Donderdagaand: “Die laaste ontsnapping”
Luister Donderdagaand na Die laaste ontsnapping deur Stefaans Coetzee en Annerle Barnard.
Die tronk is meer as net geweld, seks en dwelms. Daarom het die skrywers besluit om ʼn mens-storie te vertel.
Die storie
Lupin, ʼn gewese restauranteienaar (65), hou die rekord vir die meeste ontsnappings uit Suid Afrikaanse tronke. Hy wil nie in die tronk sterf nie, maar is te oud om te ontsnap. Hy vra vir Roux Steyn – die antiheld van sel ses – om hom dood te steek. Roux weier – hy is immers ʼn bendelid en dwelmsmous; en geen ‘assassin’ nie. Hy besluit om eerder vir Lupin te help ontsnap.
Maar in die tronk kry ʼn gevangene tot twee jaar af as hy ʼn ontsnapping rapporteer. Gaan Ludin daarin slaag om te ontsnap, of gaan Roux sy vriend doodsteek?
Die akteurs
André Odendaal, JJ Roberts, Phillru van Achterberg, Donoven Pietersen, Mortimer Williams en Cassius Davids.
Eddie de Jager het die regie behartig.

Vlnr: Eddie de Jager, Mortimer, Williams, Andre Odendaal, Phillru van Achterberg, Cassius Davids, Donoven Pietersen, JJ Roberts, Annerle Barnard en Stefaans Coetzee
Agtergrond deur die skrywers
Die meeste mense is geïnteresseer in die tronk. Die skrywers van Die laaste ontsnapping, Stefaans Coetzee en Annerle Barnard, wil luisteraars ʼn blink in daardie onbekende wêreld gee. Vyfster vir die radio.
Tronk is egter meer as geweld, seks en dwelms. Daarom het die skrywers besluit om ʼn mens-storie te vertel.
Die laaste ontsnapping is losweg gebasseer op die lewens van werklike karakters. Dit gee ‘n blik op oomblikke aan die binnekant wat andersins vir die gene aan die buitekant onrealisties en verregaande sou wees. Sonder om te veel te verklap ontbloot die storie leefstyle, ontsnappingstegnieke, aktiwiteite vir ontspanning en die intrige van verhoudings om persoonlike doelwitte te bereik.
Die tragedie lê in die tweestryd tussen binne en buite. Hoe gemaak as jy uit is? As jy nie meer gewoond is aan dit wat buite is nie bly daar net ‘n paar opsies oor.
‘n Korrektiewe fasiliteit is ‘n ander wêreld. Dit kan nie met die gewone, alledaagse lewe vergelyk word nie. Elke gevangene leef in sy of haar eie wêreld met ‘n unieke realiteit. Dit moet nie ‘n verrassing wees om ‘n opgespeelde klavier of ‘n ketel in ‘n slaapsaal op te merk nie. Luukshede word bekom deur fyn beplande besoeke en gunsies in ruil vir iets.
Luister Donderdagaand 19 Junie om 8 uur op RSG of rsg.co.za asook op potgooi na afloop van die uitsending en op Spotify.