Die olifante wat gekies het om te vergeet


Olifantkoei met kalf

Daar word baie gesê ‘n olifant vergeet nooit nie, maar dit wil voorkom asof die Addo-olifante hét vergeet van mense wat tot in die vroeë negentien honderds genadelose jag op hulle gemaak het. Noudat die Addo-olifant Nasionale Park sy negentigste bestaansjaar vier, het Mariska Spoormaker gaan uitvind of die olifante régtig vergeet het

In dié dokumentêr wat Donderdagaand 11 Maart om 20:00 uitgesaai word, vertel sy die verhaal van die Addo-olifant wat tot op die punt van uitwissing gejag is en toe op die laaste nippertjie ‘n veilige hawe in die Addo-olifant Nasionale Park gekry het.

As jy wil sien hoe die legendariese Hapoor lyk, gaan loer in by die interpretasie-sentrum in die Addo-hoofkamp. En as jy ‘n fees van olifante wil beleef, pak jou piekniekmandjie en gaan na die Hapoor-dam.

Agtergrond

Die mense sê n olifant vergeet nooit nie, maar dit blyk asof die Addo-olifante hét vergeet van mense wat in die laat 1800’s en vroeë 1900’s genadelose jag op hulle gemaak het – enersyds vir hul ivoor en andersyds omdat die olifante die omliggende sitrusboorde gestroop het.

Was dit nie vir die boer Nathaniel Harvey naby die Sondagsriviermonding wat die laaste paar verskrikte olifante in die digte ruigtes langs die rivier op sy plaas laat skuil het nie, was daar dalk  vandag geen Addo-olifant óf Addo-olifant Nasionale Park nie. Een van die park besigtigingsroetes word Harvey’s Loop genoem.

Gewoonlik bied Hapoor-dam n fees van olifante FOTO Heilie Combrinck

Vandag is daar nagenoeg 600 Addo-olifante in die park, en hulle steur hulle skaars aan die besoekers wat stilhou om hulle dop te hou. Nic de Goede, parkhoof sê hy glo nie ‘n olifant vergeet ooit nie, maar in die Addo-geval is dit meer ‘n geval van olifante wat, in die afwesigheid van jag, gewoond begin raak het aan mense en daarby aangepas het.

Benewens Harvey was daar ook twee ander belangrike rolspelers in die oorlewing van die Addo-olifant: Stephen Harold Trollope wat met die Addo-olifant parkstigting in 1931 as eerste natuurbewaringsbeampte aangestel is en sy opvolger, Graham Armstrong.

Die olifante se gespeel in die water verskaf groot kykgenot FOTO Heilie Combrinck

Trollope het die oorblywende Addo olifante uit die boorde òf met perde aangejaag of met lemoene gelok na hul veilige hawe van nagenoeg 6 000 hektaar. Maar die omheining was onvoldoende, gevolglik het die olifante bly uitbreek om die omliggende sitrusboorde te stroop en is daar dus steeds jag op hulle gemaak.

Dit was eers Trollope se opvolger, Graham Armstrong, wat na vele pogings ‘n “uitbreekbestande” olifantheining kon prakseer uit onder meer hysbak-kabels, telefoonpale en treinstawe. Dié heining is vandag nog te sien.

Die grootste legende van die park se begindae was die bul Hapoor, só genoem weens die hap uit sy linkeroor, volgens oorlewering weens ‘n jagterskoot. Hapoor was die tropleier én ‘n erg viriele bul – hy was pa van die meeste kalfies wat tussen 1944 en 1968, in die park gebore is. Die trop het van sowat 20 na meer as 50 gegroei.

Hapoor het ‘n diepgesetelde haat teenoor mense gedra. Toe hy op 44-jarige ouderdom deur Lanky sy opvolger uit die trop verdryf is, het Hapoor dit weer reggekry om uit die “ondeurdringbare” Armstrong-heining te ontsnap en moes hy noodgedwonge doodgeskiet word.

Parkhoof Nic de Goede by die afbeelding van Hapoor in die hoofkamp se vertolkingsentrum FOTO Heilie Combrinck

Vandag kan ‘n mens na ‘n gipsafbeelding van Hapoor se kop In die Ulwazi Vertolkingsentrum by die Addo hoofruskamp  kyk. Jy kan ook sy geskiedenis daar lees én n foto van hom in die fleur van sy lewe  sien.

Addo kalfie met duif FOTO Heilie Combrinck

In 2002/3 het die Addo-park ses olifantbulle van die Krugerwildtuin ingebring om die genepoel te versterk. “Ons sien kalfies met tande wat deurkom, die koeie kry tande. Benewens dit is die olifante nou baie meer bestand teen siektes,” het John Adendorff, destydse parkhoof, gesê.

‘n Interessante aspek van die Addo-olifant is dat die meeste klein tande het.

Hapoor het wel tande gehad.

Uit die laaste 11 wat in die vroeë 1900’s oor was en soos hulle aangeteel het, het net drie koeie tande gehad. By die ander koeie was tande was ressessief in die gene. Soos die trop uitgebrei het oor die jare, is daar besef die bestaande genepoel is te klein, daarom is die nuwe gene ingebring.

 

Addo-kortliks

‘n Olifant se gehoor word uitgebeeld

*In 1931 is die 6 825ha Addo-olifant nasionale park geproklameer  vir die behoud van die laaste 11 Addo-olifante. Vandag is die park nagenoeg 180 000ha groot en is daar meer as 600 Addo-olifante

*Dit is die enigste park wat met die Groot Sewe – naamlik die leeu, buffel, olifant, renoster, luiperd, groot withaai en walvis – spog. Laasgenoemde omdat die St. Croix – en Bird eilandgroepe by Addo se Woody Cape mariene bewaringsgedeelte ingesluit is.

* St. Croix en die Bird-eilandgroepe van die Addo se mariene-bewaringsgroepe is nie oop vir die publiek nie, maar die Woody Cape gedeelte met sy uitgestrekte strande, inheemse kuswoud en versteende duinekranse kan besoek word. Daar is verblyf beskikbaar by die Langebos-hutte en die unieke Umsintsi-hut wat op hoë pale in die inheemse kuswoud staan.

n Addo-olifantma en haar kalfie by Rooidam in die Addo-olifantpark FOTO Heilie Combrinck

*Benewens wildbesigtiging bied die Addo-park verskeie aktiwiteite,onder meer: nag besigtigingstoere, perdry, 4×4 roetes, voetslaanroetes, kampering en begeleide toere (

* Die Addo-park (saamgestel uit verskillende seksies) is die derde grootste nasionale park in die land

* Die gebied is malariavry

*Akkomodasie wissel tussen super-luukse verblyf, safari-tente, chalets en kampering.

* Besoek www.sanparks.org vir volledige inligting.

Jack is een van die leeus in die Addo-olifantpark FOTO Heilie Combrinck

Koedoes kom ook baie voor in die Add-olifantpark FOTO Heilie Combrinck

Die Addo zebra

‘n Rooijakkals vreet aan ‘n buffelkarkas FOTO Heilie Combrinck

Moet nooit deur enige olifantmis ry nie – daar is baie miskruiers hard aan die werk daarbinne FOTO Heilie Combrinck

RossLee Wagenaar toerismebestuurder van die Addo-olifant nasionale park FOTO Heilie Combrinck

Thando Ntamo is Addo-olifantpark se perdrygids FOTO Heilie Combrinck