

Die kleur is morning light

Apple Pie

Clivia Nakamura Red op Babylonstoren