RSG by Khaya op US Woordfees


RSG is by die Khaya in die kern van die Woordfees op Stellenbosch. Bly op die hoogte van aktuele sake met die volgende regsteekse uitsendings:

  • Kommentaar (8 Maart 20:00 – 21:00)
  • Monitor (9 – 13 Maart 06:00 – 08:00)
  • Praat Saam (9 – 13 Maart 08:00 – 09:00)
  • Spektrum (9 – 13 Maart 13:00 – 14:00)
  • Naweekaktueel (14 Maart 12:00 – 13:00)

Johan Rademan, Martelize Brink, Haidee Muller en Magdaleen Krüger is ook daar met spesiale uitsendings op:
Sondag 8 Maart (10:00 – 12:00) en
Saterdag 14 Maart (10:00 – 12:00).

Kom ervaar ‘n stukkie van Stellenbosch saam met Johan Rademan en RSG by die Woordfees, Saterdagoggend, 14 Maart tydens ‘n regstreekse uitsending waar kultuur, kos, wyn en landbou die bestanddele vorm.

”Ons sal soms met intiemer tongval praat;

kerriekos eet, varkrib en bruin wildsbraad,

souskluitjies met kaneel, gesproete pannekoek.”

Uit: Grondstowwe by die siklus van seisoene – DJ Opperman

Komaan,  lig jou kop van die kussing en sluit gerus aan of skakel in Saterdagoggend 14 Maart 2020 tussen 10h00 en 12h00 met Johan Rademan en Ignatius Vlok. (As bonus kom RSG-Landbou met Eloïse Pretorius ook tussen 11h30 en 12h00 aan die beurt)

Enkele hoogtepunte van RSG se program op Saterdag 14 Maart tussen 10:00 en 12:00

‘n Koskultuurerfenis wat fynproewers oor die wêreld heen lok, en in parstyd die geleentheid skep vir ons geliefde Mosbolletjies.

Hetta van Deventer Terreblanche en Elise Viljoen gesels oor die geskiedenis van mosbolletjies en hoe dit gebak word.

Pompies en Hempies en die res van die wêreld

Dok Craven se nalatenskap in ‘n verdeelde Suid-Afrika. Pompies en Hempies kom deel twee gesamentike liefdes – Wyn en Rugby. Ja, dit is John “Pompies” Williams wat destyds saam met Chester Williams se pa William Williams in ‘n lostrio legendariese wedstryde saam gespeel het.

Pompies is veral bekend vir sy ambulansdrie en Hempies du Toit, wat ook saam met Pompies ‘n paar wedstryde gespeel het skerts en gesels saam.

Hempies kon nie net die skrum anker vir Suid-Afrika nie, maar lewer ook as wynmaker, stewige hoog gewaardeerde rooiwyne, terwyl Pompies ‘n ywerige bemarker van Stellenbosch se grootste uitvoerproduk is.

“Een winkeltje van sinkeltje” het die Nederlandse joernalis Benno Wouters Oom samie se winkeltjie genoem:

Die beminde oom Samie het die Algemene Handelaar (S.J. Volsteedt) in Dorpstraat van 1904 tot met sy dood in 1944 besit – en nou  leef hy voort danksy die passie van een van die omgewing se bekendste inwoners, Annatjie Melck.

 Ons ontdek die werklike oom Samie van Oom Samie se winkel en praat met die destydse Stellenboschfynproewersgilde voorsitter, Annatjie Melck oor die stukkie geskiedenis. Annetjie se suster is met die geliefde Mannetjies Roux getroud en daar is ook ‘n interresante skakel hoe hulle met oudhede gesmous het.

Klein bietjie wyn, vir my en ook vir jou…

Jacques van der Merwe van die WWF gesels oor die bewarings kampioene sertifisering van wyne (toevallig ook die wyn wat Pompies Williams bemark).

In Vino Veritas …ook wanneer musiek begin speel!

Die kunstenaars is Koos van der Merwe wat langs die Kruiskerk, oorkant Wilgenhof (waar Dr Craven inwonende hoof was) by die Khaya onder die platane ons in Afrikaans na die nostalgiese eras van Leonard Cohen en Bob Dylan sal terugvoer. Menige jong student destyds se ontvlugting in woorde en filosofiee van die gerekende sanger/skrywers. In wyn, so glo baie van hulle, is waarheid

Kyle Seccona en André Terblanche span ook saam om die liriese kwaliteit van sang uit die Eikestad dmv RSG dwarsoor die aardbol te neem.

“Wanneer jou kop sy reglê op die kussing soek,

raas die Eersterivier harder en vol,

en in jou word die klippe ronder omgerol.”

Uit: Grondstowwe by die siklus van seisoene – DJ Opperman