Luister weer: ‘n Riller oor die uitwerking van beurtkrag


Luister Donderdag 12 Oktober net na 20:00 na die drama Beurtkrag.

Die drama gaan oor die uitwerking wat talle struikelblokke in die moderne samelewing op mense, deesdae almal slagoffers van een of ander aard het. En die bydrae van beurtkrag tot die trauma. Die drama gaan dus nie oor mense wat sommer net geterroriseer word nie. Dit strek veel, veel dieper as dit. Dit gaan oor hulp.

Luister wat op jou wag:

 

Die karakters en akteurs

KARAKTER AKTEUR
1. MILLIE Bettie Kemp
2. ALBERT Antowan Nothling
3. ZANDER Luan Jacobs

Luister na die volledige drama:

Die storie

Antowan, Bettie en Luan in die ateljee. Agter is die Beurtkrag produksiespan.

Albert beman bedags (en soms snags) ‘n noodlyn waarheen mense hom en sy span skakel indien hulle ‘n krisis het.

En beurtkrag veroorsaak meer trauma as wat besef word. Om die waarheid te sê, dit word onderskat. En kring wyer uit na mense se persoonlike lewens wat dan om berading aanklop.

Die probleem is die tradisionele vraag- en antwoordsessie help nie altyd nie. Veral nie in hierdie geval nie.

Millie is ‘n kliniese sielkundige wat daagliks met mense werk wat emosionele nood ervaar of nie meer raad met hulleself het nie. Veral beurtkrag, wat tot vermoeidheid, frustrasie en woede lei, dra toenemend hiertoe by omdat daar geen hoop op verbetering is nie.

Maar hoe behandel ‘n sielkundige hierdie probleem sonder om die “alles-sal-regkom”-cliché te verval? Want dit is nou reeds duidelik dat alles nie gaan regkom nie.

Regisseursvisie deur Leon van Nierop

Wat Beurtkrag ‘n ekstra dimensie gee, is dat daar ook mense is wat hierdie uitblok van lig en elektrisiteit, wat almal ervaar, misbruik. Wat juis in die donker toeslaan as niksvermoedende huiseienaars dit die minste verwag.

Die egpaar het ‘n jongman, Zander, ingeneem wat vir ‘n week lank by hulle sal loseer tot tyd en wyl sy nuwe verblyf uitgesorteer is. Wanneer hy die aand opdaag na ‘n vrugtelose werksoekery, skop beurtkrag in en sit drie mense vasgekluister in ‘n eensame meenthuis in ‘n kompleks wat nog nie klaar gebou is nie.

Wat daardie aand met hulle gebeur, verander hul lewens, en siening van hulp en raad aan mense met sielkundige afwykings, vir altyd.

Die beurtkrag produksiespan, Frikkie Wallis, Dipalesa Motau en Leon van Nierop

Leon van Nierop en die byklanke-operateur, Frikkie Wallis, eksperimenteer hier met klank. Omdat die luisteraar inderwaarheid ook “blind” is, speel geluide soos krakerige trappe, bokse wat ineentuimel waarin kombuisgereedskap nog gestoor is, en ander toebehore wat bydrae tot die spanning.

Elke byklank word ‘n karakter wat as terrorisme-metode aangewend word, of dalk ‘n uitkoms bied. En die regisseur en byklanke-operateur het hierdie byklanke spesiaal in ‘n ou huis gaan opneem om die presiese regte effek te kry.

Die spelers en regisseur

Die hoofkarakter is beurtkrag wat soos donker ink deur die huis vloei. En die sielkundige effek wat dit op ‘n huwelik het.

Dit alles word hoofsaaklik in klank weergegee in ‘n drama wat klank volledig as radio se beste vriend, aanwend.