Luister weer: Dawid Minnaar in Chris Barnard opdragwerk


RSG vier die Sestiger Chris Barnard se 80ste verjaardag met die argiefdrama Op die pad na Acapulco, wat op Donderdag 10 Oktober om 20:00 in Radioteater uitgesaai word.

Luister hier na ‘n klnakgreep uit dié drama:

Dié radiodrama is destyds in opdrag van die SAUK geskryf ter viering van die vyftigste bestaansjaar van Afrikaanse radio. Dit is later in onder andere Engels, Frans en Serwies vertaal.

Barnard was een van die min Afrikaanse dramaturge wie se werk internasionaal opslae gemaak het. Sy ander radiodrama, Die rebellie van Lafras Verwey, is in Engels, Nederlands, Frans, Italiaans en Tsjeggies vertaal.

Op die pad na Acapulco  is die swerftog van twee mense (Simon en sy vrou, Mia) deur ’n oorloggeteisterde land op pad na Acapulco, ‘n simbool van die paradys of utopie. Die paradys bly onbereikbaar en die paartjie bly uitgelewer aan die geweld, maar die hoop hou hulle tog aan die gang.

Dawid Minnaar

Die tydlose drama word ’n skrikwekkende voorstelling van hoe magteloos die mens teen geweld is – waar vlug weg daarvan nie help nie, maar teengeweld ook nie. Simbolies bly die gewone mens dan buitestaander in sy eie wêreld, onbevoeg om gebeure te beïnvloed, maar tog slagoffers daarvan.  

Op die pad na Acapulco word in 1974 ingeskryf vir die hoog aangeskrewe internasionale Italia-prys.

Grethe Brazelle

Die spelers is Dawid Minnaar (as Simon), Gretha Brazelle (as Mia), Limpie Basson, Louw Verwey, Johan Botha, Trix Pienaar, André Rossouw, Nico de Beer en Marko van der Colff. Die regisseur is Joey de Koker.

DIE SKRYWER – CHRIS BARNARD

Chris Barnard

Chris Barnard is op 15 Julie 1939 op Mataffin naby Nelspruit in Mpumlanga gebore. Hy sou vanjaar sy 80ste verjaardag gevier het.

Hy is veral by radioluisteraars bekend om sy baanbrekersradiodrama, Die rebellie van Lafras Verwey, wat ook ‘n verhoogstuk was en later verfilm is. Hy ontvang ook ‘n erepenning vir hoorspele van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy radiodrama, Blindemol.

In die jare 60 het hy by Die Huisgenoot gewerk en was bekend om sy rubriek, Chriskras, wat ‘n paar jaar gelede tydens RSG Kunstefees uitgesaai is as ‘n volwaardige produksie met wyle Paul Eilers as die voordragkunstenaar.

As romansier blink hy uit met werke soos Mahala en later Moerland en Boendoe. Sy rolprentdraaiboeke sluit in Die storie van Klara Viljee en Paljas.

Barnard is op 28 Desember 2015 oorlede.

“Afrikaans is my enigste tuiste. Ek dink nie iemand sal dit ooit beter kan sê as Jan Rabie nie: sonder Afrikaans is ek niks. Ek is nie bereid om vir enige politieke party te baklei nie. Ek is nie bereid om vir my velkleur te baklei nie. Maar ek sal baie beslis kliphard baklei om Afrikaans te beskerm vir myself en my nageslag.” – Chris Barnard