Tronk van Pyn: Luister weer na die reeks


Esté de Klerk met Lucy op haar skoot en Danny Booysen

Op Donderdagaand, 28 Januarie volg die vierde episode in die reeks Tronk van Pyn.

Op 7 Januarie, om 20:00 het RSG se nuwe dokumentêre seisoen begin. Die seisoen het afgeskop met ‘n reeks van 4 episodes oor mense wat met outo-immuunsiektes lewe.

‘n Tronk van Pyn is vervaardig en word aangebied deur die Monitor & Spektrum-radiojoernalis en -vervaardiger, Esté de Klerk. Die klankontwerp vir die reeks word gedoen deur die SAUK-klankguru, Danny Booysen.

Oor vier episodes neem hulle jou op ‘n reis deur die daaglikse stryd van mense wat ly aan outo-immuun-, chroniese pyn- en chroniese moegheidsiektes, en hoe hierdie mense moeisaam, maar dapper voortbeur om aan ‘n nuwe normaal gewoond te raak.

Esté, wat aan Chrohn’s se Siekte ly, vertel ook haar eie storie oor die afgelope 13 jaar.

“Pyn en onuithoudbare moegheid sonder ‘n mens af. Dit maak dikwels jou wêreld wat eens groot en gunstig was, en vir jou geglimlag het wanneer jy soggens wakker word, klein,” sê Esté.

“Outo-immuunsiektes is so algemeen soos kanker en mense wat daaraan ly beweeg elke dag tussen jou en my. Maar jy weet dit dalk nie, want anders as kanker-pasiënte wat behandeling ontvang, lyk mense wat aan outo-immuunsiektes ly nie altyd siek nie. Die simptome waarmee hulle elke dag moet saamleef, is nie uiterlik sigbaar nie. Maar hulle veg daagliks ‘n stryd om te probeer aanpas, om te probeer voortgaan in ‘n normale samelewing. Die worsteling en uitdaging is net: sedert hul diagnose, is niks meer normaal nie. Want vir die meeste mense wat aan hierdie ongeneeslike siektes ly, verander hul lewens onherroeplik.

“Tog, veg elkeen van hierdie mense daagliks dapper teen die simptome wat dikwels soos ‘n oorlog in hulle liggame woed.

“Jou liggaam word ‘n tronk waaruit jy soms moeilik ontsnap. Talle mense het onlangs tydens die nasionale Covid-19 inperkingstydperk die eerste keer ‘n smakie gekry van hoe dit voel om van die wêreld afgesny te wees. Talle het gesê hulle voel ingehok, of ingeperk – of hulle opgesluit is.

“Maar hierdie inperking is nie die “tronk” waarvan ek praat nie. Die “tronk” waarvan ek praat gaan gepaard met ‘n opsluiting waar dit dikwels voel of daar geen uitkoms meer is nie. Opgesluit in dáárdie tronk gaan gepaard met pyn – liggaamlik en emosioneel – en ‘n isolasie so ingrypend dat die lig dikwels uitgedoof word. Maar ek het geleer om in en uit dankbaarheid te leef en voortdurend deur die storm te beur,” sê Esté.

Silezia Pretorius

In episode 4 vertel die 46-jarige Silezia Pretorius hoe sy reeds die afgelope 23 jaar lank saamleef met die outo-immuunsiektes Lupus, Scleroderma, Sjögrens en Vasculitis.

Scleroderma en Sjögrens is albei rare outo-immuunsiektes. “Jy het jou goeie dae, en jou slegte dae en dan het jy jou verskriklike slegte dae. Dit is partykeer baie moeilik op daardie slegte dae en op die slegste van dae om die positiewe in die lewe te sien – om te sien: is hierdie baklei die moeite werd? Is dit nie maar net beter om tou op te gooi nie? Dis ‘n geloofstryd, voortdurend, wat jy met die Here worstel, wat nie jy nie verstaan hoekom jy so swaar moet kry nie. Iemand wat nie chronies siek is nie, verstaan nie hoe moeilik dit net is om net uit die bed uit op te kom nie, om die paar treë na die badkamer te gee nie.”

Sy het ook talle komplikasies weens dié siektes oorleef en sê sy het, nadat sy by ‘n kruispad in haar lewe gekom het, gekies om te lewe. “Ek dink die kruis wat ek moet dra, is belangrik in konteks van wie God wil hê ek moet wees. As dit nie vir hierdie siektes was nie, sou ek nie vandag die mens gewees het wat ek nou is nie. Dis vir my belangrik dat ek nie die siekte word nie. Dat ek nie die pyn word nie.”

Luister na die vorige episodes in die reeks:

Retha Viviers

In episode 1, sê Retha Viviers wat aan die chroniese moegheidsiekte, Myalgic Encephalomyelitis (ME) ly: “Jy moet fisies afskeid neem van wie jy was. Want daardie persoon is net ‘n herinnering.”

 

Annali van Rooyen

In Episode 2 vertel die bekende liedjieskrywer en sangeres, Anneli van Rooyen hoe sy die afgelope 22 jaar stry teen die chroniese senuweepynsiekte, Trigeminale Neuralgie.

“Ek is ‘n gevangene hiervan. Ek wil nie gedefinieer word deur pyn nie, ek stry met alles wat in my is, daarteen. Maar op die ou end bestaan die lewe uit dit wat jy in staat is om te doen en ek is in staat om verskriklik min te doen. Maar ek hou aan hoop.”


Elsabe Pepler

In Episode 3 op 21 Januarie vertel die kommunikasiekunde-dosent en media-konsultant, Elsabé Pepler hoe sy die afgelope vyf dekades veg teen die outo-immuunsiektes, Ulseratiewe Colitis, Rumatoïde Artritis en Ankoliserende Spondilitis.

“Dit word, ek dink, nogal ‘n stryd tussen jou en jou Skepper. ‘n Mens wil natuurlik weet: hoekom ek? Dit is met groot opstandigheid wat ‘n mens jou elke dag onderhandel, want ek wil myself in alle opsigte soos ‘n normale mens sien wat vir dieselfde prys kompeteer.

Dit is vir my ongelooflik moeilik om te sê: ‘Ek is nie soos ander nie.’ Ek wil dit eintlik nie aanvaar nie. Ek het besef ek gaan nooit tot suksesvolle aanvaarding kom en sê: ‘Dis perfek, dis okei dat ek hierdie siekte het nie. Ek weier om dit te doen, want dan gee ek tog aan die siekte ‘n sekere outoriteit, wat ek nie wil gee nie. Baklei maar teen die siekte. ‘n Mens word moedeloos, dit word pikswart, maar baklei tog.”