Luister weer: Jambo, jambo Kenia!


Terrance April neem ons in sy dokumentêr JAMBO, JAMBO KENIA op 11 Augustus op ‘n kort besoek aan die suidoostelike hoekie van Kenia, ‘n land aan die ooskus van Afrika.

Kenia, aan die ooskus van Afrika, het ‘n ryk geskiedenis. Oorblyfsels van vroeëre beskawings in die land se suidoostelike deel, kan vandag nog duidelik gesien word. Die land spog ook met pragtige natuurskoon. Benewens die bekende wildreservate is daar pragtige spierwit strande langs die ooskus. Kyk na dié land deur die oë van ‘n paar Suid-Afrikaners wat daar woon en werk, asook van die gidse by historiese plekke soos die Jesusfort in Mombasa en die Mnarani-ruïnes. Jambo beteken hallo, en die gebruik is dat die woord herhaal word om die hartlikheid van die groet te beklemtoon.

Die Kilifi see-inham aan die suidooskus van Kenia

Dit is die gebied rondom Mombassa, een van Afrika se grootste hawens. “Jambo” is ‘n  Swahili woord wat “hallo” beteken. In Kenia word dit twee keer namekaar gebruik en dui op ‘n hartlike groet of verwelkoming.

Mombassa is ook ‘n baie ou stad met ‘n geskiedenis wat baie seer en pyn ervaar het. Dit was deur verskeie groepe beset terwyl die oorgrote meerderheid plaaslike bevolking as slawe gedien het. Dit is eers deur die Portugese beset, waarna die Arabiere uit Oman dit vir ‘n hele aantal eeue bestuur het.

‘n Bekende baken in Mombassa: die twee pare olifanttande – ter herdenking aan die besoek van Koningin Elizabeth II aan Kenia in 1952

Die Britte en die Duitsers het dit later oorgeneem totdat Kenia in 1963 onafhanklik geword het. Die geskiedenis word baie goed saamgevat in ‘n besoek aan ‘n besonderse baken in Mombassa, die JESUS FORT. In die program word die betekenis van die fort uitgebeeld asook die struktuur daarvan.

Die bekende Jesus Fort in Mombassa

Kenia is ook bekend vir sy natuurskoon en ons hoor meer oor die pogings wat aangewend word om inheemse plante en bome te bewaar, veral in die Haller Park, net buite Mombassa. Dit is baie anders as die bekende wildreservate wat in die Skeurvallei van die land voorkom, en waar die fokus meer op die dierelewe is. Lawrense, ‘n gids lei ons deur die park en wys die bewaringspraktyke uit.

Geboue in die “ou stad” van Mombassa beeld die argitektuur van vroeëre jare uit

Toerisme is een van Kenia se belangrikste bedrywe en die Kilifi see-inham, met sy oorde help om dit aan die suidooskus van die land te bevorder. Daar sal jy van Afrikaanssprekendes in die bedryf kan hoor, en hulle vertel wat maak die land en sy mense so spesiaal.

Van die Suid-Afrikaners woon al 12 jaar daar en wil dit vir niks verruil nie.

Islam is die prominente geloof in Mombassa en omgewing en kleurvolle moskees kan in omtrent elke straat gevind word

Net buite die inham is daar ook ruïnes wat getuig van die vroeëre bestaan van verskillende groepe wat daar gewoon het.

Een van die gidse verduidelik ook meer oor die gebruike van veral die plaaslike bevolking en oor die rol wat die Islam geloof in die gebied gespeel het, en steeds vandag speel.

‘n Pilaar as deel van die ruïnes van Mnarani, in die omgewing van die Kilifi see-inham

‘n Toneel uit die vliegtuig van die twee hoogste bakens op die grens tussen in Kenia en Tanzanië: Kilimanjaro en Berg Kenia.

JAMBO, JAMBO KENIA word op 11 Augustus 2022 om 20:00 uitgesaai. Terrance April is die samesteller en verteller.