Luister weer: ‘n Vondeling bring vreugde en vergifnis


Aan die vooraand van Kersfees handel Donderdag, 22 Desember se radioteater oor ‘n baba wat mense bymekaar bring en leer van vergifnis.  Vondeling, deur Liesl Bekker, is die voorlaaste drama van die huidige seisoen, en was ‘n finalis in die 2021 Radiodramaskryfkompetisie.

Die storie
Jerome Fortuin (Dean Balie), nuut aangestelde voorman op die deftige en welgestelde Mildred Malan (Susanne Beyers) se kleinhoewe, maak vroegoggend ‘n rare vonds wat hy versigtig versteek. Hy probeer vir homself ‘n nuwe lewe skep na traumatiese kinderjare in ‘n kindersorgsentrum en ‘n onverdiende botsing met die gereg.

Tydens ‘n storm een nag, ontdek Mildred die versteekte verrassing en hy smeek haar om sy geheim te bewaar. Sy willig teësinnig in en ‘n ongewone vriendskap ontwikkel tussen hulle. Soos die waarheid ontvou kry albei beter begrip en insig in die polariteite van mekaar se wêrelde en sienswyses.

Dit is egter nie so maklik om van ‘n mens se verlede te ontsnap of stereotipes te besweer nie. Na ‘n ongelukkige voorval op die werf, verloor Jerome sy werkgewer se vertroue, sy nuwe lewe en sy kosbaarste vonds.  Maar Mildred verloor ook haar rigiede denkwyses en saam ontdek hulle die pyn van verwerping en verraad en die hoop wat vergifnis bring.

Die karakters

Jerome Fortuin (vertolk deur Dean Balie)
Jerome is in sy vroeë twintigs. Hy was in pleegsorg en kinderhuise van sy geboortedag af. Hy is intelligent, beleefd, verantwoordelik en emosioneel baie volwasse.

Mildred Malherbe (vertolk deur Susanne Beyers)
Mildred is in haar sewentigs, bly nog vrou-alleen op haar plaas. Sy is trots, hardkoppig, krities, suinig en baie deftig. Sy is afsydig op ‘n manier wat mens weet met pyn in haar verlede te make het.

Alexa Malherbe (vertolk deur Lindie Stander)
Alexa is Mildred se dogter. Sy is vyf-en-veertig, ‘n platjie en ‘n rabbedoe. Sy het ‘n warm, gemoedelike persoonlikheid.

Shariem Mogamat (vertolk deur Marlo Minnaar)
Shariem is ‘n ou kennis van Jerome. Hy het ‘n kriminele agtergrond en hy is opportunisties en onderduims.

Thelma Jeftha (vertolk deur Lee-Ann van Rooi)
Thelma is ‘n maatskaplike werker. Sy doen haar werk effektief en empaties.

Tegniese versorging is behartig deur Cassi Lowers.

Die Vondeling span en Cassi. Agter v.l.n.r. agter Dean Balie, Marlo Minnaar en Frieda van den Heever; voor Lindie Stander, Lee-Ann van Rooi en Susanne Beyers.

Lindie Stander & Susanne Beyers

Regisseursnota deur Frieda van den Heever

Frieda van den Heever

Vondeling is een môre in November 6:00 in Seepunt se ateljee opgeneem om tussen almal se besige skedules geskep te word. Die akteurs (mag ek sê: van ons beste!) was uitstekend voorbereid en het hulself elkeen in die rol ingegooi. Dit was ‘n voorreg om met hierdie hartroerende verhaal en teks waarin Liesl Bekker haar hart gestort het, te kon omgaan en die proses te begelei. Ek wens mense kon sien hoeveel vreugde geput word uit so ‘n dag van saamwees, planne maak, geluide skep, uit ons mae uit lag vir mekaar, swaar goed rondskuif, wonderlike werk doen, blapse begaan en aangaan en dan, opnuut geïnspireerd, die ateljeedeur toemaak en groet tot ‘n volgende keer. Om stories die lug te laat sien, is ‘n wonderlike werk.

Oor die skrywer

Liesl Bekker

Die skrywer, Liesl Bekker, is ‘n opvoedkundige sielkundige en haar groot passie is om te inspireer, te motiveer en te bemagtig deur woorde en metafore.

Sy het ‘n verterende obsessie. Simbole en metafore betower haar.  Skryf dompel haar in ‘n magiese woordwêreld waar sy ure kan wroeg oor die perfekte simbool, presies die regte woord. Die soektog na ‘n naam vir haar geheime skryfwolk  Aljander.com het haar nagte in fanatiese afsondering gehad.  Sy is versot op stories en sprokies.  As kind was Siembamba haar wegkruipplek en tussen Jakkals en Wolf en Liewe Heksie se wedervaringe deur het sy klippe omgedop opsoek na proviant vir die feetjies en goggas wat sy in haar kartontassie aangehou het.

Die feetjies het intussen ontsnap (sy het nog die tassie, ingeval hulle terugkom). Deesdae is dit woorde en drome wat sy omdop in plaas van klippe op soek na die simboliek agter die sigbare realiteit. Sy het ‘n intense belangstelling in alles Jung, drome, sprokies en die menslike psige. As opvoedkundige sielkundige is haar groot passie om te inspireer, te motiveer en te bemagtig deur woorde en metafore. Stories het vir haar ‘n helende krag.

Liesl het onlangs werkswinkels aangebied vir 200 maatskaplike werkers en deur hulle hoor sy die pyn wat ‘n gevoel van waardeloosheid bring vir die kwesbares in ons samelewing.   Sy is ook gekonfronteer met haar eie kindertydtrauma waar sy die onbaatsugtige ondersteuning van maatskaplike werkers ervaar het. Deur hulle het sy haar waarde en Italiaanse wortels ontdek. Hulle is die onbekroonde helde van ons samelewing wat net so dikwels ook nie na waarde geag word nie.

Hierdie storie het baie raakpunte met haar eie lewensverhaal en die skryf hiervan het vir haar heling gebring. Sy hoop dit kan dalk vir ander ook iets beteken. En sy dra dit op aan al die Jeromes, maatskaplike werkers en jeugwerkers in ons land.

Lee-Ann van Rooi & Dean Balie

Dean Balie & Marlo Minnaar

 

Die Vondeling span. Agter v.l.n.r. agter Dean Balie, Marlo Minnaar en Frieda van den Heever; voor Lindie Stander, Lee-Ann van Rooi en Susanne Beyers.